Dag 764-766

 

 

“‘n vuur … op Sion en ‘n oond in Jerusalem”

(Jes. 319, OAV)

 

In die vorige Manna is verduidelik dat die verterende vuur van God hoofsaaklik (alhoewel nie uitsluitlik nie) manifesteer in en deur die Bruid van Christus, wat as ‘t ware soos ‘n kernreaktor funksioneer om ‘n proses van versmelting (“fusion”), of dan versoening of restorasie, teweeg te bring. Die Bruid as poel van vuur is uit Mal. 4:1 ‘n “vuuroond” genoem. Beide Sion en die Nuwe-Testamentiese (Nuwe) Jerusalem word op grond van die masskirf hierbo tipes van die  vuuroond! Daniël se vriende het vir ons gedemonstreer hoe dit sal werk aan die einde van tye, wanneer God hierdie vuuroond deur sy gesalfde vuurvlamme, die Bruid, vrystel om alles met Hom te versoen. In hierdie Manna wil ons die vuuroond in die Nuwe Testament ondersoek.

Die twee prominentste verwysings na vuuroond kom in twee gelykenisse in Mat. 13 voor.

As aanloop tot die leringgesprek met die skare wat na Jesus kom luister het, sê Mattheus in vers 14 hierdie belangrike woorde: “Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.”

Dit is van die allergrootste belang dat ons besef God praat grotendeels in metaforiese taal met die mens – Ps. 78:2 het hierdie werkwyse van die donker tongval reeds geprofeteer: “Ek wil my mond open met ‘n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.” Daarom, sê Spr. 1:5-6, moet ons vra dat ons insig vermeerder en ons “verstandige gedagtes” kry om “spreuk en beeldspraak te verstaan”. Dit beteken dat God se woorde tot die mens meestal nie letterlik gelees en verstaan moet word nie – hierdie bly een van die grootste struikelblokke in die verstaan, toepassing en uitlewing van die Skrif – gelowiges verletterlik die Bybel omdat hulle dink dit is wat  fundamentalisties beteken. Fundamentalisties beteken egter om te aanvaar die hele Skrif deur God ingegee is en dat dit sy totale plan vir die verlossing van mens en wêreld bevat, dat dit nie ‘n tydsgebonde dokument is nie, maar die woorde van God aan die mens. MAAR dat die Bybel gelees moet word soos die Bybel self sê dit gelees moet word, en dit sluit in dat ons die simboliese, metforiese en beeldspraakaard daarvan sodanig moet hanteer wanneer dit eksplisiet so aangebied word. Té dikwels lees ons selfs die gelykenisse as letterlike gebeure, en maak daarvan ‘n dogma – dit “breek” die Skrif (Joh. 10:35).

Mattheus 13 is die hoofstuk in die Bybel waar 7 gelykenisse mekaar in snelvuur opvolg. ‘n Uiteensetting van hoe die gelykenisse op mekaar volg, sal help om die gang van Jesus se uitgebreide metaforiek te verstaan:

 

  Gelykenis Uitleg vers(e)
1 Die Saaier 3-9
Die Saaier 18-23
2 Die onkruid in die saailand 24-30
Die onkruid in die saailand 36-43
3 Mosterdsaad 31-32
4 Suurdeeg 33
5 Die skat in die saailand 44
6 Die koopman en pêrels 45-46
7 Die net en visse in die see 47-48
Die net en visse in die see 49-50

 

Dis interessant dat net in drie van die sewe gelykenisse die uitleg self deur Jesus gedoen word, en dit is in dié verklaringe dat die woordjie “vuuroond” gebruik word, naamlik in gelykenisse 2 en 7. Ons gaan dan spesifiek na hierdie twee gelykenisse se uitleg deur Jesus self kyk.

