Dag 740-742

 

 

“hulle deel is in die poel wat brand met vuur

en swawel: dit is die tweede dood.”

(Open. 21:8, OAV)

‘n Enorme probleem in die verstaan van die boek Openbaringe is dat daar lesers is wat fundamentalisties in oortuiging is, en hulle dan voel dat ‘n mens die Bybel derhalwe letterlik moet interpreteer. Fundamentalisties beteken NIE letterlik nie – dit beteken bloot dat die totale Woord van God gelees moet word as die volledige openbaring van God deur die eeue heen, ook vandag. Maar dit beteken veral dat ons die Bybel moet lees soos dit gevra word om te lees. Byvoorbeeld, dat ‘n gedig met beeldspraak as sodanig gelees moet word, en dat ‘n spreuk nie ‘n brief of ‘n geskiedenisverhaal is nie, dat ‘n gelykenis verhaalmatige elemente bevat ter wille van ‘n bepaalde waarheid wat gekommunikeer moet word, en so meer. Daarbenewens is daar verskeie literêre style en elemente wat verreken moet word in die lees van tekste –alles kan nie as gevolg van ‘n fundamentalistiese interpretasiebetekenisraamwerk as letterlik en een-eenduidig verstaan word nie.

In die vorige Manna het ons gewys dat in die boek van Openbaringe is NIKS konkrete heenwysings na sigself nie, maar na ‘n simboliese betekenis. Alle konkrete gegewe binne hierdie apokaliptiese boek is gehul in ‘n “verborgenheid”, ‘n misterie, met ander woorde dit is nie-letterlik nie – dit verteenwoordig deurgaans iets anders. Die onderwerp waarna ons nou gaan kyk, is die poel van swael en vuur nie – ook hierdieis nie iets letterlik nie, bloot ‘n simboliese heenwysing na iets wat dit verteenwoordig.

Veral in die geval van die poel van swael en vuur in die boek Openbaringe wil fundamentalistiese Bybelgelowiges dit letterlik lees, maar kan dan nie insien dat op grond van daardie verstaan die poel van swael en vuur alles daarin behoort te verteer nie! As die vuur so letterlik is dat dit pyn en lyding veroorsaak, moet dit volgens die natuur- en fisiologiese wette brand, en dit beteken dat dit definitief vlees sal verteer. Alle vuur is vuur van duur, en kan nie ewig (natuurlik) brand nie. Die brandende braambos waarby Moses stilgestaan het, het gebrand en nie uitgebrand nie omdat God daarin getransmuteer het – dis juis die rede wat Moses se aandag getrek het: “En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie.” (Eks. 3:3). Die woordjie in Hebreeus vir “verskynsel” dui op ‘n bonatuurlike manifestasie , of selfs dat Moses dit as ‘n visioen ervaar het, duidelik nié iets natuurliks nie.

Kortom: dit is fisiologies en fisies onmoontlik vir ‘n letterlike vuur om durend mense te brand en pyn te veroorsaak sonder dat hul sterf, veral vir ‘n vuur wat sogenaamd ewig brand. Vuur in die werklikheid veroorsaak nie simboliese of geestelike dood nie – regtige vuur veroorsaak regtige dood. Die argument wat dus tradisioneel gevoer word oor die poel van swael en vuur is onlogies en onmoontlik.

(Baie mense argumenteer dat God dit so kan laat werk as Hy sou wou. Maar God swaai nie net ‘n towerstaffie en hef werklikhede op nie. Die beste argument daarvoor is die vleeswording van Jesus – waarom deur al die moeite gaan, die pyn en lyding veral, as God maar net as ‘t ware die woord kon gespreek het en die situasie van die mens se gevallenheid net so maklik kon omkeer? Hy het nie, en kies nie om dit so te doen nie.)

Terug by die vuurpoel van Openbaringe. Daar is vier Skrifte in totaal wat daaroor handel, en dit is belangrik dat ons na al vier moet kyk:

  • 19:20 “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.”
  • 20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
  • 20:14-15 “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
  • 21:8 “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”

 

Dit is opvallend dat dié plek van vuur en swael ‘n “poel” genoem word. Die woordjie in Grieks dui ondubbelsinnig aan dat dit eerder vertaal moet word met “meer”, selfs “kaai” (“lake”), of “port” (selfs “goodly port”!). Dit is die woord wat byvoorbeeld gebruik word wanneer na die meer by Génnesaret (Luk. 5:1) verwys word, of na die meer van Galiléa (in die volksmond ‘n see genoem). [Dr. Thomson, in sy The Land and the Book, (vol. II. p. 59) merk op: “Small as the lake is, and placid, in general, as a molten mirror, I have repeatedly seen it quiver, and leap, and boil like a caldron, when driven by fierce winds from the eastern mountains.”]

Baie interessant dan dat dit ‘n “meer” genoem word, wat uiteraard die versamelplek van water is, terwyl dit opgevul is met vuur?. Dis duidelik ‘n baie bepaalde bevatter van vuur, wat duidelik (in ‘n ander bedeling dalk?) ‘n soortgelyke funksie gedien het, maar dan met water.

