Dag 791-792

 

Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is,

gode wat aan hulle nie bekend was nie;

nuwes wat kort gelede opgekom het …”

(Deut 32:17, OAV)

 

Die Bybel spesifiseer veertien demoniese geeste. Ons is in dié subreeks besig om daarna te kyk, en ondersoek tans die tweede gees, naamlik die gees van afgestorwenes, ook beter in Engels bekend as familiar spirits.

Een van die wyses waarop gelowiges ‘n familiêre gees kan kry, is om bedien te word deur iemand wat “‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:5). In Mat. 7:15 noem Jesus hulle “valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is”. Omdat soveel eietydse gelowiges dikwels naïef en onoordeelkundig sonder onderskeiding mense najaag wat wonderbaarlike genesing bied, wonderwerke doen, bedieninge van wonders en tekens het, kan hul maklik mislei word. Die gawe van onderskeiding is helaas dikwels ongeoefen as dit moet meeding met ‘n ongebreidelde sug na geestelike lust.

Oom Jannie van Zyl, een van die Godsmanne wat ‘n lewendgewende Woordbediening van openbaringskennis gehad het, is een dag uitgenooi om in Durban in die stadsaal te bedien. Hy was baie verbaas oor die uitnodiging, omdat hy gewoond was om aan “the faithful few” in kleiner huisgroepe te bedien. Toe hy by die saal opdaag, was dit stampvol. Daar het ‘n atmosfeer van ingehoue afwagting geheers. Jannie het gebid en die Bybel oopgeslaan en begin preek. Daar het na tien minute so ‘n ongedurige roering deur die skare gegaan. Na nog tien minute het iemand sy hand opgesteek en gevra “En wanneer begin jy bid vir die wonderwerke?”

Die misverstand blyk toe te wees dat die organiseerders Jannie van Zyl verwar het met dr. James van Zyl, die geloofsgeneser van Stanger (eweneens ‘n man van God met integriteit, maar wat as gevolg van sy spesifieke bediening dikwels uitgenooi is vir die genesings wat plaasvind). Toe Jannie die misverstand opklaar, het die meeste mense so stil-stil uit die saal geloop – hulle was nie lus vir blote Woordverkondiging nie, al was die openbaring hóé groot en dinamies en lewensveranderend.

Hierdie insident is sprekend van baie gelowiges se behoefte om enersyds deur geestelike gawes vermaak te word en andersyds hul dringende begeerte na meer gedemonstreerde krag. Ons lééf op hype en drama. Ons charismatiese liedere: More Love, More Power, en Show Your Power verklap ons diep begeerte na onbeperkte geestelike krag. Ons lees en herlees John Wimber se boeke: Power Evangelism en Power Healing. Hóé wydversprei hierdie geestelike krag-sindroom is, blyk die duidelikste uit die kreunende boekrakke van jou naaste Christelike boekwinkel.

Ons vergeet Jesus het in Mat. 16:4 gesê – “‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet.” Die teken van die profeet Jona is dat hy ‘n tipologie is van Jesus wat uit die dood opgestaan het. Ons grootste wonderteken is die kruis, dié teken van totale oorgawe aan die wil van God. Dit is nie ‘n geestelike vuurwerkvertoning van die Heilige Gees nie. Daarbenewens: wonders en tekens volg altyd op die Woordverkondiging.

In 1 Kon. 19:11-12 leer ons uit Elia se soeke na God se gemanifesteerde teenwoordigheid dat “die HERE het verbygegaan, terwyl ‘n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind ‘n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing ‘n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van ‘n sagte koelte.” Weliswaar kán God Hom dramatiese openbaar in ‘n wonderwerk aan ‘n klomp Baälprofete – soos in die vorige hoofstuk – maar dikwels is God bloot in die “wag” op Hom (Luk. 24:49; Hand. 1:4).