Allereers die verklaring van die gelykenis van die onkruid in die saailand: “Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”

Hierdie gelykenis word bykans ALTYD verkeerd gelees, selfs ten spyte van Jesus se eksplisiete verklaring daarvan. Let ‘n paar baie belangrike dinge op:

  • die goeie saad is mense van die tweede dimensie waar die evangelie van die koninkryk van God gepredik en aangeneem is en die wedergeboorte plaasgevind het (Joh. 3:3-5) – hulle is duidelik “die kinders van die koninkryk”
  • die onkruid is ook mense, wat hier “kinders van die Bose” genoem word, en ‘n mens kan aanneem dit is mense wat nié gered is nie (met ander woorde nie by die kruis uitgekom het nie).
  • MAAR ons moet onthou dat Jesus in Joh. 8 met die gelowiges van sy tyd gepraat het, en vir hulle gesê het: “Ek weet dat julle die geslag van Abraham is” (vers 37) en dat hulle dus kan aanspraak maak op God as Vader (vers 41). En dan sê Jesus hierdie uiters ontstellende woorde in vers 44: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.” Dit bring noodwendig Mat 7:21 in herinnering – “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Vers 22 sê dat selfs Geesmanifestasies van die tweede dimensie, om in sy “Naam (te)profeteer en in sy Naam duiwels uit (te) drywe en in sy Naam baie kragte  (te) doen” nie noodwendig ‘n waarmerk is dat jy ‘n “kind van die koninkryk” is nie, al is jy dalk deur die rituele van doping met water en doping met die Heilige Gees. Soos Mat. 15:8 sê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.”
  • Dit klink baie hard om goeie ongeredde mense weliswaar “kinders van die Bose” te noem, maar Rom 1:18-21 verduidelik dit mooi – “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”
  • In die lig van alles wat tot dusver uiteengesit is, is dit duidelik dat dit dan nié net ongereddes is wat as “kinders van die Bose” getakseer word deur Jesus nie, maar selfs ook mense in die eerste en tweede dimensie. Skrik. Onthou Jesus se onomwonde uitspraak: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.” (Mat. 12:30). In Albert Barnes’ Notes on the Bible sê hy in sy kommentaar hierop dit besonder raak: “In addition to his other arguments, Jesus urges this general principle, that there can be but two parties in the universe. If anyone did not act with him, he was against him. If he gathered not with him, he scattered. This is taken from the practice of persons in harvest. He that did not gather with him, or ‘aid’ him, scattered abroad, or opposed him.”
  • Die “kinders van die Bose” as ‘n kollektiewe term bestaan dus uit ongereddes, ook persone wat wel gered is, sowel as persone wat selfs ook wedergebore kan wees, maar wat as gevolg van sonde, ongehoorsaamheid en eiesinnigheid nié die koninkryk van God en sy geregtigheid soek nie (Mat. 6:33). Hulle is nie vir Hom nie, maar teen Hom. Hulle is diégene wat Open. 3:15 noem “nie koud is en ook nie warm nie”. 1 Joh. 2:9 stel dit eksplisiet: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”
  • Uit die gelykenis is dit duidelik dat diégene wat hier kollektief as “onkruid” gemerk is, weliswaar “met vuur verbrand word”. Ons sal later uitspel wat presies dit simbolies beteken.
  • MAAR: “Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond” (Mat. 13:40-42). Nie net die ongelowiges word in die vuuroond gegooi nie, OOK “hulle … uit sy koninkryk”, spesifiek dan die struikelblokke en dié wat ongeregtigheid doen! Hulle land in dieselfde vuuroond! Hierdie is die duidelikste aanduiding dat dit nie hel is nie, of dat die poel van swael en vuur nie straf ten doel het nie, maar reiniging en herstel.
  • In die Bruid as vuuroond, waarin die “vuurvlamme” wat God se karakteraard van ‘n verterende vuur op aarde manifesteer, word beide die ongelowiges én die gelowiges “wat die ongeregtigheid bewerk” geplaas. “Elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1 Kor. 3:13-15).
  • In hierdie lig is Open. 21:8 veel duideliker: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”

 

Dit is van die uiterste belang dat ons die konsep ”die tweede dood” verstaan soos wat die begrip in die boek Openbaringe verduidelik word. In die lig daarvan kan ons die slotgedagtes rondom die vuuroond deel. Dit sal in die volgende Manna gebeur.

 

  • Sela: Probeer die begrip “tweede dood” vir jouself verwoord.
  • Lees: 2 Kor. 1-9
  • Ondersoek die OT-tipologie: 2 Kor. 5:17 (Wenk:Jes 43:18-19; 65:17-18).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Eerste Adam en die Laaste Adam –

                               Wat kies jy?