“want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”
(Open 6:17, OAV)
Jesus het die buffer geword om God se toornvuur van geregtigheid in totaliteit in die plek van ons as sondaars te ontvang. Inderdaad is dit waar wat Rom 5:9 sê: ons word deur Hom gered van die toorn van God.
Rom 9:22 laat ons verstaan dat God nog nooit in die verloop van die geskiedenis sy totale toorn uitgestort het nie. Die Skrif praat dan profeties van “die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” As mens jou op Sef 1:14-18 as heenwyser van die dag sou beroep, is dit allerverskriklik: “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag, ‘n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings. En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek. Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ‘n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.”
Op verskeie plekke word dieselfde desperate vraag geuiter: “U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het?” (Ps 76:7); “Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” (Joël 2:11).
Baie mense dink daaraan as ‘n dag wat nog moet kom, maar hierdie verskriklike dag van die Here het sy totale woede laat manifesteer bykans tweeduisend jaar gelede – op die kruis op Golgota. Vir daardie offerproses het God Jesus tot sonde gemaak (2 Kor 5:21). Hý het die sametrekking geword van die ganse sonde van die ganse wêreld, alles wat in die verlede, hede en selfs die toekoms God ten diepste offend het; Hy het die totale verlatenheid en afskeiding van God, die volheidsmaat van siekte en straf, ongeregtighede en oortredinge, die totale straflas wat die Bose op die mens en die aarde gelê het, die totale duisternis van die koninkryk van duisternis, alles, alles op dié verskriklike dag en uur op Hom gelê. “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak …” (Jes 53:10), “to crush Him with pain” (Message). “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb 10:39)
Ons het net ‘n vae vermoede wat alles in daardie allerverskriklike beker van lyding was wat Hy moes drink (Mat 20:22); Hy het vir elke mens, vir my en vir jou, die dood gesmaak (Heb 2:9). “Ploeërs het op my rug geploeg; hulle het hul vore lank getrek.” (Ps 129:3). Die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom (Jes 53:10).
Ja, wat ‘n vriend het ons in Jesus – Hy wat in ons plek kom staan.
- Sela: Probeer Jesus se kruisdood vir jou persoonlik verstaan.
- Lees: Amos 4-6
- Ondersoek die vervulling: Amos 5:18 (Wenk: Mark 15:33).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Gemeenskap aan Sy Lyde.