Dikwels is daar tydens byeenkomste hierdie onskriftuurlike oproep tot die Gees wat op mense moet “val”. Of aanhoudende snagsmeekgebede om weer deur die Heilige Gees vervul te word (“Come Holy Spirit!”), of ‘n roep totdat die “anointing” nou kom. (As die spartelende prediker uiteindelik uitasem bewend uitroep: The anointing is on me! wonder ek altyd hoekom het ons enigsins na die unanointed vooraf geluister L.)

As jy wedergebore is, is jy tog REEDS met die Heilige Gees vervul? Is 2 Pet. 1:3 (Ampl) nie duidelik dat ons dan reeds die krag ontvang het nie? “For His divine power has bestowed upon us all things that [are requisite and suited] to life and godliness, through the [full, personal] knowledge of Him Who called us by and to His own glory and excellence (virtue).“

Dis duidelik dat baie van ons sogenaamde geespraktyke dikwels “vreemde vuur” (Lev. 10:1; Num. 3:4) is.

Onthou jy die insident waarvan in Dag 177 vertel is? ‘n Bekende prediker het een aand by die Here gehoor om te blaas oor die gemeente sodat hulle die Heilige Gees kon ontvang. Vir my in die gehoor het dit vreemd geklink, want Geesoordrag kom deur handoplegging (Hand 8:18, bv). Maar nou ja, Jesus het ook op sy dissipels geblaas om die Gees te ontvang (Joh 20:22), en dit sou dalk so ‘n oordrag kan wees, het ek myself probeer wysmaak. En inderdaad was dit – die wat vorentoe gegaan het, het met die blaas van die prediker die Heilige Gees ontvang. Baie ingenome daarmee, het hy die volgende keer dieselfde formule weer probeer volg, maar daar wou niks gebeur nie. Maar toe hou hy aan, and he huffed and he puffed, by wyse van spreke, en ‘n ander gees het toe gekom en presies gedoen wat sy verwagting was.

So kan ‘n mens byvoorbeeld insgelyks redeneer die Toronto-blessing was duidelik oorspronklik ‘n Geesmanifestasie, maar die sinlose en gek manifestasies het dit later in ‘n nie-Godbeweging laat ontaard: onbeheersde laggery; tande met goudvullings; om soos ‘n hond te blaf; goudstofreën; mense wat ure lank slain in the Spirit lê; om aan te hou rol oor en uit die kerkgronde, met dorings all-over ‘n baie geestelike oorgroot ystervark met swymelende hallelujas op die lippe; mense wat in die gees heeltyd wawiele maak, gesigte trek, hulself benat … “Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het …” (Deut 32:17).

Hierdie hele konteks is geskep om te verstaan dat daar in die geestelike praktyke waaraan Christene blootgestel kan word, deur allerlei demoniese werkinge kan plaasvind en dat daar selfs dan demoniese geesoordrag kan plaasvind. Die begrip wat dikwels daarvoor gebruik word, is Shamanisme. Die algemene definise daarvan is soos volg: “A Shaman is a magician but the difference is that he uses his magic in a healing way in a religious environment. He comes to us like a priest whereas underneath he is a magician.”

Hierdie definisie deur Christopher Okotie van Nigerië kom uit die kontroversie van sy konfrontering van TB Joshua. Bykans oornag het dié ‘n huishoudelike naam in die volksmond geword. Gelowiges én ongelowiges praat oor dié “profeet” met die bonatuurlike gawe vir genesing en bevryding. Bykans elke Afrikaanse koerant het artikels oor die wonderwerke van die geloofsgeneser van Lagos gedra. Vir die afgelope jare stroom dikwels terminaal siek Suid-Afrikaners en oor die wêreld by die duisende na Nigerië in die hoop dat dié man van God vir hulle sal bid en dat hulle genees sal word. In die volgende Manna gebruik ons hierdie konteks om die grondslae van TB Joshua se bediening te beoordeel.

 

  • Sela: Is jy blootgestel aan shamanisme?
  • Lees: 1 Joh.1-5
  • Ondersoek die OT-tipologie: 1 Joh. 4:1 (Wenk: Deut. 13:1-5). Sien die sinchronisasie raak!
  • Delf dieper: Lees Michael J. Klassen se Strange Fire, Holy Fire (ook met onderskeiding).