Dag 752-754

 

 

“Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur,

wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed?”

(Jes. 33:14b, OAV)

In die vorige lering is die breë konteks en implikasies geskets van die Bruid as die manifestasie van die poel van swael en vuur. Binne hierdie verstaan moet verreken word hoe die Bruid van Christus geposisioneer moet word om klaar te speel met die dier, die vals profeet en die duiwel, en dan ook die dood en die doderyk wat in dié poel gewerp word. Dan sal ‘n groepering met spesifieke kensketsinge (vreesagtiges, ongelowiges, ens.) ook in die poel gegooi word. Wat sou dit alles prakties beteken?

Een van die sleutels om hierdie te verstaan, is Heb. 2:6-8, waar die skrywer van die Hebreërboek aanhaal uit Ps. 8 en praat oor die outoriteit wat God gegee het aan die mensdom (uiteraard nie die universele mensdom nie, maar slegs aan hulle wat sy wil uitvoer – Mat. 7:21): “maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie …” Merk hieruit veral die herhaling en vooropstelling van “alle dinge”.

Dit is absoluut duidelik: deurdat Jesus as voorloper (Heb. 2:8-11) alle mag in die hemel en op die aarde verwerf het deur sy gehoorsaamheid aan die kruis (Mat. 28:18; Fil. 2:8-9), het Hy daardie mag en outoriteit aan die Bruid oorhandig, of dan: gesedeer. Nie net het die Bruid “die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag” (Kol. 2:10) nie, maar IN HOM is die Bruid gesetel wat in CHRISTUS opgewek is en saam met Hom sit ons aan die regterhand van God (Mat. 26:64; Efes. 2:6), met die uitsluitlike mandaat “om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—“ Fil. 3:21 (Ampl) spel dit netjies uit: “exerting that power which enables Him even to subject everything to Himself”. Die GNB vertaal dit nog meer verklarend soos volg: “using that power by which he is able to bring all things under his rule”, en die ISV: “through the power that enables him to bring everything under his authority”.

As ‘n mens dan Efes.1:20-23 hiermee saam lees, is dit die klinkklaar opdrag aan die Bruid as poel van vuur: “die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo  alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” Sela hierop!

1 Kor. 15:24 spel uit dat as dit alles plaasgevind het, “daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het”, deur die Bruid!

In hierdie lig is dit dan belangrik om te verstaan wat met elkeen van die “magte” en die groeperinge mense gebeur wat aan die poel van swael en vuur uitgelewer word. Maar alvorens ons daarby kan uitkom, moet ons allereers die breër eksegetiese konteks skep waarbinne die boek Openbaring gelees moet word. Dit is noodsaaklik omdat al die “magte” waaroor ons uitsluitsel wil kry, bykans nét voorkom in hierdie laaste boek van die Bybel.

Omdat dit nie die hooffokus van die tema tans onder die loep is nie, sal ons net oorsigtelik na drie veronderstelde leesafsprake moet verwys:

  • Die titel van die boek, Openbaring, is in Grieks die woordjie apokalupsis, met die afleiding apokalupto as die werkwoord: “to make known, make manifest, disclose what before was unknown”. Anders as wat Hollywood ons gekondisioneer het, het dit NIKS as sodanig te make met die eindtyd nie. Die woordjie beteken openbaarmaking, unveiling, met ander woorde: om ware identiteit bekend te maak, of om dit wat verhul is, te onthul. Dit is ook glad nie die openbaring van Johannes nie, maar wél die “openbaring van Jesus Christus” (Open. 1:1). Nie net verklaar dit wat die ware karakteraard van Jesus is nie, maar dit verduidelik op ‘n simboliese manier hoe die Christus deur Jesus vermeerder het, en hoe die Christus ge-apokalupto, onthul gaan word (Gal. 1:16; Rom. 8:19; Mat. 16:17-18). In Kol.3:4 word dit direk só gestel: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar [apokalupto] word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar [apokalupto] word.”
  • Die oorgrote meerderheid kenners oor die boek Openbaring is dit eens dat dit ‘n simboliese boek is, en dat dit geensins letterlik gelees kan word nie. Die wesensaard van al die “diere” is duidelik simbolies, die konsekwente simboliese getallestelsel wat in die boek gebruik word, die allegoriese aard van episodes, alles, dui daarop dat ons nie die teks letterlik kan lees nie. Die Antichris is met ander woorde nie ‘n spesifieke persoon nie, die dier nie ‘n spesifieke histories-bepaalbare vyand nie, die getal 666, die merk van die dier op die hand en die voorhoof, alles, moet in dier voege simbolies binne die hooftema van die boek gelees word.
  • Daar is oorweldigende bewyse (waarop ons later in die Manna sal stilstaan) dat die Boek Openbaring gedateer kan word net vóór die val van Jerusalem in 70 n.C., toe die tweede tempel nog bestaan het (Open. 11:1-2). Al die eerstevlakverwysings dui letterlik (net soos Mat. 24, bv.) op die vernietiging van die tweede tempel. Dit maak dan die ‘identiteit’ van die wesens wat in die poel van vuur gewerp word, makliker, sou jy dit enigsins wou doen, want dit is histories meer verifieerbaar. In aggenome dat dié profetiese boek ook op ‘n dieper vlak handel oor die openbaarmaking van die Christus, is dit van groot belang dat ons ‘n nuwe verstaan moet kry oor hierdie misverstane boek wat met die loop van jare erg deur godsdienstige maniere van dink gemitologiseer is.

