Dag 78

 

“En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1 Joh 2:17, OAV)

Daar is in die Woord ses basiese voorwaardes vir elkeen wat begerig is om die wil van God vir hulle lewe te onderskei. Noem dit dan maar die beginsels wat voorgehou word as algemene vereistes alvorens jy by die spesifieke detail van jou wandel in die wil van God kan uitkom.

Eerstens: jy moet gered wees. Dit is God se wil vir alle mense (2 Pet 3:9; Mat 18:14). Perhaps stating the obvious: ‘n ongeredde mens kan nie in die wil van God wandel nie.

Tweedens: Jy moet deur God se Woord en Gees beheer word (Efes 5:18-21; Kol 3:16-17). Vervulling met die Gees en gehoorsaamheid aan die Woord, is ‘n voorvereiste om in Sy wil te beweeg.

In die derde plek: Jy moet kies om jou deurentyd aan die wil van God te wil onderwerp (Rom 12:1-2).

As Paulus in 1 Thes 4:3-6 stel: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking …”, is dit die vierde voorvereiste. Heiligmaking beteken dat jou sielsdimensie: wil, intellek en emosie deurgaans verander en aangepas word om die karakter van Christus te demonstreer. Sonder heiligmaking, sê Heb 12:14, sal ons Christus nie sien nie. Dit beteken nie jy is nie gered (dit wil sê verlore) nie – dit beteken dat jy nooit verder as die Buitehof sal beweeg nie. En dat jy nie ‘n openbaring van Christus sal kry nie – jou geestelike oë sal nie geopen word nie. Dit impliseer noodwendig dat jy nie in God se wil vir jou lewe kan beweeg nie.

Die vyfde voorwaarde kry ons in 1 Pet 2:15 & 17. “Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring …Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.” Onderwerping aan gesag is van geweldige belang – onthou: alle gesag kom van God af (Rom 13:1-4), selfs nie-Christelike regerings of owehede.

In die laaste plek: 1 Thes 5:18 stel dit onomwonde: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” Wees in ALLES dankbaar – hierdie is een van die heel belangrikste sleutels van die Koninkryk van God. Ons kom straks hierop in die volgende lering terug. 

  • Sela: Waar staan jy ten opsigte van hierdie algemene beginsels om te kwalifiseer om in die wil van God te begin loop? Maak dit uit met die Here. En wees baie eerlik met jouself.
  • Lees: Eks 28; Ps 78; Mark 4
  • Memoriseer:  Mark 4:22
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Ascending and descending.