Dag 734

 

“die HERE het met julle uit die vuur gespreek”

(Deut. 4:11a, OAV)

Vir ‘n hele aantal Mannas nou het ons in groot detail die Ou-Testamentiese tema van vuur nagespeur. Dit is van groot belang dat ons onthou dat die hele ekskursie deur die ou verbond gegaan het om te wys dat die “seuns van Levi” (van wie Mal 2:1 praat) ‘n baie spesifieke groepering is wat deur die transisie van vuur gesuiwer sodat hulle seuns van Sadok kan word. Dit gaan gepaard met die vestiging van ‘n nuwe verbond, sodat húlle sal doen soos dit in God se hart en siel is (1 Sam. 2:35). Hierdie proses raak dus ten diepste ook vir jou en my.

Ons het ook uitvoerig daarop gewys dat Jesus se vooropgestelde missie uitgespel word in Luk. 12:49: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” In ‘n verkenning van wat dié gelade uitspraak mag inhou, het ons uitgevind dat op die dag wat die vuur van God – sy Naam is Jesus – in jou lewe begin manifesteer, sal Sy verskyning wees soos vuur en alles verander/verwyder wat nie Sy natuur is nie! En in hierdie transisie van denkwyse en die vestiging van ‘n “onwankelbare koninkryk” (Heb. 12:28) in jou, leer ken ons God as ‘n verterende vuur (vers 29). SY VERSKYNING aan/in/tot ons, is die getransmuteerde vuur en dit verander ons “ou aarde” tot “nuwe aarde” (2 Kor. 5:17), DEUR VUUR. Die “openbaring van die Here Jesus” geskied inderdaad “in vuur en vlam” (2 Thes. 1:7-8).

Jesus se opmerking in Mark 9:49, word die stemvurk van die Nuwe Verbond – “Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.” Uit die Mannas is duidelik uitgewys dat die “met vuur gesout” deel is van die algehele proses wat beslis met die Bruid, die gesalfdes, moet gebeur, dat soos 1 Kor. 3:13 sê, dat hulle deur vuur openbaar gemaak word, met ander woorde: unveil sal word.

Ons het ook uit die uitvoerige eksegeses van al die Nuwe-Testamentiese tekste waarin vuur pertinent voorkom, tot die slotsom gekom dat ons nie die ou en die nuwe verbond se transmutasie van vuur deurmekaar moet klits nie – dit roof by ons die lewe en oorvloed van die Nuwe Verbond. Ons moet weet van hoedanige gees ons is – Gees van sy Gees en vuur van sy verterende vuur. Soos God ‘n verterende vuur is, so is die Bruid insgelyks in die wêreld (1 Joh. 4:17). Soos hul as lewende vuurwoorde gespreek word deur die mond van God, word die woorde in hul mond vuur wat alle rebellie en ongeregtigheid sal verteer (Jer. 5:14). Die Bruid word die woorde van vuur in ‘n wêreld van vleeslike hout, hooi en strooi.

Die verkeerdelike insluip van die woordjie “hel” in plaas van “doderyk” in ons vertalings is deeglik onder die loep geneem, ook die oorlewering dat die aarde met vuur sal vergaan. Die enigste onafgehandelde saak wat nog deel van hierdie onderwerp is, is die gedeeltes in hoofstuk 20 van die boek Openbaringe oor die poel van vuur. In die lig van hoe die vorige Manna afgesluit het, is dit belangrik om net ‘n voetnota te maak oor die woordjie “ewig” in die Skrif (veral in ons verstaan van die gebruik van die woordjie in onder andere Dan. 12:2), maar ook omdat daar in dié gedeelte staan dat daar in die poel van vuur “tot in alle ewigheid” gebrand sal word. In die volgende Manna word dit Skriftuurlik ondersoek.

 

  • Sela: Probeer uitvind wat die woordjie “ewig” in die oorspronklike tale beteken.
  • Lees: 1-3
  • Ondersoek die OT-tipologie: 3:14 (Wenk: Num. 21:7-9)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God – die vlammende swaard.