Dag 703

 

“wat van die winde sy boodskappers maak,

van vuurvlamme sy dienaars”

(Ps 104:4, OAV)

In die vorige Mannas het ons begin kyk na die eerste twee wyses waardeur Jesus vuur op die aarde begin werp het: deur die Heilige Gees asook deur die Heilige Gees se ‘oopmaak’ en verspreiding van die Woord van God.

Die derde wyse waarop Jesus die vuur op die aarde kom aansteek het, word in Ps 104:4 poëties geprofeteer – “he makes his messengers winds, his ministers a flaming fire” (ESV). Die Rotherham-vertaling haal die metafoor uit wat ons dié vers miskien net simbolies sou kon laat lees: “Making His messengers, winds, His attendants, a flaming fire …”

Die groot opdrag wat Jesus aan sy dissipels en volgelinge in Mat 28:19 gegee het, het ‘n baie duidelike aktiewe missionêre karakter gehad – “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle …” In Mark 16:15 word dit meer eksplisiet en dringender gestel: “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” En dan lees ons ‘n paar verse later in vers 20: “Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.”

Duidelik het die apostels en die ander volgelinge verstaan wat Paulus in Rom 10:14-15 uitgespel het: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”

Hulle het geweet die vuur wat in die Woord en die Blye Boodskap gesetel is, moes deur menslike vuurvlamme aangesteek word. Daarom vind ons in Luk 24:47 dat die dissipels “bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig  … aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.” Soos tyd verloop het, het die woord vanweë die ywer van die Here soos wilde vuur versprei, wat die volgelinge as ‘t ware verteer het. Kyk byvoorbeeld na Paulus en Silas wat gegryp is en na die mark voor die owerheid gesleep is, voor die regters gebring is, en van wie hulle vervolgers toe sê: “Hierdie manne bring ons stad in opskudding … Want ons het gevind dat hierdie man ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners …” (Hand 24:4-5). Inderdaad: “En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer.” (Joh 2:17).

God se gestuurdes word vuurvlamme wat deur die wind van die Heilige Gees oor die hele aarde gewaai word om die evangelie te bring. Party verkondig nog die evangelie van redding, en dis goed en belangrik, want God “wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet 3:9). Ander verkondig “met geweld” die evangelie van die koninkryk van God (Luk 16:16), en die heerlikhede van die tweede dimensie, en dis eweneens reg so. En ander is geroep om die eindtydbruid wakker te maak terwyl sy nog in die identiteit van die vleeslike eerste Adam slaap (Dan 12:2-3), haar te leer van die derde dimensie en haar aan die brand te kry vir die evangelie van die heerlikheid (2 Kor 4:4) – dit is die evangelie wat uiteindelik die ganse aarde sal oordek (Seph 3:18) soos die waters van die see (Hab 2:14)!

 

  • Sela: Is jy aangesteek as ‘n vuurvlamgestuurde?
  • Lees: Nahum 1-3
  • Ondersoek die vervulling: Nah 3:7 (Wenk: Open 18:16-19)
  • Delf dieper: Lees Margaret Magdalen se Furnace of the Heart.