they became futile and godless in their thinking
[with vain imaginings, foolish reasoning, and stupid speculations]
and their senseless minds were darkened.”
(Rom. 1:21, Ampl.)
Voordat ons by enkele algemene praktyke uitkom wat die familiêre gees toegang tot mense laat verkry, gaan ons eers na ‘n interessante sinchronisiteit kyk. [Die begrip sinchronisiteit is gemunt deur die dieptesielkundige Gustav Jung in sy verklaring van die kollektiewe onderbewuste en verduidelik die verskynsel dat verskeie mense op dieselfde tyd wêreldwyd dieselfde openbaring of uitvindsel of belewenis, ens. het.]
In die tyd waarin ek hierdie subreeks oor die kundalini skryf, verskyn in die dagblad Beeld ‘n artikel wat handel oor die hervestiging van wit leeus in die Timbavati-bewaringsgebied, en oor hul hervestiger, Linda Tucker. ‘n Fyner lees van dié baie interessante artikel deur Willemien Brümmer: Hoeder van die wit leeu (http://www.beeld.com/By/Nuus/Hoeder-van-die-witleeu-20111202) is ‘n uitstekende demon-strasie van hoe die kundalini-gees ‘n bepaalde energie skep en dat dit ‘n beweging kan begin wat nie-Godgedrewe (Deut. 32:17) is nie. Die gevolg hiervan is wat Rom. 1:21 hierbo uitspel.
Onthou nou: dis ‘n doodgewone artikel met ‘n natuurbewaring-inslag wat in ‘n doodgewone bylae tot ‘n koerant geplaas word. Dit handel oor die bewonderingswaardige taak om in die Tsau!-bewaringsgebied, sowat 35 km van Hoedspruit, in die Global White Lion Protection Trust (WLT), dié witleeus in hul natuurlike habitat te hervestig. Die projek word gedryf deur Linda Tucker, ’n oudmodel en Cambridge-gegradueerde wat haar ontwerperspakkies verruil het vir die Bosveld. Sedert sy in 1991 in dié gebied ‘n bepaalde geestelike ervaring gehad het, het sy “die hoeder van die wit leeu” geword, vandaar dan ook die kop van die artikel.
Benewens die inligting oor die bewaringsinisiatief en die gepaardgaande eko-toerisme, vlek Brümmer se artikel op ‘n briljante manier veel meer oop as die bewaring van albinoleeus.
Die lokteks laat alreeds die stemvurk instem op die New Age-bewussyn ten grondslag van die bewaringsinisiatief: “Toe Willemien Brümmer haar weg na die plek van ‘die heiligste dier in Afrika’ vind, het sy afgekom op ’n gewese model wat sterrewiggelaars help om die misterie van die witleeu te ontsyfer. Dié dier, het sy gehoor, verteenwoordig ‘ons Hoër Self, ons lotsbestemming, ons oorlewing’. Die tekens sê tog so…” Die gebruik van die woorde: “heiligste dier”, “sterrewiggelaars”, “misterie”, “Hoër Self” en “lotsbestemming” plaas die bewaringsaksie baie duidelik binne die bepaalde klimaat van kundalini.
Die artikel begin dan soos volg: “‘Kan ons almal mediteer?’ vra Maurice Fernandez, astroloog uit die verre Hawaii. Sy groep, pelgrims en mede-sterrewiggelaars van die uithoeke van die Aarde, laat sak hul blik. … Twee witleeus … knip hul groenblou oë asof om te groet, sluimer dan weer rug teen rug op die grondpad in. Vir baie is hulle lewende mites. Credo Mutwa, tradisionele geneser, skrywer en omstrede Afrika-profeet, reken dié katte is ‘sterdiere’, ‘so oud soos die lewe self’. Sowat 400 jaar gelede het hulle ‘teruggekeer as profete van ’n nuwe era’. Dis nie verniet dat die ou Tsonga-woord Timba-vaati ‘die plek waar iets afgekom het Aarde toe’ beteken nie, sê Credo. ’n Ster het aldus dié oue van dae neergedaal tydens die heerskappy van die reënkoningin Numbi. ’n God, ’n wese van suiwer lig, het daaruit te voorskyn getree en die koningin na die hemele geroep. ‘Dit is waargeneem, baie jare sedert Numbi se verdwyning, baie jare nadat die vreemde ster Aarde toe gekom het, dat alle diere in dié gebied aan sneeuwit nageslagte die lewe geskenk het,’ lui sy verhaal in Tucker se boek Mystery of the White Lions, Children of the Sun God.” ‘n Mens sou ‘n paar algemene opmerkings oor dié paragraaf maak:
- As ons begin lees van die oproep tot meditasie deur die astroloog, moet ons Mannalesers uiteraard onmiddellik besef ons is in die domein van kundalinie, die vals heilige gees. (Ons het in vorige Manna gepraat oor astrologie in teenstelling met astronomie, en kom in verdere Manna weer daarna terug.) Meditasie is ‘n praktyk waardeur “the mind is cleared”, ‘n nuldenkstaat waardeur ‘n beoefenaar deur visualisering en mantras in ‘n staat van “rus” kom. Hierdie lediging van die denkproses is egter ‘n teennatuurlike ontruiming van die bewuste sodat die onbewuste of onderbewuste jou in ‘n mistieke stroom kan meevoer. Helaas besef baie min beoefenaar daarvan dat tydens transendente meditasie (ook TM genoem), selfs deur kompletatiewe gebed, daar groot kans is dat die sielsdimensie in dié passiewe staat deur allerhande demoniese geeste geinfiltreer kan word. Besef asseblief: This formula is not neutral, but religious in nature. As die Woord praat oor meditasie (bv. in Ps. 63:6; 77:15; 119:15, 27, 148; 145:5), is dit NOOIT ‘n passiewe aksie nie, maar ‘n deurdink en oordenking van die Woord, of God se beloftes, of sy wesenseienskappe.