Dadelik plaas dit mens op die spoor van Salomo se tempel, en spesifiek die “see gemaak van gietwerk” wat in die voorhof was: “Verder het hy ‘n koperaltaar gemaak; twintig el was sy lengte en twintig el sy breedte en tien el sy hoogte. Hy het ook die see gemaak van gietwerk.” Die “see gemaak van gietwerk” noem die BBE “the great water-vessel of metal”, die CEV “a large metal bowl called the Sea”, en miskien die korrekste beskrywing: “a pool from cast metal” (GW). Volgens die Hebreeuse woordeboeke is dit eksplisiet “’n see” genoem, terwyl dit eintlik meer na ‘n poel moes gelyk het.

‘n Mens moet nou noodwendig vra – hoekom word “‘n poel” bykans konsekwent in simboliese sin “’n see” genoem? (Ons gaan later in meer detail op dié gietstuk in.)

In Open. 17:15 word die sleutel daarvan gebied: “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer [= Babilon] op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.” Kortweg: die see is simbool van humanity, the unregenerated world of people under a wordly and fleshly system. Jer. 51:42 het al geprofeteer: “Die see het oor Babel opgerys, deur die gebruis van sy golwe is hy oordek.” Jes. 57:20 (ASV) beskryf dit raak: “But the wicked are like the troubled sea; for it cannot rest, and its waters cast up mire and dirt.” Maar dit is in die Nuwe-Testamentiese boek Judas (vers 13) waar hierdie ongebreidelde vleeslikheid genoem word “woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim”. Die skrikwekkende hier is egter – Judas praat van mense wat deel is van die kerksisteem! Let op wat vers 12 sê: “Hulle is skandvlekke in julle liefdemaaltye, wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer, waterlose wolke deur winde rondgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld …”

Een frase in hierdie beskrywing van Judas moet jou oog onmiddellik vang: “twee maal gestorwe”. Twee maal gestorwe? Dadelik bring dit assosiasie met Open. 21:8 – “hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood”.

Daar is ‘n eerste dood en ‘n tweede dood, en daar is ‘n eerste opstanding en ‘n tweede opstanding. Die eerste dood en die eerste opstanding geskied TERWYL JY NOG IN JOU LIGGAAM IS, sê  Fil. 3:11 (Ampl): “That if possible I may attain to the resurrection [that lifts me] out from among the dead [even while in the body].”

Die eerste dood gebeur wanneer ons saam met Christus sterwe (Gal. 2:20) en die eerste opstanding wanneer ons met Christus opstaan uit die dood (Efes. 5:14), TERWYL ONS NOG IN DIE LEWE IS (MET ANDER WOORDE: NIE GESTERF HET NIE).

Nou verduidelik Open. 20:6 vir ons die wetmatigheid tussen die eerste opstanding en die tweede dood: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Die tweede dood is die geestelike dood van almal wat nie opgestaan het in Christus in hulle skeppingsdoel en roeping nie – dit het niks te make met die hel nie! Almal met ‘n vleeslike, wêreldse manier van dink en handel (= die merk van die dier aan die voorhoof en die regterhand – Open. 20:4) – wat in dié poel van vuur en swael gegooi word (sien bv. Open. 21:8) , moet met vuur getoets word. Sommige sal “ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid” (Dan. 12:2). Daar is ‘n tweede dood waar God die verterende vuur is, waarbinne die ganse aarde met vuur getoets sal word. Onthou Jesus se woorde in Luk. 12:49 – “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” Alles sal getoets word aan vuur en deur vuur openbaar gemaak word. Sommige sal as edelgesteentes uit die vuur kom, ander se vleeslikheid sal as hooi, hout en stoppels verteer word (1 Kor. 3:12-14). Dit beteken nie hul is dan verlore nie (1 Kor. 3:15); dit beteken bloot hul is nie beproef bevind om saam met Jesus te regeer in die duisendjarige vrederyk nie (Open. 20:6).

In Mannas 700-705 het ons die vier wyses uitgewys hoe Jesus vuur op die aarde werp: eerstens deur die Heilige Gees; tweedens deur die Heilige Gees se ‘oopmaak’ en verspreiding van die Woord van God; derdens deur sy gestuurdes en dienaars vuurvlamme te maak; vierdens deur sy Bruid as “lewende vuurstene” wat elk ‘n vlam word. Saam word hulle die kollektief van “verterende vuur” wat die wêreld en sy sisteme sal oordeel (1 Kor. 6:2), ook die goddelose mense, gered en ongered (Judas 1:15). Hul stel die standaard  waardeur alles met vuur getoets word. Die wêreld sal nie weer deur water gesuiwer word nie, maar deur vuur: “Maar die teenswoordige hemele en die aarde … word vir die vuur bewaar.”

Hierdie “poel van vuur” is die korporatief van die Bruid waarin alles getoets word deur vuur. Hulle wat aan Heb. 6:4-6 voldoen, is diégene wat wel hul “goeie (rhema-)woord” gesmaak het, maar nooit opgestaan het in hul roeping nie: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding.” Dít is die tweede dood.

 

  • Sela: Verduidelik aan iemand die eerste en tweede dood, en die eerste en tweede opstanding.
  • Lees: 19-21; Hand. 1-6
  • Ondersoek die OT-tipologie: 2:16-20 (Wenk: Joël 2:28-32)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Roeper roep jou…by Roepersfontein.