“En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp.”
(Open. 20:14, OAV)
Dit is van enorme belang dat ‘n mens die Skrif konsekwent lees en die groot verskeidenheid “los drade” integreer in ‘n geheelbeskouing. Uit die lang ekskursie tot dusver rondom die Skriftuurlike beskouing van die woordjie doderyk – wat ook ongelukkig in baie vertalings as hel voorgehou word – is dit duidelik dat baie mense dié oortuiging nie konsekwent met die res van die Skrif kan integreer nie.
Veronderstel daar is wel ‘n hel waarheen die ongelowiges gaan, en ons moet Bill Wiese se multimuljoen-wegholtrefferboek 23 Minutes in Hell byvoorbeeld glo, is dit ‘n plek van ongeëwenaarde hitte – sowat 12 000 grade (Celsius of Fahrenheit, maak dit saak?) – in middelaarde, waar reptieliese demone van tot vyf meter lank biljoene mense vir hul eie begeerte, plesier en vermaak aanhoudend martel, vir miljoene, dermiljoene, triljoene jare aaneen sonder die hoop op ‘n einde. Hulle ruk jou gebrande vlees uit, wat dan wonderbaarlik in dertig sekondes weer teruggroei om weer uitgeruk te word. Verterende vure wat nie die sondaars verteer nie, maar hul net vir ewighede laat gil van pyn, ellende en wanhoop; vuurdemone wat jou terugwerp in die poel van swael; demoniese spinnekoppe so groot soos volkswagens wat elke been in jou halfgaar lyf breek; giftige slange so lank soos die Shozoloza wat oor jou kop seil en dit verbrysel, en heen en terug. Geen water, geen lug, geen slaap, totale isolasie van ander. “I was also aware that there were many levels, far, far worse.” Aldus die outentieke ervaring van Bill Wiese.
Die Woord is duidelik dat daar een maal ‘n oordeel sal kom, maar niemand nog is geoordeel of veroordeel nie. 2 Tim. 4:1 sê dit onomwonde: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk …” Jesus het in Joh. 5:28-29 ons ook dieselfde riglyn as Paulus gegee: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”
Dus is niemand nog in die plek wat as die “hel” voorgehou word nie, né? Maar veronderstel die gestorwe sondaars is daar, sal hul verseker nie vir ewig daar wees nie. (Onthou die vorige Manna se verduideliking van die betekenis van die woordjie “ewig” in die Hebreeuse en Griekse wortelbetekenis as “’n tydperk”.) As ‘n mens die “ewige hel” konsekwent in die Bybel wil ondersoek, wat maak jy dan met hierdie volgende Skrifte?
- “en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel” (Open. 20:13); en
- “O death, where is your sting? Hades, where is your victory?” (1 Cor. 15:55, LITV); in die Bishop-vertaling word dit soos volg voorgehou: “O death where is thy stynge? O hell where is thy victorie?”; en dan hierdie stunner:
- “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp.” (Open. 20:14).
Ons bekyk die geweldige implikasies hiervan in die volgende Manna.
- Sela: Probeer die implikasies uit albei perspektiewe bepaal.
- Lees: 10-12
- Ondersoek die OT-tipologie: 10:10 en lees dan vers 8 (Wenk: Sag. 11:4-9)
- Delf dieper: Lees: http://www.bibletopics.com/biblestudy/3.htm oor interpretasie van die Bybel.