Dag 732-733

 

“Want julle het gesterwe,

en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”

(Kol. 3:3, OAV)

Uit die laaste Manna het ons die eerste gedeelte van Jes. 66:24 verduidelik, en dit het geblyk dat dit ‘n profetiese heenwysing is na die nuweverbondslewe. Dis dan noodsaaklik om dié laaste vers van die boek Jesaja te verstaan binne hierdie perspektief.

In die vers is daar duidelik sprake van “lyke”, met ander woorde, soos die HAT dit omskryf: “dooie menslike liggame”. Dis duidelik nie ‘n liggaam wat vir ewig brand nie, want alle vlees is vlees van duur, met ander woorde, alle liggame moet vergaan tydens ontbinding (in vuur of verwering). Immers: stof is jy en tot stof sal jy terugkeer (Gen. 3:19; Job 10:9; 34:15; Ps. 90:3; Pred. 12:7). Ons vader in die geloof, Abraham, het dit so mooi verwoord: “Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is.” (Gen. 18:27). Ja, stof en as…

Die Bruid funksioneer in ‘n dimensie waaroor daar klinkklare uitsprake is oor die dood. Niemand anders as Jesus self maak hierdie uitdagende stellings nie:

  • Joh 11:21-26:En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee. Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag. Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?”
  • Joh 5:24-25: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.”
  • Joh 6:47-51: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”
  • Joh 8:52-53: “Toe sê die Jode vir Hom: Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie. Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit?”

In die bedeling waarin ons onsself bevind, is dood egter dan tog ‘n absolute realiteit – hoe kan Jesus dit ontken? Heb 9:27 sê immers: “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel”; die Amplified sê dit nog presieser: “And just as it is appointed for [all] men once to die, and after that the [certain] judgment …”

As Paulus triomfantlik in 1 Kor. 15:55 uitroep: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”, is dit duidelik dat ons iets misverstaan rondom die dood. Uit al vier die gedeeltes wat hierbo aangehaal is, praat Jesus van die wonderwerk dat iemand oorgaan “uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24). Toe God die mens gewaarsku het om nie te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad nie, anders sal hulle sterwe  (Gen 3:3-5), het die mens nie in die vlees gesterf nie (Adam en Eva het nog lank daarna gelewe), maar hul geesdimensie – die vermoë om met God gemeenskap te kan hê – het gesterf. Die fisiese liggaam sonder die geesfakulteit noem Paulus die “natuurlike liggaam”, en die fisiese liggaam met die gees deur wedergeboorte herstel (Joh. 3:3-5), noem hy die “geestelike liggaam”. Sela.

In 1 Kor. 15 probeer Paulus dit verduidelik, maar ons het dit met die loop van eeue verkeerd gelees asof hy sou praat van die fisiese dood. In sy terminologie is almal want op die aarde is en nie-wedergebore as ‘t ware lewend dood. Die eerste Adam het ons almal in die dood gestort, al leef ons vleeslike liggame, en sterf hulle ook en word hul weer aarde. Die onsterflike deel van die mens is nie die liggaam en die siel nie, maar die gees. Maar net as jy wedergebore is, het jy ‘n geesdimensie, en dan lewe jy eers. In 1 Kor. 15: 44-50 verduidelik hy dit só: “‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.” (Lees ook hiermee saam 2 Kor. 5:1-9, wat dit eweneens mooi uitspel.)

Daarom sê Efes 2:1 van die mensdom “wat dood was deur die misdade en die sondes”, dat hul “lewend gemaak is” (vers 5). Let nou op hierdie ongelooflike woorde van Jesus in Joh. 5:24-25: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.” Dit gebeur nie eendag nie; dit gebeur nou as jy deur wedergeboorte wakker word uit die doodslaap waarin Adam die ganse menslike ras ingedompel het, hulle “wat in die stof van die aarde slaap” (Dan. 12:2).

As ons dit dan nou saamlees met 1 Kor. 15:51-53, maak dit duidelik sin: “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.”  Daar kom ‘n uur, en dit is NOU: , in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin met die wedergeboorte.

Dit bring ons dan by die laaste Ou-Testamentiese versie wat so dikwels gebruik word om die hel as konsep te motiveer, in Dan. 12:2: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” As ons nou verstaan dat dit hier gaan oor die “natuurlike mens” wat tot redding kom en ontwaak, sal waarskynlik die meeste ontwaak tot die ewige lewe, maar daar sal ook diegene wees wat op die geloofspad hul redding verloor (Heb. 2:3; 6:6; 10:29; 12:25; Joh. 6:70), en dan vir die res van hul lewe in ‘n toestand leef van “reproach (resting upon condition of shame, disgrace). (Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions). Wat ons pootjie om dit as na-doods te lees, is die woordjie “ewig”, wat GEENSINS IN DIE HEBREEUS DUI OP EWIGDUREND NIE! Daarom vertaal byvoorbeeld Rotherham en YLT hierdie frase korrek as: “abhorrence age-during”. (In die volgende Manna sal ons dit net Skriftuurlik motiveer.) Maak asseblief hierdie lering vas.

 

  • Sela: Verduidelik die masopskrif (Kol. 3:3) aan iemand.
  • Lees: 20-24
  • Ondersoek die OT-tipologie: 2439-43 in die lig van die lering.
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die verheerlikte Liggaam