
“Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond.”
(Mal. 4:1, OAV)
Die vorige Manna is afgesluit met Joël 2:3 – “ook kan niks daaraan (die vuur van God) ontkom nie”. In dié Manna is ook verduidelik dat hierdie vuur hoofsaaklik (alhoewel nie uitsluitlik) die Bruid van Christus is wat as ‘t ware soos ‘n kernreaktor funksioneer om ‘n proses van versmelting (“fusion”), of dan versoening of restorasie, teweeg te bring. Die Bruid as poel van vuur is uit Mal. 4:1 ‘n “vuuroond” genoem. In hierdie Manna moet hierdie metafoor verder ontsluit word.
As mens van die “vuuroond” praat in die Ou Verbond, is Daniël se vriende dadelik voorop. Almal ken die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat op grond van hul gehoorsaamheid aan Yahwe in die vuuroond gegooi is. Wat met hulle, en die ander wat aan die hitte van die vuuroond blootgestel is, gebeur het, is vir ons argument baie belangrik: “Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand … Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ‘n godeseun.” (Dan. 3:21-22 & 25). Die KJV noem die “godeseun” tereg: “the Son of God”! In hierdie vuuroond manifesteer die Seun in hulle midde!
Maar vir ons van tipologiese belang is die proses waardeur die drie jonge manne moes gaan, wat vir ons iets verduidelik van ons – en die ganse skepping – se toetsing met vuur. Wat baie mooi is, is dat hulle drie en Jesus saam die brandende vuuroond word – they posess the furnace! Hierdie uitdrukking: Possess thou the furnace is die Persiese naam van een van die tipologiese Christusfigure van die Ou Testament: Kores. 2 Kron. 36:22 praat van “die gees van Kores”, wat dan figuurlik ook van toepassing is op die “gees van die Bruid”, of dan: “die gees van Christus” (wat nié dieselfde is as die Gees van God nie – Rom. 8:9 – “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”)
Later veel meer oor Kores, want dit is belangrik om net eers die drie manne tipologies te ontgin. ‘n Paar opmerkings oor hulle wat ons uit die boek Daniël tipologies kan interpreteer:
- Die koning van Juda (tipologies van die Bruid) wat verslaan word, se naam is Jójakim. Sy naam beteken: “Jehovah raises up”, wat tipologies dui op die hoë roeping in Christus (Efes. 5:14). Dis belangrik om te besef hierdie vier prototipiese jong manne IS reeds in hierdie uitsonderlike staat van gesondheid en intellektuele bemagtiging voordat hul in ballingskap gaan, met ander woorde hulle is heenwysings na ons wat Hy “in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Efes. 1:4).
- Die vier jongmanne ( = Bruid) is tipologies geestelik gesond, vol van die wysheid van God ( = Christus – 1 Kor. 1:24), bekwaam in die “wetenskap van die Allerhoogste” (Num. 24:16).
- Die hoof van die eunugs (dié wat geen geestelike saad kan produseer nie), wat na die vier jong manne moes omsien en hulle deur ‘n sisteem van koninklike weelde en gerief in ballingskap aan die slaap in die eerste Adam moes sus, is Aspenas, wat beteken: “I will make prominent the sprinkled”. Die besprinkeling in dié konteks is ‘n ritualistiese godsdienstige daad wat suggereer dat hulle deur ‘n bepaalde inisiasie moes gaan (Eks. 29:21; Lev. 4:6, 17, 5:19; 14:7; Num. 19:21, e.a.) om vir hierdie nuwe (weliswaar alternatiewe) destiny voorberei te word.
- Hulle moet leer om die taal van die Chaldeërs, “the clod-breakers” te bestudeer, dus die tongval (Mat. 12:37) van die eerste Adam (Gen. 3:19 & 23; 1 Kor. 15:47).
- Al vier se Hebreeuse name (dus identiteit) is geïntegreer met God: Daniël (“God is my judge”; Hananiah (“God has favoured”), Mishael (“who is what God is”), en Azariah (“Jehovah has helped”).
- Maar hul name word onmiddellik verander om hul te máák vergeet van hul identiteit in Christus. Al vier se name verkry die allure van die afgode van Babilon, wêreldse heersers, sekulêre hooggeplaastes, kwasi-geestelikes, met ander woorde deel van “die koninkryke van die afgode” (Jes. 10:10), “die koninkryke van die wêreld” (Mat. 4:8). Die name word (in dieselfde volgorde hierbo) verander na: “lord of the straitened’s treasure”, “royal” of “the great scribe”, “guest of a king” en “servant of Nebo” (= die profeet). Veral laasgenoemde is belangrik, want die Babiloniese god Nebo is verantwoordelik vir geleerdheid en letters, dít waaruit die woorde opgebou word. Die naamverandering ( = die verandering van identiteit) is dus daarop gerig to make them forget “in die land van vergetelheid” (“the land of forgetfulness”), soos Ps. 88:12 dit noem. Hierdie sogenaamde “inventor of the writing of the royal tablets” probeer ‘n ander identiteit vestig in jou. [Nebo se totem is ironies genoeg dan ook die pyl, wat dui op die simbool van skeppingsdoel – om nié jou merk te mis nie.]
- Hierdie jongmanne word in die vuuroond gegooi, “want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. “En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18). [Hieruit is dit baie duidelik dat die Universalisme, wat in byvoorbeeld Robb Bell se boek Love Wins onderliggend gepropageer word, helaas nie Bybels verifieerbaar is nie. Die Universalisme is van die oortuiging dat almal uiteindelik gered sal word, selfs die Duiwel.]
- Maar in die vuuroond, “ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor. 4:17), en as jy “beproef gevind” (2 Kor. 8:22) word, word jy ‘n vuurvlam (Ps. 104:4) in die korporatief van die Bruid, wat dan saam as vuuroond funksioneer! Hierbinne manifesteer die Seun van God korporatief as die Christus.
In Jes. 31:9 word geprofeteer dat die Here “‘n vuur het op Sion en ‘n oond in Jerusalem”. Beide Sion en die Nuwe-Testamentiese (Nuwe) Jerusalem word met ander woorde ‘n vuuroond! Daniël se vriende het vir ons gedemonstreer hoe dit sal werk aan die einde van tye, wanneer God hierdie vuuroond deur sy gesalfde vuurvlamme, die Bruid, vrystel om alles met Hom te versoen. In die volgende Manna word die vuuroond in die Nuwe Testament onder die loep geneem.
- Sela: Hoekom moes Moses op die berg Nebo sterf?
- Lees: 1 Kor. 10-16
- Ondersoek die OT-tipologie: 1 Kor. 15:45 (Wenk:Gen, 2:7)
- Delf dieper: Lees Rob Bell se boek Love wins in die lig van dié lering.