 

Die logiese vraag is dus: hoe kan die dier (wat volgens sy vreemd samegestelde beskrywing onteenseglik net ‘n simbool kan wees), waarvan Open.17:8 sê hy “was en is nie”; en die duiwel, wat as ‘n fiktiewe dier (die draak) voorgehou word; en die die dood en die doderyk, wat elk hoogstens ‘n staat is, saam met mense in ‘n fisiese poel van vuur gegooi word? Dis helaas nie moontlik as dit enigsins ‘n fisiese poel van vuur is nie.

Daar is geweldig baie onduidelikhede oor wie en wat hierdie hoofkarakters in die veronderstelde eindtyddrama is. Gary DeMar, in sy knap boek End Time Fiction, noem die meeste oorgelewerde interpretasies is “an amalgamation of biblical concepts, personalities, and events that are unrelated to one another or find their fulfillment in history. Trying to merge these divergent entities has led to consistent confusion for centuries …”

Byvoorbeeld: die woordjie antichris kom nêrens in die boek Openbaring voor nie (net in die sendbriewe van Johannes, een en dieselfde outeur van Openbaring – sou hy dit nie juis in dié boek moes vooropstel nie?) In sommige vertalings word antichris as ‘n eienaam gepersonifieer, wat die indruk skep dat dit ‘n persoon is, maar dit is nie waar nie. The Message (al maak hy ook die een woordjie ‘n eienaam, stel dit egter só dat ‘n mens nie die verkeerde afleiding maak nie): “You heard that Antichrist is coming. Well, they’re all over the place, antichrists everywhere you look.”

Uit dié vers, 1 Joh. 2:18, word dit duidelik gestel dat die antichris ‘n korporatiewe entiteit is (wat teenoor die Christus, ook ‘n korporatiewe entiteit) staan – “(daar) bestaan ook nou baie antichriste”. Analoog hieraan staan die simboliese stad Babilon teenoor die simboliese stad van die Nuwe Jersusalem, wat die Bruid voorstel (Joh, 21:2-3). Babilon is dus die korporatief van die vals Bruid. Daarbenewens weet ons dat die gees van die antichris nie soseer teen Christus is nie, maar homself voorhou as in die plek van Christus – dit is in Grieks die betekenis van die voorvoegsel anti-. Dus is die gees van die antichris die instigerende faktor teen almal wat bely dat Christus in die vlees gekom het (d.w.s. nie net in Jesus nie, maar ook in Christus), soos 2 Joh. 1:7 dit dan ook uitspel: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.”

God het in die vlees gekom het in die gestalte van Jesus (ons noem dit die inkarnasie – “die verborgenheid van die godsaligheid … God is geopenbaar in die vlees” – 1 Tim. 3:16); maar God het Homself ook deur Jesus geïnkarneer in elke gelowige wat in Christus is: “So, my brethren, to you also the Law died through the incarnation of Christ, that you might be wedded to Another, namely to Him who rose from the dead in order that we might yield fruit to God.” (Rom. 7:14, WNT)! Hierdie “fruit” is die goddelike natuur (2 Pet. 1:4), want die “saad … is Christus” (Gal. 3:16). Sela.

1 Joh. 4:3 sê eksplisiet die sogenaamde antichris is ‘n gees, wat ontken dat God in die vlees van Jesus gekom het (soos die Jode, byvoorbeeld), maar ook diégene wat ontken dat Jesus Christus, wat God is, geïnkarneer is en gemanifesteer en openbaar word in die vlees van sy veelledige Liggaam, die Bruid.

Hierdie gees van die antichris is die gees wat elk van hierdie ‘hooffigure’ van die Bybelse apokalips rig. Dit is nie nou die opgaaf om ‘n meer detailverduideliking te gee van wat die dier, die vals profeet, en so meer, is nie. Meer belangrik is die feit dat hul elkeen in die poel van vuur en swael gaan beland. In die lig dan van die eerste deel van dié Manna – soos hierdie openbaring oor die Christus tot sy heerlike konsekwensies gaan ontwikkel, sal die lewe, karakteraard, krag, outoriteit, en veel meer van Jesus in sy Christus ge-apokalupo word, unveil word, geopenbaar word. Daardie vuur van Sy vermeerdering in die Bruid sal ‘n vuuroond van geregtigheid word (in Mal. 3:1-3) vir ALLES. Op hierdie stadium, sê 1 Joh. 3:2 weet ons nie presies wat of hoe ons sal wees nie, maar as die realiteit – wat Christus is (Kol. 2:17, GNB) – sal uitbreek, sal ons Hom op die aarde manifesteer. Weer Kol. 3:4 in drie verskillende vertalings:

  • “Whenever Christ our life is revealed, then also you will be revealed with Him in glory.” (LITV);
  • “when the Christ–our life–may be manifested, then also we with him shall be manifested in glory” (YLT); en
  • “As soon as, the Christ, shall be made manifest—our life, then, ye also, together with him, shall be made manifest in glory …” (Rotherham)!

 

Hóé dit gaan gebeur, veral in reliëf met die dier, die vals profeet en die duiwel, en dan ook die dood en die doderyk wat in dié poel poel van vuur gewerp word, sal in die volgende Manna bespreek word. Soos die masskrif vra: Kan jy woon by ‘n verterende vuur?

 

  • Sela: Verduidelik die inkarnasie van Jesus en Christus aan iemand (gebruik 6:4).
  • Lees: 6-14
  • Ondersoek die OT-tipologie: 11:4 (Wenk: 1 Kon. 19:18)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: As die saad van Christus in jou ontkiem …