“I will ransom them from the power of Sheol …”
(Hos 13:14, ASV)
In die vorige Manna het ons begin kyk na gevalle waar die Bybelvertalers van die King James-vertaling die woord “Sheol” anders as graf of doderyk vertaal. Uit die enkele voorbeeld kon ‘n mens duidelik sien dat binne die groter konteks van “die hele Skrif” (2 Tim. 3:16) is dit onsinnig dat “hel” die woordjie is wat gekies is om “Sheol” mee te vertaal, en dat “doderyk” in alle opsigte die enigste moontlike vertaling is. Dieselfde is die geval met verskeie ander tekste uit die King James-vertaling wat dikwels gebruik word om mense die skrik op die lyf te jaag met hul ingeleesde betekenis van straf na die dood. Ons hoef nie elke Skrifgedeelte te bestudeer nie, maar dit is die moeite werd om hul in die lig van die voorafgaande Manna deur te trap: Job 11:8; 21:13; Ps. 9:17; 16:10; 139:8; Prov. 5:5; 9:18; 23:13-14; Amos 9:2, om net die belangrikstes te noem.
Opsommend oor die gebruik van die woordjie “Sheol” in die Ou Testament, die volgende hoofpunte wat die toestand in die doderyk saamvat:
- Daar word deurgaans in die Bybel verwys na mense wat “Sheol” ervaar terwyl hul nog op aarde is (Deut. 32:22; Jon. 2:2; sien ook Open. 6:8).
- Daar is verslagdoening van mense wat in Sheol was , maar tog daarvan ontsnap het (Ps. 18:5-6; Jon 2:2; Ps. 116: 3; 86:12-13. Ps. 30:3; sien ook Open. 20:13).
- God bevry mense van Sheol (1 Sam. 2:6).
- Alle mense gaan Sheol toe; niemand ontsnap dit nie (Ps. 89:48).
- Daar is geen aktiwiteit in Sheol nie (Pred. 9:10). In Job 17:16 word dit ‘n plek van rus genoem. As Saul deur die heks van Endor vir die ontslape Samuel uit die dode oproep, sê hy: “Why have you made me come up, troubling my rest?” (1 Sam. 28:15, BBE).
- Sheol is ‘n realm van geen bewustelikheid nie (Ps 6:5; Jes. 38:18).
- In Sheol word die liggaam deur wurms verteer: “Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie.” (Ps. 49:14). Ook Job 7:21 stel dit só – “weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie”. Daar bly van die liggaam geen vlees meer oor nie.
- In Hos. 13:14 word geprofeteer dat Jesus later die dood en die doderyk sal oorwin: “Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf?” (Dit is hierdie woorde wat Paulus gebruik in 1 Kor. 15:54-57 in sy triomfantrede oor die dood.)
Dit is absoluut duidelik dat die doderyk, Sheol, in die Ou Testament geensins verwys na ‘n plek waar sondaars na die dood gestraf word nie. Ons gaan in die volgende Manna na die laaste twee Ou- Testamentiese passasies kyk waarin mense soms die hel inlees, al staan dit nie daar nie.
- Sela: Slaan die verse na wat hierbo gegee word.
- Lees: 6-8
- Ondersoek die OT-tipologie: 7:27 (in die lig van Rom 1:14)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Wat Gebeur as Mens Sterf?