“… hulle vuur sal nie uitgeblus word nie …”
(Jes 66:24, OAV)
Die profetiese boek Jesaja sluit af met ‘n paar verse wat baie mense interpreteer as ‘n duidelike heenwysing na die realiteit van die hel, veral dan die laaste vers in die perikoop: “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE. En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.” (Jes. 66:22-24).
Een van die grootste probleme in die verstaan van eindtydgebeure is dat mense die Bybel buite konteks lees, en nie elke gedeelte binne die “hele Skrif” (2 Tim. 3:16) verreken nie. Ons het in vroeëre Mannas al gepraat oor gesonde eksegetiese beginsels in Skrifuitleg, maar drie wat in hierdie geval besonder belangrik is, moet net weer uitgelig word:
- In Joh 10:35 sê Jesus die Skrif kan nie gebreek word nie. Toe die Fariseërs dink dis godslasterlik dat Jesus sê Hý is die Seun van God, haal Jesus aan uit Ps. 82:6 – “Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste—“ Dan antwoord Jesus hulle: “Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?” (Joh. 10:35-37). Hiermee sê Jesus dat ons al die onderdele van die totale Skrif moet verreken, want geen enkele onderdeeltjie kan gebreek word nie. Die totale geïnskribeerde Lam moet geëet word (Num 9:12)! Geen been van die hoofliggaam van Skrifargumente mag gebreek word nie (Eks. 12:46; Joh 19:36). Ons het die totale Ou Testament nodig om Hom te verduidelik.
- Ons weet, in Jesus se woorde, dat Johannes die Doper die figuur is in wie die Ou Verbond gekulmineer het (Mat. 11:11), en dan sê Hy twee verse verder: “al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer” (vers 13). Rotherham vertaal dit soos volg: “For, all the prophets and the law, until John, did prophesy”. Die CEV maak dit meer eksplisiet: “All the Books of the Prophets and the Law of Moses told what was going to happen up to the time of John.” Daar lê dus geen futuristiese profetiese vervulling in die totale Ou Verbond, behalwe dit wat in Jesus Christus vervul gaan word nie. Daarom is die Message se vertaling klinkklaar duidelik: “But if you read the books of the Prophets and God’s Law closely, you will see them culminate in John, teaming up with him in preparing the way for the Messiah of the kingdom.” Dis om hierdie rede dat Open. 19:10 verklaar: “die getuienis van Jesus is die gees van die profesie”, of anders gestel: die getuienis oor Jesus is die gees wat die profete geïnspireer het. Francis H. Derck sê dit mooi in sy boekie The Names of Christ: “He is the Man of prophecy or prophecy has no meaning … As the ages rolled by, the rivulet that first gushed forth in Genesis grew to a mighty stream and led to Him.” (p. 11). Dus: “Aangaande Hom getuig al die profete …” (Hand. 10:43).
- In hierdie lig dan, volgens Paulus se uitvoerige gebruiksaanwysing vir die Ou Testament (met baie goeie toegeligte voorbeelde) in 1 Kor. 10, kom hy tot die slotsom: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” (vers 11). In Rom 15:4 het hy dit nog duideliker uitgespel: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” Alle Skrif in die Ou Testament moet dus soos volg gelees word:
- Allereers as historiese feit (wat in ‘n spesifieke plek en tyd gebeur het primêr ten opsigte van die verbondsvolk, Israel).
- Tweedens as heenduidend na die Verlosser, Jesus, en God se ingrypende plan met Hom in die geskiedenis van die wêreld. Die idee van “die Een wat sou kom” (Mat. 11:3) is egter veel ouer as Judaïsme, dus beteken sy pre-inkarnasiestaat, teofanie, geboorte, lewe, dood en opstanding meer as blote Messiasskap vir die Jode. Ook hulle word nie SONDER ONS tot volmaaktheid gebring nie (Heb. 11:40).
- Derdens as tipologies heenduidend na die herstel van Jerusalem en sy opbou “tot op ‘n Gesalfde” (Dan. 9:25), die Nuwe Jerusalem, ofte wel: die Bruid (Open. 21:2 & 9) en God se ingrypende plan met Hom en Haar, Jesus en sy Christus (Open. 11:15), in die volvoering van die geskiedenis van die wêreld.
In die lig hiervan is Jes. 65 en 66 (waarin die laaste drie verse die Skrif is waarna ons tans kyk) twee hoofstukke wat by uitnemendheid gebruik kan word om die “driedubbele tou” (Pred. 4:12) van Skrifuitleg – soos kortliks hierbo uiteengesit – te illustreer. Die eerste twee wyses van eksegese word uitstekend gedoen (met wye verwysing na ander gesaghebbende eksegete) deur Albert Barnes in sy klassieke Notes on the Bible en ter wille van konteks en argument word ‘n redelike groot gedeelte hier aangehaal: “It has already been intimated … that this refers probably to the time subsequent to the captivity … to the time of the rebuilding of the temple by Herod … (I)t refers to the pride and self-confidence of those who then imagined that they were rearing a structure that was worthy of being a dwelling-place of Yahweh. Grotius supposes that it refers to the time of the Maccabees, and that it was designed to give consolation to the pious of those times when they were about to witness the profanation of the temple by Antiochus, and the cessation of the sacrifices for three years and a half … From the whole strain of the prophecy … it seems probable that it refers to the time when the temple which Herod had reared was finishing; when the nation was full of pride, self-righteousness, and hypocrisy; and when all sacrifices were about to be superseded by the one great sacrifice which the Messiah was to make for the sins of the world.”
Alhoewel die gedeelte van Albert Barnes hierbo aangehaal hoofsaaklik handel oor Jes. 66:1 as ‘n stemvurk vir die res van die hoofstuk, behoort die Mannastudent duidelik hierin die eerste twee wyses van interpretasie te eien: die historiese plasing en die heenwysing na “die Seun as Verlosser van die wêreld” (1 Joh. 4:14). Wat ontbreek, is ‘n tipologiese interpretasie van die gedeelte, of (in ons terme dan) ‘n Christologiese interpretasie. [Wat ‘n mooi gepaste woord is Christologies nie! Dit het duiding van Christus, maar onlosmaakbaar gekoppel aan Jesus, die Logos!]
In die volgende Manna sal ons dan Jes. 66:22-24 deeglik Christologies probeer deurtrap.
- Sela: Probeer self uitvind wat ons in die volgende Manna gaan probeer doen.
- Lees: 9-14
- Ondersoek die OT-tipologie: 9:1 (in die lig van hierdie lering)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe vra die Bybel om gelees te word?