“Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is …”
(Deut. 32:7, OAV)
Alvorens ons gaan begin met verskillende aspekte van bevryding van demoniese vestings in gelowiges se lewe, is dit van groot belang om net eers ‘n oorsigtelike Bybelse perspektief oor die mag en outoriteit van demone in gelowiges se lewe te gee.
Daar is twee breë posisies ten opsigte van die Bose – ’n totale onderskatting en ‘n totale oorskatting, wat albei Satan en sy koninkryk baat.
In die 1940’s het die toonaangewende teoloog Rudolf Bultman gesê die Nuwe Testament moet geontmitologiseer word, d.w.s. ons moet ontslae raak van al die animistiese geloofsoortuigings van engele, duiwels, geeste, en so meer. In die tyd van vliegtuie en kernkrag is daar nie meer plek daarvoor nie, het hy gemeen. Of Bultman in die bestaan van die Bose glo, of nie, verander egter geensins aan die realiteit van die Bose se bestaansfunksionering nie. Los van enige doktrine en dogma oor die rol van die Bose kan ons die werkinge daarvan sien in mense en die wêreld rondom ons: siekte, dood, gruwelike mishandelinge, verval, vernietiging, rampe, ongelukke, 9/11, Holocaust, die verkragting van kinders, ens. Ook is die okkult ‘n wesenlike realiteit, ook die manifestasie van demoniese werkinge in mense se lewens. Ronald Higgins, in sy boek The Seventh Enemy, praat van “man’s inertia and blindness” oor dié saak.
Daar is baie spekulasies oor presies wie en wat die Bose is, maar vir die huidige doeleindes is dit nie nodig om in te gaan op “die dieptes van Satan” (Open. 2:24) nie. Jessie Penn-Lewis se uitspraak in haar omvattende boek Warfare on the Saints bly vir my ‘n belangrike uitgangspunt in hierdie saak: “There is one Satan, but myriads of wicked spirits called ‘demons’: lying spirits, deceiving spirits, foul spirits, unclean spirits, subjectively at work in men. Who they are, and whence their origin, none can positively say.”
Die Bybel praat deurgaans van die rol van die Bose in mense se lewens. Ons kyk in dié Manna net eers na voorbeelde in die Ou Testament, waar die Bose en die demoniese werkinge duidelik gedokumenteer is. ‘n Paar voorbeelde ter illustrasie:
- “Toe Abiméleg drie jaar oor Israel geheers het, het God ‘n bose gees gestuur tussen Abiméleg en die burgers van Sigem, en die burgers van Sigem het troueloos gehandel teen Abiméleg …” (Rigt. 9:22-23)
- “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.” (1 Sam. 16:14)
- “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.” (1 Kron. 21:1)
- “En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel.” (Job 2:7)
- “Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae.” (Sag. 3:1)
- “Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het …” (Deut. 32:7)
Hierdie is vir my ‘n baie mooi definisie van “duiwels”: “nie-God” – alles wat God nié is nie.
- Sela: Watter rol speel Satan in jou lewe?
- Lees: 2 Tim. 1-4
- Ondersoek die OT-tipologie: 2 Tim. 2:16 (Wenk: Esra 10:10; Nah. 3:15)
- Delf dieper: Luister Tom Gouws se cd-lering: Die bevryding van persone met demoniese bindinge