Dag 713-715

 

“Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele

en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

(2 Pet 3:13, OAV)

In die volvoering van die Skrifgedeelte uit 2 Pet 3:10-12 – wat tradisioneel gebruik word om die einde van die aarde deur verbranding met vuur te verduidelik – moet ons bepaald uitkom by die laaste versie in dié perikoop, wat as masskrif hierbo geplaas is. As ‘n mens dan ten besluite moet praat van die eerste hemel en die eerste aarde wat verbygegaan het (Open 21:1), moet ons weet presies wat daarmee bedoel word.

Die vorige Manna het gehandel oor Satan wat uit die hemele val, en dat dit dui op die heerskappy van die volgelinge van Jesus wat sy outoriteit uitoefen om alle dinge in die hemel en op aarde met God te versoen, “the complete restoration of all” (Acts 3:11, Ampl). Jesus sit aan die regterhand van God, sê Heb 10:13, en “wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete”. Hierdie proses is die vrystelling van Sy volgelinge wat vuur op die aarde werp (Luk 12:49), dienaars wat vuurvlamme word (Heb 1:7).  Immers beloof Open 11:15 – “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus …”

Openbaring 21 is in die Bybel die hoofstuk oor die Bruid van Christus se manifestasie op die aarde. Wanneer Johannes hierdie “openbaring van Jesus Christus” (Open 1:1) kry, is dit uiteraard veral ‘n openbaring van “Jesus die Christus” (Mat 16:20; Joh 20:31; Hand 5:42; 9:22; 18:5 & 28; 1 Joh 2:22; 5:1). As ons nou in Open 12 dan die geskiedenis lees van die simboliese stryd tussen die Vrou (= Kerk) en die Draak (= Satan), en hoe hy haar “Man-child” (= Bruid) wil vernietig, is dit nie iets wat in óf die verre verlede óf in die verre toekoms lê nie – dit is ‘n beskrywing van die proses wat ‘n aanvang geneem het met Jesus wat alle mag in die hemel en op die aarde verwerf het (Mat 28:18) met sy gehoorsaamheid tot die kruis toe, en daarna deur sy opstanding uit die dood (Fil 2:8-11).

In hierdie kosmies-allegoriese verhaal spel Open 12:10 die proses van hóé die koninkryke van die wêreld wat onder Satan se beheer is (1 Joh 5:19) tot die koninkryk van God gemaak word, klokhelder uit: “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”

Openbaring 21:1-3 verduidelik vir ons die geestelike konsep van die Bruid. Let op hoe die hoofstuk begin: “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” Let op na ‘n paar kerngegewe rondom die Bruid se manifstasie op aarde:

  • Die eerste hemel en die eerste aarde moet verbygaan. Ons verstaan nou uit die vorige leringe dat dit nie konkreet hemel en aarde is nie, maar dat die “ou skepping” wat deur die sondeval gekorrupteer is (Rom 5:12), wat tot “nuwe skepping” (2 Kor 5:17) moet kom. Jesus se waarmerk hiervan word in Open 21:5 gegee: “Kyk, Ek maak alles” Hy doen dit deur alles te toets aan Sy wesensaard: Vuur.
  • Die see is die mees konsekwente simbool van die ongeregtigheid wat die wêreld oordek (Jes 57:20; Open 17:15). Ons weet egter dat die Skrif profeteer in Hab 2:14 – “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” en dat dit sal geskied deur die (vuur)verspreiding van die evangelie van heerlikheid (2 Kor 4:4). In die Ou-Testamentiese profesie van Amos 7:4 word dit al in die vooruitsig gestel: “kyk, die Here HERE roep om ‘n regstryd te voer deur vuur, en dit het die groot watervloed verteer”!
  • Soos daar ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde is, is daar eweneens ‘n nuwe Jerusalem. Ook die ou Jerusalem het verbygegaan – al bestaan die stad vandag nog! Hierdie is duidelik ‘n geestelike Jerusalem, want dit daal neer uit die hemel na die aarde. Hierdie stad is nie meer ‘n stad van fisiese steen, sement en strate nie, nee – dit is ‘n groepering van mense wat as stad voorgestel word, lewende stene (1 Pet 2:5)! Daarom word hierdie openbaring van wie Jesus die Christus is, aan Johannes gewys – “Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal …” (Open 21:9b-10). Die Bruid van Christus is die geboukonstruk van God (1 Kor 3:9).
  • “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon.” Hierdie tabernakel is nie meer ‘n tydelike tentstaning nie, nee – dis ‘n Persoon – sy Naam is Yashua. En alhoewel Hy steeds in die geestelike realm saam met God regeer, beklee Hy sy Bruid met krag uit die hoogte (Hand 1:8) om sy vyande Sy voetstoel te maak (Heb 10:13). Ons het die vorige Manna afgesluit met die ark van die getuienis wat nie meer in die Joodse tempel was toe dié vernietig is nie, maar nou in “die tempel van God in die hemel” (Open 11:19) is. Die volheid van die tempel, Jesus en sy Christus, daal neer en gee beslag aan die Bruid Nou maak 2 Kor 5:1-2 duidelik sin: “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word …” Alhoewel Paulus hier praat in die konteks van die verganklikheid wat met onverganklikheid oorklee moet word, en duidelik wys op die sterflikheid van die fisiese mens, is daar ‘n alternatiewe proses waarbinne die geesmens en sy outoriteit algaande meer en groter gevestig word: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid …” (2 Kor 4:16-17).
  • Let wel – die Bruid, die Nuwe Jerusalem, heers op die aarde. Dit is ongelowiges en goddeloses wat verwyder word, nie gelowiges wat weggeraap word nie! Dan 7:27a spel dit raak uit: “Dan word die koningskap en die heerskappy … onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees …” En lees hiermee saam Open 5:10 – “en ons sal as konings op die aarde heers”.

