Dag 8

 

“Ek sal hom laat aankom, en hy sal nader kom na My toe. Want wie is hy tog wat sy lewe daaraan waag om nader te kom na My toe? spreek die HERE.” (Jer 30:21, OAV)

Die mens se honger na God is daar vandat hy sy verstand gekry het – dis net nie altyd definieerbaar, vasvatbaar nie. Dis eerder soos kwik, wat jy probeer om vas te pen, maar dit ontglip jou deurgaans. Mettertyd probeer die natuurlike mens deur sy natuurlike sintuie hierdie gemis in sy gees versadig, maar hy kan dit nie regkry nie. 1 Kor 2:14 spel dit immers uit: “die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid,”

Met die verloop van tyd vul ons hierdie leemte in ons geesmens met alles wat nie-God (Deut 32:17, AOV) is. Omdat ons onvoltooid is in onsself, hunker en begeer ons na iets anders wat ons sal kan versadig, heelmaak, voltooi, maar ons middele om dit te doen word totaal deur ons siel en sintuie gedryf. Daarom kan dit nie anders wees as aards, natuurlik-sensueel (“deur die “senses”, sintuie bepaal) én demonies (Jak 3:15).

Op sy beste is die mens se hart bedrieglik, sê Jer 17:9, met ander woorde: jou eie hart lieg vir jou en bied aan jou iets wat jy wil glo is voldoende: geld, sukses, geleerdheid, werk, plesier, kennis, ‘n gesin, sosiale opheffing, of wat ook al.

Maar die hart is ‘n afgodefabriek en so vinnig as wat jou geesmens ‘n blyke gee van sy behoefte aan God, probeer jou hart dit vul met ‘n verraderlike alternatief. Ten spyte van wat jy dan ook nagejaag het, en kry, bly jou hart soekende na die Een na wie jou hart eintlik verlang. “U het ons vir Uself gemaak,” het Augustinus gebid, “en ons harte is rusteloos totdat hulle hul rus in U vind.”

Ons is soos die Émmausgangers wat saam met Hom gestap het, maar Hom nie herken het nie. “En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat … het nie?” (Luk 24:32). As jy reageer op sy roepstem na jou wat sê: “Kom tuis,” en jy jou bekeer, gaan daar baie stemme na jou toe kom wat jou van die teendeel gaan probeer oortuig. Laat jou net oortuig deur jou hart wat brandende in jou is. 

  • Sela: Os Guinness sê: “When something more than human seeking is needed if seeking is to be satisfied, then                                  calling means that seekers themselves are sought.” Maak jou brandende hart vas met God.
  • Lees: Gen 8; Ps 8; Joh 8
  • Memoriseer: Joh 8:32 en die hele Ps 8. (Luister  Wicomb se Griekwavertaling daarvan!)
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering oor: “Afgode in jou lewe.”