“die krag van sy opstanding”
(Fil. 3:10, OAV)
In die vorige twee Mannas is uitgewys hoe werk die meesterplan van God om die splitsing (“fission”) wat die Eerste Adam veroorsaak het en kataklismiese gevolge gehad het, teengewerk word deur die versmelting (“fusion”) van die Laaste Adam. Joël 2:1-11 is voorgehou om die vrystelling van hierdie fusion-power, Jesus die Hoof se opstandingskrag wat gemanifesteer word in sy Liggaam, te verduidelik. Daar is egter nog drie sake uit Joël 2 wat nadere toeligting vra.
Eerstens: In vers 3 word die scenario wat in ooreenstemming is met ons oorkoepelende tema van die transmutasie van vuur netjies uiteengesit: “Voor hom uit verteer ‘n vuur, en agter hom brand ‘n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ‘n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.” Let op dat as daar voor die Bruid vuur is, en agter die Bruid is vuur, die Bruid haarself IN DIE VUUR bevind. Anders gesien – die omgrensing van vuur maak van die Bruid duidelik ‘n vuuroond, as ‘t ware ‘n kernreaktor, dit wat Mal. 4:1 geprofeteer het. In Dag 698 is verduidelik dat in die Bruid as die “bedekking”/woonplek van verterende vuur (= vuuroond) “werp” Jesus sy vuur op die aarde.
Tweedens: Joël 2:10 sê: “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.” (Vergelyk ook soortgelyke taalgebruik in 2:31 en en 3:15.) Hierdie apokaliptiese beelde is so reg uit die boek Openbaring (sien 6:12; 8:12; 20:11; maar ook uit Mat. 24:29; Mark. 13:24-25; Luk. 21:25-26; en Hand. 2:20.) Nog altyd is hierdie skrikwekkende beelde van die hemelliggame gesien as iets wat eers met die wederkoms sal gebeur, maar ons sien dat daar in die dag van die Here geestelik gesproke ‘n vrystelling van lig en krag is wat die natuurlike lig totaal troef. Die son, maan en sterre van ons fisiese realm is nié die “elemente” waarvan 2 Pet. 3:10 praat nie. In Dag 706 en Dag 708-709 het ons ‘n deeglike saak daarvoor uitgemaak dat die woordjie “elemente” nie hier dui op hemelliggame, die konkrete elemente van materie nie, maar op die elementêre godsdienstige beginsels. Uiteraard word die son, maan en sterre as “ligbronne” in dié gedeelte nie natuurlik nie, maar geestelik bedoel. (God sê op die eerste skeppingsdag: Laat daar lig wees, maar die son en maan en sterre word eers op die vierde skeppingsdag tot stand gebring.) Die natuurlike mens sal by natuurlike lig funksioneer, maar die geestelike mens lewe (Joh. 1:4) deur die verligting van die Lig, Jesus Christus (2 Kor. 4:4 & 6). In hierdie lig (!) is dit dan baie duidelik dat die simboliese gebruik van son, maan en sterre in hierdie konteks geensins dui op die natuurlike planete nie. (‘n Enkele voorbeeld ter illustrasie. As Open. 1:16 & 20 en 2:1 en 3:1 praat van sterre, sal niemand dit natuurlik kan verstaan nie, want dit is eksplisiet simbolies. Maar sodra ons kom by Open. 6:13 en lees die sterre val op die aarde, wil ons dit ewe skielik letterlik lees, al sal die astrofisika dit onteenseglik duidelik maak dat die totale aarde vernietig sal wees as ‘n enkele ster daarop val.)
Derdens: Joël 2:3 is duidelik: “ook kan niks daaraan (die vuur van God) ontkom nie”.
- Sela: Is jy deel van die bediening van versoening?
- Lees: 1 Kor. 7-9
- Ondersoek die OT-tipologie: 1 Kor. 7:4 (In die lig van dié lering, en Gen. 2:2
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: The days of His power