Dag 73

 

“Maak ook ‘n tafel van akasiahout … En trek dit oor met suiwer goud.” (Eks 25:23-24, OAV)

Die tweede “meubelstuk” in die Heilige was die tafel met toonbrode. Daar is detail spesifikasies rondom die maak van hierdie kleinerige tafel (Eks 25:23-30). Op hierdie tafel het die Levietiese priesters weekliks die twaalf toonbrode op geplaas, met die wierook-reukoffers (Lev 24:5-9). Hierdie brood is “the bread of presence” (Eks 25:30), ook “bread of ordering” (1 Kron 9:32), of “heilige brood” (Num 4:7; 1 Sam 21:1-6) genoem.

Die tafel van die toonbrode was – soos bykans al die ander produkte van, om en in die tabernakel van Moses wat hout nodig gehad het – van die akasia vervaardig. Ons ken die akasia veral in Suid-Afrika as die doringboom. Waarom so spesifiek word hierdie boom gebruik?

In Hebreeus is die woordjie vir akasia “shittim”, wat die wortelbetekenis dra van “scourging thorns”. Dwarsdeur die Skrif is dorings ‘n teken van die vloek wat met die sondeval op grond en mense gekom het: “Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Gen 3:18-19). Let op: nie net sal die dorings die mens se aarde wat hy bewoon oordek en by wyse van spreke sy werk op die aarde grootliks bemoeilik nie; ook sal dit die wesensaard van wie jy fisies is, bar aarde oortrek met dorings, karakteriseer. En Heb 6:8 stel dit onomwonde: as hierdie aarde “dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding”. Sodoende word dit dan realiteit van die gevalle mens: in hierdie gevalle toestand sal daar altyd dorings in die mens se tabernakels wees (Hos 9:6).

Om hierdie rede het Christus ‘n doringkroon gedra (Joh 19:5). Sela.

Maar God vat hierdie gevalle menslikheid en oorklee hom met suiwer goud. Hierdie goud, het ons al ‘n paar keer uitgewys, dui op Christus (Open 3:18); maar: ook sy gelouterde Bruid is ‘n stad van goud (Open 21:21)! Sy is gebou met sy openbaringskennis en beklee en oordek met Sy heerlikheid (Jes 60:1).

  • Sela: Probeer Num 33:55 en Jos 23:13 verstaan in die lig van hierdie lering. 
  • Lees: Eks 23; Ps 73; Rom 15.
  • Memoriseer:  Rom 15:18a
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Bruid as planting van die Here.