Dag 788-790

 

“He practiced witchcraft and fortunetelling.

He held séances and consulted spirits from the underworld.”

(2 Chron. 33:6, Message)

Ons is tans besig om die veertien gespesifiseerde demoniese geeste wat die Bybel by die naam noem, te ondersoek en toe te lig. In die vorige Manna het die tweede gees, naamlik die gees van afgestorwenes, ook beter in Engels bekend as familiar spirits, onder die soeklig gekom.

Die Woord van God verbied enige betrokkenheid by die realm van die dode. Tog is dit vreemd, want die Skrif is duidelik dat “die dooies weet glad niks nie” (Pred. 9:5). Hoekom dit verbied as dit eintlik dooie kommunikasie of betrokkenheid is? Korag, in Ps. 88:11-12, vra dus eintlik ‘n retoriese vraag: “Kan U aan die dooies ‘n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela. Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering?” Die antwoord hierop is ondubbelsinnig: Nee. Waarom dan verskeie kere die eksplisiete waarskuwing daarteen:

  • 19:31 – “Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.”
  • 20:6 – “En as ‘n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit.”
  • 20:27 – “En as daar in ‘n man of vrou ‘n gees van ‘n afgestorwene is of ‘n gees wat waarsê, moet hulle sekerlik gedood word. Hulle moet gestenig word. Hulle bloedskuld is op hulle.”
  • 22:18 (BBE) – “Any woman using unnatural powers or secret arts is to be put to death.”
  • Deu 18:10-14 – “Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit. Opreg moet jy wees met die HERE jou God. Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die HERE jou God het jou nie so iets toegelaat nie.”

 

Die antwoord is eenvoudig, en ons het dit in die vorige Manna uitvoerig verduidelik – dit is nie die dooies waarmee jy te doen het nie, maar demone. Sela.

Die gees van afgestorwenes se Engelse benaming, familiar spirits, vat iets daarvan vas wat die Afrikaans nie doen nie. Hierdie demone het dikwels die reg om deur bloedlyne, afstamming of sterk assosiasie met ongoddelike rituele, idees of aksies jou te beset. Families en die geslote blootstelling aan bepaalde sake bied absoluut die teelaarde vir die oordra van familiêre geeste. Verskeie dinge kan ‘n rol speel daarin: handoplegging, naamgewing, seëning, vervloeking, familierituele, blootstelling aan okkultiese praktyke of gewoontes (selfs onwetend) in die familiesirkel, besoeke aan grafte, items of kledingstukke waaraan bonatuurlike waarde geheg word en wat as relikwieë dien, en so meer. Ons gaan nie in detail hierop in nie, maar wil net ‘n paar sake duidelik in perspektief stel:

  • Ongeregtighede, met ander woorde ‘n sondelas wat nie as gevolg van jou dade verwerf is nie, oortredinge wat nie jou verantwoordelikheid is nie, maar wat deur bloedlyne oorgedra word en besoek word, is ‘n Bybelse realiteit. As deel van die Tien Gebooie word dit byvoorbeeld uitgespel dat God “die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag” (Eks. 20:5). Selfs in die Nuwe Testament word ongeregtighede steeds benoem en onderskei (Rom. 6:13; 1 Joh. 5:17).
  • Baie mense glo dat die feit dat hulle dit nie geweet het nie, hulle kwytskeld of vrystel daarvan. Dis nie waar nie. Jes. 5:13 sê: “Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis …” en Hos. 4:6 – “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis …” Selfs in die reg is onkunde en naïwiteit geen verskoning nie.
  • Eweneens is baie mense van mening dat die bedeling ná die kruis kategories met alle ongeregtighede klaargespeel het. Alhoewel ons reeds vroeër oor ongeregtighede geskryf het, is dit die gees daaragter waaroor ons dit nou het. Die kruis en die bloed van Jesus is net effektief vir hulle wat daarby uitgekom het, met ander woorde voor jou redding en wedergeboorte het die ongeregtighede uiteraard alreeds ‘n effek op jou lewe gehad (Ps. 51:5). In die Ou Testament is in Jer. 31:29-31 dit profeties in die vooruitsig gestel dat die nuwe verbond ‘n nuwe bedeling sal wees rondom ongeregtighede: “In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword. Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word. Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit …” MAAR die nuwe verbond is net geldig vir hulle wat ‘n kontraksluiting met God by die kruis gehad het, en daarin is jou ongeregtighede saam met Jesus verbrysel (Jes. 53:5).
  • Daar moet met ongeregtighede by die kruis gedeel word, anders blý dit ‘n funksionerende realiteit. Die res van die mensdom wat nié gered en wedergebore is nie, is steeds onder die unversele wetmatigheid van die wet van “saai en maai” (Gal. 6:7; Gen. 8:22; Job 4:8; Spr. 1:31)

 

Die gees van waarsêery kan op verskeie maniere toegang tot jou kry:

