“Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God ” (1 Thes 5:18, OAV)
Ek was sestien en het pas tot wedergeboorte gekom – ek het ‘n groot geel bumpersticker: JESUS LEEF! op my groentefiets geplak en was onstuitbaar in hierdie wonderbaarlike eerste liefde. Dit was so opwindend om verhouding te kon hê met die God van die Heelal en Sy stem te kon hoor. Die heel eerste boekie wat die Heilige Gees my gelei het om te lees was van Merlin Carothers: Leer Hom loof. Hieruit het ek my eerste beginsel van funksionering in die nuutgevonde Koninkryk van God gekry: dit is die wil van God om Hom in alle omstandighede te loof en waarlik dankbaar te wees.
Finansieel was dinge in daardie stadium baie tough in ons huis en ek het vir ‘n baie lang tyd gespaar om vir my ma ‘n verjaarsdagpersent te kon koop. Met my kosbare blou ou R5-noot in my broek se geldsakkie is ek winkels toe. Op pad soontoe joke ‘n groep jong swartmans met my en in die ruk en pluk-speletjie pocketroll hulle my R5 so ongesiens uit my geldsakkie. Met ma se presentjie in my hand, was daar by die kassier nie ‘n beduidenis van die geld nie. Ek moes dit terugsit en hard veg teen die trane van teleurstelling. Maar die Heilige Gees het onmiddellik in my gees gesê: “Wees altyddeur bly; prys God ook in hierdie slegte omstandighede.” Met trane in my oë het ek in Stasiestraat in Mafeking tussen al die hordes mense gestaan en God, weliswaar terwyl ek op my tande kners, begin prys dat die geld gesteel is. Dit was vrekmoeilik in die begin, maar later het daar ‘n vreemde vreugde in my begin opwel en my begin oorspoel. Ek het Joh 17:13 leer ervaar: Sy blydskap het in my volkome geword!
Op ‘n ander pad huistoe het ek skielik begin ligloop, totaal los van die verlies. En op ‘n stadium voel ek die Heilige Gees prompt my om terug te kyk na die straat se kant toe, en daar – teen ‘n parkeermeter – lê ‘n ‘n blou vyfrandnoot vasgewaai. Hand 3:8-9 het toe spontaan ingeskop: “En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop … terwyl hy rondloop en spring en God prys. En almal het gesien hoe hy daar loop en God prys.”
Prys God in alle omstandighede – dit is die ultimate uitspreek dat jy vertrou dat Hy in beheer is van jou lewe én alles tot jou beswil sal laat meewerk (Rom 8:28). Só leer jy die toonbrood van Sy wil eet met vreugde (Pred 9:7), want God het behae in jou.
- Sela: Hierdie koninkryksbeginsel vra ‘n totaal nuwe manier van daaglikse irritasies hanteer. Maak asb hierdie nuwe lewenshouding vas in die Gees en kies bewustelik om Hom in alle omstandighede te leer loof.
- Lees: Eks 29; Ps 79; Mark 5
- Memoriseer: Eks 29:45-46
- Vir dieper delf: Lees asseblief self Merlin R Carothers se boekie: Leer Hom loof. (In Engels: Prison to praise).