Dag 773

 

 

Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker,

Jesus Christus.”

(2 Pet. 3:18, OAV)

 

Die tema tans op die brandofferaltaartafel som Adam Clarke raak op: “The object of all God’s promises and dispensations was to bring fallen man back to the image of God, which he had lost. This, indeed, is the sum and substance of the religion of Christ. We have partaken of an earthly, sensual, and devilish nature; the design of God by Christ is to remove this, and to make us partakers of the Divine nature …”

Redding, en voortvloeiend daaruit, wedergeboorte, is nie die eindpunt van ons geloof nie, maar die begin. Met wedergeboorte word die onverganklike saad in ons geplant (1 Pet. 1:23; Joh. 1:13), wat die saad is wat God aan Eva reeds in Gen. 3:15, net na die sondeval, belowe het. Later is dieselfde ontvouende belofte toegesê aan Abraham, die vader van ons geloof (Hand. 3:25). En dan kom Paulus in Gal. 3:16 en verduidelik dat daardie saad wat met wedergeboorte in ons geplant word, is Christus!

Die probleem egter is dat hierdie Goddelike saad – wat ten doel het om Sy natuur in ons te vestig – geplant word in ‘n domein wat vroeër met die saad van die slang geïnfesteer is (Mat. 3:7; 12:34; 13:38; 23:33; Joh. 8:44; 1 Joh. 5:19). Op hierdie turf van die vlees is gedoem om distels en dorings op te kom (Gen. 3:17-18). In Jes. 34:13 word uitgespel dat die mens as geestelike grondgebied oorval is met skadelike voortbrengsels, en dat dié dan ‘n lêplek word van allerhande demone: “En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal ‘n lêplek van jakkalse, ‘n verblyf vir die volstruise wees.”

As die saad van die Groot Verleier, Satan, dan in ons gesaai is, sal dit sy natuur en karakteraard in ons voortplant. In Hand. 13:10 word vertel van die man met die naam Bar-Jesus, met ander woorde: Seun van Jesus, ook Elymas genoem, wat streng deur Paulus aangespreek word: “Seun van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” Duidelik nié “seun van Jesus” nie, maar “seun van die duiwel”, op grond van die saad wat in hom gesaai is.

In Heb. 6:7-8 word verduidelik dat as God die reën (hier voorgehou as deel van die Goddelike genadegawes en die geestelike seëninge – Deut. 28:12) gebied oor hierdie gekorrupteerde aarde van die vlees (Mat. 5:45, oor regverdiges én onregverdiges), sal dit nie net goeie vrug lewer nie, maar ook dikwels doring en dissels: “Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding.”

As wedergeborenes moet ons van ons dark nature ontslae raak, en “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Hoe gebeur dit?

 

  • Sela: Hoe gebeur dié transformasie van “dark nature” to “Godly nature”?
  • Lees: 4; Kol. 1-2
  • Ondersoek die OT-tipologie: 2:16
  • Delf dieper: Lees Francis Schaeffer se uitmuntende boek: Ash Heap Lives.