- Credo Mutwa kan beskou word as die kontinent se hoofsangoma. Uit my ervaring met hom by sy destydse blyplek by die Lotlamoreng-dam in Mafikeng, weet ek dat hy vir solank as ses maande onder die water kan gaan en oorleef. Hy verkry sy krag veral deur offers aan watergeeste. Hy word beskou as een van die hoofokkultiste wê Sy teorie oor die wit leeu, kan jy vinnig sien, is gegrond op die songodmitologie van die pagans en druïde, met ‘n duidelike invloed van die Luciferiaanse filosofie (wat beweer dat die Morester Lucifer eintlik wel die koning van die wêreld is). Die metafore wat hy gebruik vir die wit leeus “wat neergedaal het uit die hemele aarde toe”, is duidelik ‘n groepering wat hy wil gelykstel aan die Bruid van Christus wat as die Nuwe Jerusalem neerdaal (Open. 21:2 & 10).
- ‘n Mens lees dit maklik mis, maar die wit leeus word genoem: “profete van ’n nuwe era”.
- Die herhaalde gebruik van die woordjie “ster” in terme van die leeus om hul metafisiese aard aan te dui, is ‘n duidelike poging tot die gelykstelling van die leeus met die Bruid van Christus, wat in die Skrif ook “sterre” genoem word (Dan. 12:3; Spr. 4:18; 1 Kor. 15:40-42; Open. 1:20), en Jesus wat die ware Môrester is (Open. 22:16)..
In die artikel word gerapporteer hoe die betrokkenes by die projek die Timbavati-gebied as “gewyde grond” beskou. Die “ingewydes” kan werksessies hier kom bywoon oor esoteriese onderwerpe soos “evolusionêre astrologie” of “interspesie-kommunikasie”. Maar met die joernalis se besoek is die allereerste aktiwiteit waaraan almal blootgestel word, besonder insiggewend: “Op my besoek kom hulle soggens nog voor sonop bymekaar vir Kundalini-joga, en die Sondagmiddag dreunsing hulle ritmies die gestorwe matriarg van die trop, Marah, se naam terwyl hulle kruisbeen in die rondte tol.” Hier word die bron van die energie agter die hele bewaringsaksie so terloops genoem as deel van ‘n oggendritueel: kundalini. Sien dat dit deel is van bepaalde ritualistiese aksies van mantrasegging wat ‘n dooie leeu oproep! Duidelik staan hierdie leeu teenoor “die leeu van Juda” (Gen. 49:9; Hos. 5:14; Open. 5:5) – Jesus Christus. [‘n Mens sou ‘n hele studie kon maak van die ooreenkomste tussen die wit leeu en die wit bekleding van die “Ancient of Days” wat, byvoorbeeld, beskryf word as “sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol” (Dan. 7:9).]
Die geskiedenis van hoe Linda Tucker betrokke geraak het by die wit leeu, word in detail gedek in die artikel. Kortweg gaan dit oor die oordra van ‘n geestelike mantel (dit word duidelik so genoem) deur ‘n insident lank terug toe ‘n sjamaan, Maria Khosa, die “Leeukoningin van Timbavati”, in beswyming en uit die bloute midde-in die leeus deurgestap het na Tucker toe. Met haar terugkeer na die plaas het Maria vir Tucker haar geestelike naam gegee: “Hoeder van die Witleeu”.Let op hoe hierdie koninkryk van duisternis óók werk met mantels en geestelike vaderskap. Maria sê aan Tucker: “jy is my dogter van die sterre en jy gaan my mantel dra”.
