“’n waarsêende gees”
(Hand. 16:16, OAV)
In die volgende Mannas gaan die veertien gespesifiseerde geeste wat die Bybel noem, aan bod kom, en ons gaan probeer om die funksionering daarvan prakties toe te lig.
In die Pinkster- en Charismatiese tradisie het daar met die verloop van jare ‘n demonologie ontstaan, ‘n kwasi-wetenskaplike leer oor die demoniese genealogie, geslagsregisters en outoriteitsvlakke. Baie gelowiges is voltyds besig gehou en het sodoende van die slang ‘n draak gemaak, en ons weet die draak is ‘n verbeelde dier. Deel van die demoniese komplot is om welmenende Christene heeltyd besig te hou om Satan en sy trawante te veg, en in die proses het hul geensins krag of tyd om hul skeppingsdoel en roeping te vervul nie. By baie het bevryding ‘n bediening geword, en dit is nie noodwendig verkeerd nie, maar dit kan en mag nooit die somtotaal van jou roeping wees nie. Ons hanteer demone en prinsipaliteite soos wat die Heilige Gees dit uitwys en soos wat dit ons hinder in die volvoering van wat ons geroep is om te doen.
‘n Groot deel van die ontmitologisering van die Bose is bloot Bybelse kennis. Daar word in die ganse Bybel net veertien geeste eksplisiet benoem, waarna ons vervolgens gaan kyk.
Die eerste gees is ‘n gees van waarsêery (a spirit of divination). Ons lees daarvan in Hand. 16:16-18 – “En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.”
Let daarop dat hierdie gees die waarheid gepraat het – Paulus en sy gevolg wás dienaars van God; boonop spesifiseer sy God as die Allerhoogste (in Hebreeus El Elyon), een van God se Name (byvoorbeeld só vertaal in The Complete Jewish Bible). Daarbenewens stel sy dit eksplisiet, en presies korrek, dat hulle die weg van verlossing (dit is Jesus – Mark. 12:14; Joh. 14:6; Hand. 9:2) verkondig. Hierdie gees klink net soos die ware Jakob, maar jy het die gees van onderskeiding nodig om hom uit te ken. Helaas preek hierdie gees in baie gemeentes.
Die woordeboekdefinisie van hierdie gees is “the practice of attempting to foretell future events or discover hidden knowledge by occult or supernatural means”. Mense wat byvoorbeeld goedsmoeds met ‘n woord van kennis te koop loop, sonder dat dit funksioneel en konfidensieel is, funksioneer dikwels in hierdie gees. Dit kan in ‘n gelowige kom deur okkultiese blootstelling, fortuinvertel, blootstelling aan watergeeste, passiewe mindstates, glasie-glasie speel, okkultiese items in jou huis, en standhoudende rebellie. Dit staan die Heilige Gees en gawes teen.
Ons begin met hierdie gees omdat die uitdrywing of bestraffing daarvan eksplisiet gestel word vir ons om na te volg.
- Sela: Het jy dalk dié gees? Hanteer dit.
- Lees: 7-9
- Ondersoek die OT-tipologie: 7:9 (Wenk: Gen. 14:20)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Grondbeginsels van bevryding.