 

Dis baie interessant om te sien hoe Jes 26:1-9 ‘n profetiese pendant is van hierdie Nuwe Testamentiese realiteit. Vers 1 begin met: “In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: ‘n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!” Onthou dat Juda tipologies gelees moet word as ‘n heenwysing na die Bruid van Christus. Hier word die korporatief van die Bruid eweneens aan ‘n stad wat gebou word, gelyk gestel (sien ook Ps 147:2 – “Die HERE bou Jerusalem op …”) Die nasie wat geroep word om in te gaan, is regverdig (in die Amplified: “the uncompromisingly righteous”). Dit word in vers 7 twee maal herhaal en derhalwe benadruk: “Die pad van die regverdige is gelyk; U maak die spoor van die regverdige gelyk.” En dan in verse 8-9 word hierdie groot waarheid uitgespel: “Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit. Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Elkeen wat tot heerskappy as Bruid geroep is, MOET van ongehoorsaamheid oorgebring word tot die gesindheid van die regverdiges (Luk 1:17). As die oordeel van God, vuur van God, begin by die huis van God (1 Pet 4:17), sal die res van die inwoners van die wêreld geregtigheid leer. Sela.

Kyk hoe mooi bring dit ons dan uit by 2 Pet 3:13 waarmee ons besig is: “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

Ons weet dat Jesus ons Geregtigheid is (1 Kor 1:30), en soos die ou koortjie sê: ‘Ons staan volmaak in Hom.’ MAAR ons moet volgens 2 Kor 5:21 “geregtigheid van God in Hom” WORD. Onthou die opdrag waarmee die Ou Verbond die impetus van die ganse Nuwe Verbond vooropgestel het: “En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring.” (Mal 3:3).

Die begrip geregtigheid beteken primêr: “right standing with God”. Maar volgens Renn se  Expository Dictionaryof Bible Words: beteken dit veral ook: “the state of being acceptable to God in every way”, en letterlik: om soos God te lyk, of na God se Beeld herstel te word. Jesus is immers die Priesterkoning van Melgisedek (Heb 7:2), wat in die wortelbetekenis dui op Geregtigheid. Ongelukkig is die meeste gelowiges “onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is” (Heb 5:13). Ons het die Heilige Gees nodig om ons te oortuig wat geregtigheid werklik is (Joh 16:8-9).

In Dan 9:24 word in die tydlyn van die “opbou van ‘n Gesalfde” gesê dat twee dinge wat met die Christus sal gebeur, is “om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring”. Nie vreemd nie dat toe Jesus die koninkryk van God aankondig, Hy dit kategories gestel het: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Nie net die koninkryk moet gesoek word nie, ook die geregtigheid van God, want “die koninkryk van God is … geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom 14:17).

Die hele boek Romeine verduidelik vir ons die omvang van die begrip geregtigheid, maar belangrik om te onthou is dat dit altyd ‘n funksieafhanklike van geloof is. (Die eerste keer dat die woordjie in die Bybel voorkom, is juis rondom Abraham se geloof, wat vir hom tot geregtigheid gereken is – Gen 15:6. Sien ook Rom 4:22 en Gal 3:6.) Geregtigheid is ‘n saad wat in die persoon wat glo, geplant word (2 Kor 9:10) , en SO word ons “met die nuwe mens … beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid” (Efes 4:24). Let wel: ware geregtigheid herskep ons na die Beeld van God, dit wat ons in die tuin van Eden verloor het! Kol 3:10 stel dit presies so: “en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper”. Maak asseblief hierdie waarheid vas.

Om hierdie rede is Rom 10:6-8 so belangrik: “Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om  Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig …” Die woordjie woord in dié gedeelte is albei kere rhema, jou uniek-eie identiteit in Christus, jou herstel na die Beeld van God. Dit is terselfdertyd ook ‘n herstel “van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is” (2 Kor 4:4)! Sela.

2 Pet 3:13 se “nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon”, is JY.

 

  • Sela: Deurgrond 2 Kor 4:4 in gebed.
  • Lees: Mat 4-12
  • Ondersoek die OT-tipologie: Mat 4:4 (Wenk: Deut 8:3)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Priesterorde van Melgisèdek – Hoe kwalifiseer

                               ek?