  • deur mediums (selfs die ‘onskuldige’ Madame Ferroni in haar karavaan wat jou toekoms voorspel). As jy dalk eendag terloops ‘Die sterre voorspel’ gelees het, of deur Linda Goodman se boek oor Star Signs geblaai het, of John Edward se Crossing over raakgeflick het op televisie, beteken dit nie die demoon het op jou gespring nie. Dit gaan oor langdurige blootstelling, meelewing en geloof in/aan die okkultiese wêreld.
  • nekromansie word deur die woordeboek gedefinieer as die “voorspelling van die toekoms deur afgestorwenes te raadpleeg” (HAT), maar dit sluit ook gemeenskap met dooies in. Laasgenoemde is myns insiens nie net seksuele gemeenskap nie, maar ‘n ongesonde verbintenis en verknogtheid aan/met die dood, grafte, relieke van dooie persone, en so meer. Daar is baie mense wat getrou bepaalde rituele uitvoer met geliefde afgestorwenes, en dit mag resulteer daarin dat hul ‘n familiar spirit so verkry. Dis belangrik om (behoorlik) te rou oor die afsterwe van geliefdes, maar ‘n durende droefheid kan jou absoluut vir hierdie gees oopmaak. 2 Kor. 7:10 spel dit uit: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.”
  • Mistisisme maak poorte oop vir die waarsêende gees, en dit sluit allerlei aktiwiteite in, byvoorbeeld: ESP (ekstrasensoriese persepsie), die gebruik van dwelms of misbruik van en die verslawing aan medisyne, outomaties skryf, ooridentifikasie met historiese figure (byvoorbeeld Elvis, Hitler, Moeder Theresa, wie ook al), die “praat” met iemand se gees (soos wat Arthur Burke byvoorbeeld doen), T.B. Joshua wat op jou ‘n gees van ‘n afgestorwene plaas tydens besoek aan sy “prayer mountain”, om te val in die gees én jou bewussyn te verloor of flou te word, enige vorm van mesmerisering waarin jy aanhoudend dieselfde ding doen, mantras sê (soos mense byvoorbeeld met die gebed van Jabez doen), waterwys (met wilgertakke of draad, nie met geologiese instrumente nie), toekomsvoorspel deur palmlees, kristalballe, teeblare, speelkaarte, tarot of die I Ching, blootstelling aan of obsessie met die para-normale en wicca, die sogenaamde “warm hande” van geloofsgenesers (soos mevrou Laponder se gebede waar haar hand en jou siek liggaamsdeel warm word tydens gebed), seremoniële magick, Satanistiese rituele, en so meer, kan alles jou aan die demoniese realm blootstel. Die kern van die meeste aktiwiteite is om kennis en mag te verkry van ‘n bron buite die God van die Bybel.

 

Tot nou toe het ons uitvoerig deur ‘n teoretiese bril na die saak gekyk, maar ons wil net ook kyk na praktiese aspekte daarvan, veral in die lig van die paragraaf waarmee ons die vorige Manna afgesluit het – Endor beteken: fountain of dwelling. of dan fountain of the generation/age. Gedagtig dat die heks juis instrumenteel was in Saul se verlies van sy skeppingsdoel (= fontein), wys dit ook korporatief hoe hierdie familliêre gees uiteindelik jou hoë roeping in Christus kanselleer en tot niet maak.

‘n Praktiese getuienis in hierdie verband. Toe ek op skool was, het my sussie wat vyf jaar ouer as ek was, radikaal tot bekering gekom en in haar hoë roeping begin stap. Sy was in daardie stadium ‘n verpleegster wat veral nagdiens gedoen het. In die lang ure wat hul moes wakker wees, was dit algemene praktyk dat die nagwerkers dikwels glasie-glasie gespeel, die Boereweergawe van die ouijabord.

Die ouijabord is ‘n platvlakbord waarop al die letters van die alfabet is, die getalle 0-9, die woorde ja, nee, hallo en totsiens. Dit gebruik voorts ‘n plansjet, ‘n ligte klein hartvormige houtvormpie waarmee die gees dan oor die bord beweeg en boodskappe uit die realm van die dode uitspel, veral tydens séances. Die deelnemers sit ‘n vinger liggies op die plansjet en dan beweeg dit en spel sekere woorde uit.

My sus het nie regtig kennis gehad van die saak nie, en as junior verpleegster het sy nie veel van ‘n keuse gehad om mee te doen nie. Die een aand wat die verpleegsters dit speel en “geeste oproep”, spel die “geeste” vir die een verpleegster – ‘n onaansienlike oujongnooi wat geen belangstelling van die teenoorgestelde geslag gekry het nie – dat sy die volgende week dolverlief en getroud sal wees. Vir die ander jong, ongetroude verpleegster spel die “geeste” uit dat sy swanger is. En vir my sussie spel hy uit: Volgende jaar die tyd sal jy gesterf het.

Nodeloos om te sê was dit ‘n geweldige skok, veral vir die laaste twee verpleegsters. Die een het na ‘n paar dae kon bevestig dat sy swanger is. Die ander verpleegster en ‘n blinde pasiënt wat sy versorg het, het rasend verlief geraak op mekaar en is sommer in die hospitaal getroud, binne ‘n week.

My sus het met die onbetwiste noodlotsbeslissing gesit – binne ‘n jaar sal ek sterf. Sy het besluit om niemand anders te vertel nie, net vir my as vertroueling. Dit was ‘n geweldige las vir my, en uiteraard vir haar, om te dra – dit was ‘n afgryslike jaar in ons lewens. Soos verwag het sy deur al die fases van ‘n onverwagte doodsvonnis gegaan: woede, selfbejammering, vrees, onsekerheid, twyfel. Toe die gewraakte tyd aanbreek, ‘n jaar vanaf die tyd wat voorspel is dat sy sou sterf, het dit nie gebeur nie. Ek het op die broos glaspaadjie van hoop begin stap, maar gesien dat die trauma ir haar te veel was. Sy het aangegaan met haar lewe, maar in die proses het sy  haar geloof, en haar roeping, heeltemal verloor.

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees om enige betrokkenheid aan okkultiese praktyke aan die lig te bring.
  • Lees: 1 & 2 Pet.
  • Ondersoek die OT-tipologie: 1 Pet. 1:2 (Wenk: Jes. 65:9 & 22).
  • Delf dieper: Raadpleeg Kurt Koch se boek: Occult ABC.