“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan,
en hulle sal groot tekens en wonders doen om,
as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
(Mat. 24:24, OAV)
In die vorige Manna is verduidelik dat daar aspekte is van die bediening van die Nigeriese geloofsgeneesheer T.B. Joshua wat groot onrus by gelowiges behoort te veroorsaak. Dis noodsaaklik om uit ‘n suiwer Bybelse oogpunt na die fenomeen van die manifestasie van die familiêre gees te kyk.
Meer as ooit is dit wat in Hos. 4:6 staan wáár vir die eietydse kerk: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis …” Omdat die geestesgawe van onderskeiding bykans nie meer in die kerk beoefen word nie, omdat ware geestelike leierskap en outoriteit grootliks ontbreek, omdat daar nie gehandel word met die vals fondamente van ons geestelike lewe nie, word die kinders van God gruwelik mislei. Die implikasies is verreikend. Spr. 14:12 spel dit só uit: “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.’”
1 Joh. 4:6 onderskei tussen die Gees van waarheid en die gees van dwaling. Dit is nie altyd maklik om dié onderskeidingsvermoë te hê nie, omdat die leuen so reg verpak word, so mooi lyk. Ook omdat die gees van die dwaling oor geweldige kreatiewe mag beskik waarmee wonderwerke en die gawes van die Heilige Gees nageboots word, seker dié kenmerk van die familiêre gees. In 2 Thes. 2:9-10 word gewaarsku dat Satan as engel van die lig “met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding” ‘n aanslag sal maak. Christene is so goedgelowig dat ons summier aanvaar dat wonderwerke, selfs in die Naam van Jesus, van God kom. Die Skrif sê juis dat vals wonderwerke die wyse sal wees waardeur mense mislei word. Byvoorbeeld: `”Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel” (Open. 16:14).
Daar is heelwat dinge in die bediening van T.B. Joshua wat getuig van ‘n ander gees as die Heilige Gees wat werksaam is. Wat hier volg, is nie ‘n veroordeling van ‘n persoon nie, want God alleen kan dit doen, maar ‘n toets van die geeste, wat wel die taak van elke gelowige is. Die ruimte ontbreek om in besonderhede op alles in te gaan, maar die volgende fundamentele probleme kan uitgewys word. Die meeste van die voorbeelde is gedokumenteer, hoewel enkele voorbeelde deur mondelinge gesprekke met kundiges gestaaf is:
- In ‘n TV-onderhoud het Joshua gesê hy het sy gawe by geboorte ontvang. Die gawes van die Gees van God (vgl. o.a. 1 Kor. 12 en 14) word nie by geboorte aan perone in die Nuwe Verbond gegee nie. In die Nuwe Verbond moet jy eers wedergebore word, en selfs dán sal gawes (soos gesondmaking) deur die Gees uitgedeel word “soos Hy wil”.
- In ‘n koerantonderhoud het Joshua die stelling gemaak: “I was sent to earth to save the world.” Daar is geen ander persoon waardeur ons gered kan word as Jesus Christus nie (Hand. 4:12).
- Joshua se aanspraak: “The divine person in me can do a million things simultaneously. I can appear to thousands of people in their dreams in any part of the world to set them free of their sicknesses, problems and afflictions,” skep die indruk dat hy ‘n verlossersfiguur met bomenslike kwaliteite is. Hy regverdig ook hiermee die feit dat hy leviteer, wat bepaald ‘n aktiwiteit is wat slegs deur die koninkryk van duisternis beoefen word.
- Buiten sy naam, wat ‘n vertaling is van die woord “Jesus”, word Joshua deur almal by The Synagogue as Immanuel (“God met ons”) aangespreek. Op die eerste amptelike video deur The Synagogue word die lied ‘Emmanuel, our God is with us’ aanhoudend gesing terwyl die kamera fokus op die genesings. Die indruk van ‘n gelykstelling met Jesus word eksplisiet geskep.
- Op van die skilderye in The Synagogue waar Jesus uitgebeeld word, is die gesig van Joshua duidelik herkenbaar. (Amper soos Leonardo da Vinci wat homself ingeskilder het in ‘Die laaste Avondmaal’.)
- Toe ‘n demoon onlangs uit ‘n vrou gedryf is, het Joshua die demoon gevra: “And who am I?” Die demoon het gereageer: “You are Jesus, the Christ.” Joshua het gelag en ander naby geroep en gesê: “Hear what this demon says.”
- Joshua se agtergrond, bekering en wedergeboorte, geloofsoortuiging ensovoorts kan nie geverifieer word nie, al was daar eksplisiete (selfs internasionale) versoeke daarvoor.
- Daar is gegronde bewerings dat hy ‘n akoliet is van die okkultiese Nigeriese geestelike “Leader Olumba Olumba Obu, the Sole Spiritual Head of the Universe”. Dié toordokter, wat beweer hy is die geïnkarneerde Heilige Gees, het ‘n wêreldwye bediening wat ‘n vermenging is van die Christelike geloof, animistiese godsdienste (voorvaderaanbidding), Hindoeïsme (veral reïnkarnasie) en Islam.
