“waardeur die hemele deur vuur sal vergaan
en die elemente sal brand en versmelt”
(2 Pet 3:12, OAV)
In ons ekskursie om presies te agterhaal wat in 2 Pet 3:10 staan oor wat ons altyd gedink het handel oor die hemele en die aarde wat met vuur verbrand sal word, het ons in die vorige Manna geëindig met die implikasies van die daaropvolgende verse 11 en 12: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.”
Uit Mannas 534 – 613 het ons met groot detail uit die Bybel die lering rondom die hemel(e) nagespeur en al die mites, oorlewering en verdigsels daarrondom probeer elimineer. Uit hierdie Skrif in 2 Pet 3:11-12 word die slotsom wat tóé bereik is, weer duidelik bevestig. As daar mense is wat reeds in die hemel is, en hierdie Skrif moet fisies en natuurlik geïnterpreteer word, sal die hemele brand en verbygaan, maar eweneens sal al die geredde siele in die hemel ook brand en in die niet verdwyn. Open 6:14 stel dit immers kategories: “And the heaven was removed as a scroll when it is rolled up …” (ASV). Die hemele “departed” (KJV), “was taken away” (BBE), “was removed” (ASV), “was withdrawn” (Rotherham), “disappeared” (NJB), “snapped shut like a book” (Msg), “passed away” (WNT), “vanished” (RSV).
Bedink dit – volgens ons oorgelewerde prentjies van die hemel wat Choo Thomas of Mary Baxter en andere versin het, is die hemelinge besig om in die ruie hemeltuin hul besig te hou (‘n mens kan seker nie sê werk, of met jou vingers in die grond woel, of onkruid uittrek nie?) Of hul is besig om in die hemelse mansion harp te speel, ander loop vir goedgeld in die goue strate af J, en dan begin hierdie hele ruimte stadig oprol soos ‘n rolkoek, en dan sien hulle die elemente brand … en alles disintegreer dan net. (As dit die uiteinde van die hemel is, sal jy nog soontoe wil gaan?)
NATUURLIK is dit totaal absurd om so te dink, maar ‘n mens moet partykeer die absurditeite van dinge “op natuurlike wyse verstaan” (Jud 1:10) op so ‘n manier uitwys. 1 Kor 2:13-14 verduidelik dit mooi: “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” Uiteraard is dit ironies wat hier gesê word, want baie mense dink dit is verskriklik geestelik om só oor die hemele te dink, maar dit is eintlik natuurlik, deur sintuiglike denke gerig, en sê Jak 3:15: natuurlik en demonies (“earthly, unspiritual, … demoniacal” – Ampl).
Lees weer 2 Pet 3:11-23 hierbo – as die “dag van God” kom, met ander woorde God se verskyning of transmutasie op aarde, wanneer Hy “sigbaar” word vir dié wat Hom tot saligheid verwag, sal alle vals denksisteme, heerskappye, magte, prinsipaliteite, owerhede, en so meer (Efes 6:12) met die verterende vuur van sy Wese verbrand word.
- Sela: Is dit waarna Jesus reikhalsend uitgesien het in Mark 9:49?
- Lees: Sag 13-14; Mal 1
- Ondersoek die vervulling: Sag 13:6 (Wenk: 1 Kor 11:24)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Om die Aarde te Beêrwe – Die Hemel is nie ‘n Ruimte nie