Dag 699-700

 

“Ek het gekom om vuur op die aarde te werp …”

(Luk 12:49a, OAV)

Hoe werp Jesus vuur op die aarde?

In hoofstuk twee van die boek van Handelinge kry ons die eerste manifestasie van die transmutasie van vuur wat Jesus oor geprofeteer (en begeer) het. Op die dag van die pinksterfees is daar ‘n byeenkoms van 120 gelowiges, die geluid van ‘n geweldige rukwind word gehoor, en dit vul die hele huis waar hulle gesit het. “Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.” (Hand 2:3).

Omdat ‘n vergelyking gebruik word: “tonge soos van vuur”, kan dit klink of die Geesmanifestasie bloot soos vlamme gelyk het, maar nie vlamme wás nie. Albert Barnes’ Notes on the Bible verduidelik die letterlikheid van die vlamme op elke persoon se kop soos volg: “In this place the name tongue is given from the resemblance of a pointed flame to the human tongue. Anything long, narrow, and tending to a point is thus in the Hebrew called ‘a tongue.’ The word here means, therefore, ‘slender and pointed appearances’ of flame.” Op ‘n nader plek in die Ou Testament word dit eksplisiet as “vuurtong” uitgewys: “Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak …” (Jes 5:24).

Wat was die gevolg van hierdie “werping” van vuur op die aarde? Die eerste vrugte van die nuweverbondsvuur het die 120 ontvangers bonatuurlik bemagtig om die strate van Jerusalem in te vaar en die heerlike evangelie van redding te bring. Jesus het in Hand 1:8 hulle immers belowe: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde”. Die gevolg hiervan? Dié wat die woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag drie duisend mense tot die koninkryk van God toegevoeg (Hand 2:41).

Die doping met die Heilige Gees en die doping met vuur wat vir die eerste keer in die geskiedenis op Pinksterdag plaasgevind het, het die 120 gelowiges tot 300 vermeerder! Die vuur op die aarde het meegebring dat God se heerskappy op die aarde vermeerder het, volgens die profesie oor Jesus in Jes 9:7. Hierdie is die eerste duidelike manifestasie van hoe Jesus vuur op die aarde kom werp het. Jesus is immers die Doper met Gees en vuur, sê Mat 3:11.

Hierdie gebeurtenis staan in direkte parallel met ‘n gebeurtenis in Eks 32:28, toe die wet van God (as verbond) aan Israel op ‘n brandende berg gegee is. In Heb 12:18-21 word ‘n soortgelyke skrikwekkende gebeurtenis (sien Eks 19:12-19; 20:18) soos volg oorvertel: “Want julle het nie gekom by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie— want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder.”

Tydens die gebeurtenis in Eks 32:28 is drieduisend mense verswelg deur Yahwe se “verterende vuur” (Eks 24:17).

In die Ou Verbond het die vuur dus mens, dier en aarde letterlik verswelg. In die Nuwe Verbond, nadat Jesus die helse straf op Hom geneem het, is daar ‘n presiese teenoorgestelde aksie wat gebeur – die oordeel is afgeweer en die vuur gee gestalte aan God se openbaarmaking van wat waar is en wat vals is. Immers – alles sal in hierdie bedeling met vuur getoets word, en dit wat “nie-God” (Deut 32:17 & 21) sal verteer word: “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.” (1 Kor 3:12-13).

Albei gebeure in albei verbonde het verseëlings meegebring wat met vuur getoets is. Die ou verbond se vuurtongverseëling op die berg het met vrees, wraak en dood gepaard gegaan. Die nuwe verbond se vuurtongverseëling in die bovertrek het vryheid gebring, vergifnis en Lewe.

Hierdie parallel tussen vuur in die ou en die nuwe verbond is ontsaglik belangrik en meesprekend tot die verstaan van die verletterliking, al dan nie, van vuur in die bedeling ná Jesus se dood en opstanding. In ‘n sin word dit mooi saamgevat deur die profetiese woord van Sag 13: 9: waarin dit wys dat die oorblyfsel van die nuwe verbond altyd met vuur getoets sal word: Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!”

Helaas vermeng gelowiges steeds die twee verbonde, en derhalwe is daar baie vreemde vuur in ons verhouding met God. (Later in detail meer hieroor.) Om hierdie rede het ons steeds ‘n Ou-Testamentiese manier van dink – ons wil soos Petrus diégene wat ons teenstaan se ore afkap, hulle wat nie soos ons glo nie, tot die hel verdoem, en soos Johannes en Jakobus soos twee wafferse Ou-Testamentiese Elias vuur afroep op die Baälprofete en ander Samaritaanse dissidente: “En hulle (die Samaritane) het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was. En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het? Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red.” (Luk 9:53-56).

Ons moet dit nou vir eens en vir altyd verstaan, dit wat Jesus eweneens onteenseglik duidelik op verskeie plekke, sonder uitsondering, uitgespel het –

  • “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (Luk 19:10);
  • “Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.” (Mat 11:18);
  • “En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.” (Joh 12:47);
  • “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan” (Joh 3:17); en
  • “Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Joh 10:8-11).

Die dief is NIE Satan soos wat ons deur die oorlewering geleer is nie. Vers 8 in die aanhaling hierbo maak dit duidelik “wie” dit is – almal wat vóór Jesus gekom het, met ander woorde die ou verbond. Ons durf nie langer die ou en die nuwe verbond se transmutasie van vuur deurmekaarklits nie – dit roof by ons die lewe en oorvloed. Ons moet weet van hoedanige gees ons is.  Gees van sy Gees en vuur van sy verterende vuur. Sela.

 

  • Sela:  Verduidelik aan iemand Luk 12:49.
  • LeesJona 1-4
  • Ondersoek die vervulling:  Luk 11:32
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se lering: Waarom kan ons nie doen wat Jesus gedoen het

                                nie?