- Hy is op geen wyse ingeskakel in die Nigeriese netwerk van Christelike kerke nie en word nie deur ander Christelike geloofsgemeenskappe erken nie.
- Die Nigeriese leiers van die invloedryke Intercessors for Africa (van The Africa House of Prayer) en The Redeemed Christian Church of God in Nigeria, hou vol dat hy nie wedergebore is nie, ‘n waarsêer is en okkultiese magte gebruik.
- Die praktyk van Joshua om een keer per maand ‘n groot tenk water te seën en dit só te verander in die bloed van Jesus, is een van die ernstigste dwalinge. Transsubstansiasie, wat kom uit die Rooms-Katolieke tradisie, beweer dat nadat die priester sy rites uitgevoer het, die brood die werklike liggaam van Christus word en die wyn sy werklike bloed. Joshua neem dit verder deur water tot die bloed van Jesus te verklaar. Dié water word opgeslurp, mense vertrap mekaar om daarin te duik, hulle daarmee te bespat. Met die gebruik daarvan manifesteer demone. Die meeste gaste uit Suid-Afrika word bevrore sakkies heilige “bloed” gegee om deurentyd te suig. Dit is onmoontlik om water in die bloed van Jesus te verander. Dat Christene dit so gelate aanvaar en aktief daaraan meedoen, toon duidelik dat daar ‘n geestelike verblinding is sodra jy jou gees vir dié soort misleidende geeste oopstel. Duidelik het die water hier ‘n belangrike bonatuurlike krag. Dikwels word pelgrims gevra om hul poedelkaal uit te trek en dan te reinig met louwarm gesalfde water.
- Ander stellings, soos dat Joshua ‘n vegetariër is omdat hy ook sy bevrydingsbediening vir mense beoefen wat “half vis en half mens” is, behoort gelowiges te kwel.
- Veelseggend is die profeet se “prayer mountain” oor ‘n moeras gebou. In die Afrikakultuur werk tradisionele sangomas met water om genesings te doen deur kragte van watergeeste te gebruik. In die sogenaamde “white garment churches” (soos The Synagogue ook geklassifiseer kan word) is dié soort wondergenesings nie ongewoon nie. Daar word oor die water gebid, dit word met demoniese watergeeste besmet, en dié okkultiese krag word gebruik vir wonderwerke – maar duidelik met ‘n prys. Geestelike outoriteit en krag word verkry deur bepaalde voorwaardes na te kom en offers te bring.
- Joshua beheer deur hand- en voetgebare die mense om hom se bewegings. As hy sy hand beweeg, beweeg die persoon in dié rigting. As hy sy hand in die rondte draai, draai die persoon ook al vinniger, totdat hy op die vloer val. Onbybels is dié praktyke beslis. Dit stem eerder ooreen met okkultiese black magic-towerkunste as met die gawes van die Heilige Gees. Genesing, volgens die Woord, moet gepaardgaan met handoplegging deur die ouderlinge of ‘n persoon wat die genadegawe van genesing het. Demone word nie uitgedryf deur geestelike afstandsbeheer nie.
- Oral in The Synagogue is daar aanhalings uit die Bybel, maar ook uit die Koran. Op so ‘n plakkaat word die onrusbarende stelling openlik gemaak: “There is no deity (God) except Allah.”
- Is daar ook ‘n sinkretisme, ‘n vermenging van gelowe en bygelowe hier deurmekaar geklits, al is die packaging Jesus? ‘n Mens wil vra: van watter Jesus praat ons hier, want duidelik word daar ander betekenisse geheg aan tradisionele benamings. Wie is die Vader, die Heilige Gees en Jesus in dié vervangingsteologie?
- Daar is veel meer vrae. Wat my die meeste kwel, is die opvolgrapport van baie mense wat die afgelope jare gegaan het en oor wie gebid is, wat onheilige water gesuig het en oor wie geproklameer is dat hulle genees is. By baie het daar geen genesing plaasgevind nie. Ander het ‘n duur prys betaal: voortdurende ongelukke, ander siektes en kwale, vreemde gedrag, depressie, gewoontesondes waaroor vroeër oorwinning verkry is wat skielik terugkeer; ‘n gees van rebellie en onleerbaarheid. En miskien die gevaarlikste: die onvermoë om te bid en die stem van God te hoor.
Die jammerste is dat die ware krag van die God wat steeds red, genees en bevry, in die oë van die wêreld belaglik gemaak is; dat die ware herlewing hierdeur teëgehou word. Boonop het die hele Joshua-debakel uitgewys dat weinig geestelike leiers die geesrealm kan onderskei. En iemand moet die vraag vra: Hoeveel kerkleiers loop rond met dieselfde gees wat Joshua aan hulle oorgedra het? En hoeveel gelowiges is deur hul handoplegging hierdeur besmet?
- Sela: As jy enige betrokkenheid gehad het (primer of sekondêr) by T.B. Joshua se bediening, is dit baie belangrik dat jy dit hanteer.
- Lees: 1-9
- Ondersoek die OT-tipologie: 9:4 (Wenk: Eseg. 9:4 & 6).
- Delf dieper: Lees Gungor se boek: Religiously transmitted diseases.