Dag 706

 

“die elemente sal brand en vergaan”

(2 Pet 3:10, OAV)

God is ‘n verterende vuur, en soos Hy is, só is die Bruid in die wêreld (1 Joh 4:17), het ons in die vorige Manna gesê. Soos die Bruid as lewende vuurwoorde gespreek word “deur die mond van God” (Mat 4:4), word die woorde in hulle mond vuur wat alle rebellie en ongeregtigheid sal verteer (Jer 5:14). Die Bruid word die woorde van vuur in ‘n wêreld van vleeslike hout, hooi en strooi. Maar weer is dit ‘n metafoor –wat presies verbrand die Bruid dan as vuur van Christus op die aarde?

In die jaar 65 n.C. skryf Petrus sy tweede sendbrief. Die persone aan wie die brief geadresseer is, word nie gegee nie. Tog is daar redelike konsensus onder Bybelwetenskaplikes dat dit geskryf is aan Christene uit die Jodedom. Die brief waarsku oorwegend teen ‘n Joods gekleurde dwaalleer (Bybelse Ensiklopedie). As Petrus hierdie brief skryf, is dit binne die profetiese tyd van 70 n.C. toe die Joodse tempel op grond van Jesus se profesieë vernietig sou word (Mat 24:34). Hierdie vernietiging van Jerusalem het ‘n einde gebring aan die totale Levitiese priesterskap. As Petrus hier profeteer oor die komende tyd wat “die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Pet 3:10), is ons gekondisioneer om dit apokalipties (in die Hollywood-styl en nie in die regte sin van die woord nie) te interpreteer.

Die woordjie wat in die sin hierbo as “elemente” vertaal word, is in Grieks stoicheion, wat net sewe keer in die Nuwe Testament gebruik word. Benewens die twee keer wat dit in die boek 2 Petrus gebruik word, het dit ‘n duidelike koherente betekenisreikwydte waar dit in Gal 4:3, 4:9, Kol 2:8 & 20 en Heb 5:12 gebruik word. Volgens die New American Standard Exhaustive Concordance verwys die woord na: “one of a row, hence a letter (of the alphabet), by ext. the elements (of knowledge): – elemental things (2), elementary principles (2), elementary *(1), elements (2), principles (1).” Strong’s: “something orderly in arrangement, that is, (by implication) a serial (basal, fundamental, initial) constituent (literally), proposition (figuratively): – element, principle, rudiment.” Dit is afgelei van die wortelwoord stoicheō, wat deurgaans gebruik word om te dui op ‘n mens se geestelike wandel, “a figurative sense of walk, or engaging in a particular way of life” (Expository Dictionary of Bible Words, p. 1023). In elke Skrif waar dié woord voorkom, Hand 21:24, Rom 4:12, Gal 5:25 en Fil 3:16, word dit eksplisiet gebruik as ‘n simboliese term wat dui op die manier van loop, letterlik  a spiritual gait.

Petrus praat dus gelykluidend met die gebruik van hierdie term van prinsipes, fondamente, regerings, ordelike wêreldse sisteme, of soos Paulus dit elke keer in sy briewe noem “eerste beginsels”! Gal 4:9b skets die konteks van die gebruik van hierdie woordjie baie duidelik: “hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?” Die woord word dus gebruik vir die elementêre godsdienstige beginsels. Petrus profeteer dat met die sekere koms van die val van Jerusalem in 70 n.C. sal hierdie Ou Testamentiese beginsels verseker met vuur getoets word.

 

  • Sela: Probeer die res van 2 Pet 3:10 in die lig van hierdie lering verstaan.
  • Lees: Sag 1-3
  • Ondersoek die vervulling: Sag 3:3-4 in die lig van hierdie lering.
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Deelwees van die ou Priesterorde roof jou seëninge