Dag 71

 

“Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.” (Rom 13:12, OAV).

Teen hierdie stadium moet jy deeglik weet dat God groot premie plaas op Efes 5:8: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.”  Psa 56:13 stel dit só: “want U het my siel gered van die dood—ja, my voete van struikeling—om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.” Van dit alles is die goue kandelaar ‘n prototipe. Op jou pad van heiligmaking lê jy nie net “die werke van die duisternis” af soos wat die Skrif hierbo sê nie, jy moet ook daadwerklik optree en die wapens van lig op ‘n daaglikse basis aantrek “sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Efes 6:11). 

Die woordjie “liste” (in die Nuwe Lewende Vertaling: “listigheid”) het ‘n baie dieper resonansie in die oorspronklike taal. Dit kom van die woordjie “methodeia”, waarin jy duidelik ons woord “metode” kan herken. In Grieks lê die basisbetekenis van die woord in die uitdrukking: om saam te reis, met die duidelike implikasie: through trickery, cunning arts, deceit or craft trick or trap you on the road (Thayer). Om hierdie vangstrikke op jou geestelike pad teen te staan, moet jy jou met Christus beklee (Rom 13:14).

Soos ‘n Romeinse soldaat word jy beklee (Efes 6): om jou lendene word waarheid omgord (vers 14) – jou saad en jou nageslag word hierdeur beskerm. Sela. Ook in vers 14: jou hart, wat die oorsprong  is van jou lewe (Spr 4:23), word deur ‘n borswapen van geregtigheid beskerm. Geregtigheid en waarheid is die fondasies van God se troon in jou lewe (Ps 89:14). Aan jou voete is die skoene van “die bereidheid vir die evangelie van vrede” (vers 15). Eintlik is dit nie “bereidheid” nie, maar “voorbereidheid” (“preparation”). Om al die vurige pyle van die vyand uit te blus, moet jy in geloof loop – dit word jou skild (vers 16). Vers 17 praat oor jou sielsdimensie wat beskerm word met die “helm van verlossing”, of dan: “the mind of Christ” (1 Cor 2:16). Dit beteken veral dat jy “elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor 10:5). In jou regterhand is die swaard van die Gees—dit is die woord van God. Laat die Woord van God dus ryklik in jou woon (Kol 3:16) en antwoord Satan soos Jesus dit gedoen het deur te sê: “Daar staan geskrywe …”(Mat 4:4). En laastens: jy moet “by elke geleentheid bid in die Gees” (vers 16). Hieroor het ons vroeër uitvoerig geskryf.

Rom 13:14: “beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie”. Die goue kandelaar en sy wapens van lig maak dit vir jou moontlik om op jou pad met God die vangstrikke te kan onderskei en vermy.

  • Sela: Maak dit deel van jou daaglikse roetine om jou geestelik paraat te beklee.
  • Lees: Eks 21; Ps 71; Rom 13.
  • Memoriseer:  Rom 13:11-12
  • Vir dieper delf: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering oor: “Die fondasies van Sy troon.”