“For our sake he made the sinless one a victim for sin …”
(2 Cor 5:21, NJB)
Rom 5:9 sê: ons word deur Jesus gered van die toorn van God – Jesus het die buffer geword om God se toornvuur van geregtigheid in totaliteit in die plek van ons as sondaars te ontvang. Die totaliteit van God se ontbranding teen die sonde, ongeregtigheid en die oortredinge, rondom die Koninkryk van duisternis en alles wat God teengestaan is, het op Jesus neergekom.
Dit het die verskriklike dag van die Here geword waaroor al die Ou-Testamentiese profete van geprofeteer het. Aan die kruis op Golgota het God sy Seun tot sonde gemaak (2 Kor 5:21).
Onthou waarmee het die Ou Verband afgesluit? Mal 3:2 – “Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.”
Daar was geen uiterlike vuur op die dag van die kruisiging nie, maar Jesus se woorde oor die doel van sy koms moes nou ‘n aanvang neem: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” (Luk 12:49). Hoe gaan dit gebeur? Die daaropvolgende verse verduidelik hierdie kondisie van die vuuroond (Mal 4:1) wat gaan volg na sy kruisiging: “Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder. En Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?” (verse 50-56).
Hier is duidelik NIE sprake van ‘n oordeel eendag met vuur nie, nee. Dit is ‘n proses waardeur geloof “deur vuur gelouter word” (1 Pet 1:7). Dit is in hierdie tyd dat ons ander mense “met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk” (Jud 1:7). Geeneen van hierdie Skrifte praat óf van ‘n letterlike vuur óf van oordeel eendag nie. Dit is oor hierdie tyd wat Jes 4:4-5 geprofeteer het: “as die Here die onreinheid van die dogters van Sion afgewas en die bloedskulde van Jerusalem daaruit weggespoel het deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging. Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag …”
In hierdie “bedekking”/woonplek van vuur (= vuuroond) “werp” Jesus sy vuur op die aarde. Hóé Hy dit doen, behandel ons in die volgende manna.
- Sela: Vra die Heilige Gees om jou manier van dink oor die saak met vuur te toets.
- Lees: Amos 7-9
- Ondersoek die vervulling: Amos 8:11 (Wenk: Joh 4:10 en Joh 6:35).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Totale Nutteloosheid van Godsdienstige
Gebruike in God se enigste Verterende Passie