Maar die misterie verdiep: Die witleeus se erfgrond, sê Tucker, is op die Nyl-meridiaan, “waar lewe eerste op die planeet gewaar is en goud die eerste keer ontdek is”. Dié meridiaan (op die lengtegraad 31° 14 minute Oos) strek van die piramides en die sfinks by Giza, deur die ewenaar, gedeeltes van die Oos-Afrika-slenkdal, die ruïnes van Groter Zimbabwe en Timbavati”. Alle New Age-aktiwiteit word altyd gekoppel met Egipte en die Songod Ra.
Tucker glo “die witleeus bring dieselfde boodskap as Christus; dat dié ‘Leeu van God’ die mensdom voor ’n keuse stel”. Toe Tucker weldra hoor van ’n witleeuwyfie wat met die eeuwisseling op Kersdag in Bethlehem (in die Vrystaat) gebore is, was dit vir haar die teken van Bo. Aarselend sê sy: “Ek het Maria en Credo Mutwa gekontak, en hy het gesê: ‘Dis die leeuwyfie waarop Afrika gewag het.’ Hy het haar gedoop Marah, moeder van Rah.” Die trust is egter in rou gedompel nadat ’n vlakvarktonnel op Marah ingestort het en sy gevrek het.. “Ek vind egter vertroosting daarin dat daar iets simbolies was aan haar dood oor die Pase,” sê Tucker.
Die gelykstelling tussen Jesus en die leeus is onteenseglik duidelik.
Hierdie hele aksie, in Tucker se woorde, “probeer basies die gees van die witleeu” oordra na arm gemeenskappe “waar baie van die kinders geen vooruitsigte of ouers het nie, en geen hoop vir die toekoms nie”. Die Primêre Skool Makgahlishe in Buffelshoek is so ‘n “sterskool” en vorm deel van ’n uitreikprogram van die trust. Oral op die mure pryk skilderye van reënboogkleurige leeus, sterleeus en die trust se simbool, die griffioen. Met ons besoek neem die sterrewiggelaars plaas in ’n halfmaan, en die kinders hou konsert met lewensgroot poppe van witleeus, olifante en kameelperde uit herwinde materiaal. Saam sê hulle ’n gedig op, geskryf deur ’n onderwyser, Helen Monareng: “Greater Timbavati, although you are very small, from you the King of Kings was born: the White Lion. You are like Bethlehem where the King of kings was born: Jesus Christ, the Lion of Judah. Jump out of the cage young strong white lion, because Linda Tucker has broken the cage and chains. Now you are free like Tata Mandela, the father of our nation.” ‘n Mens het weinig opleiding in esoterika nodig om die witchcraft hiervan te sien, en hoe ‘n hele generasie in dié vals mitologie ingebind word.
Die aand vertrek die joernalis saam met die groep na Mafunyani, ’n tradisionele Sjangaan-kraal waar aspekte van die kultuur vir toeriste herskep word. Maria Khosa se neef, Matimba Khosa, lei hul na ’n hut waar Maria se sangoma-suster, Sarah Khosa, bene gooi. Matimba vertaal, en Tucker help met die interpretasie. “Daar is ’n boodskap van die Leeususters,” tolk hulle. “Die susters is baie bly oor jul besoek en jul ondersteuning. Die leeus was baie lank ver van hul moederland.” Die sterrewiggelaars se besoek het juis saamgeval met Tye van Openbaring. Die Vrydag was die 11de van die 11de van die 11de – volgens Linda ’n “keerpunt in die evolusie van die mensdom”. “Dis een van daardie groot merkerdae wat deel is van die Maja-kalender.”
Die sinkretisme (vermenging van godsdienste) is deel van die kundalinie-strewe. Hierdie artikel in ‘n sekulêre koerant wys hoe diep geestelik, en gevaarlik, dié tipe inisiatiewe is. Daar is heelwat eweneens heelwat inisiatiewe uit die Christelike geloofswêreld om kundalini-energie ook in byvoorbeeld gebed en meditasie te inkorporeer, soos byvoorbeeld Philip St. Romain se boek Kundalini Energy and Christian Spirituality. Die gevaar hiervan kan nie onderskat word nie. Ons het géén kundalini-energie nodig nie. Joh 14:17 – “die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees”.
- Sela: Is daar in jou geloofservaring spore van kundalini?
- Lees: 21-22 (Geluk – jy het die Bybel al twee keer deurgelees!)
- Ondersoek die OT-tipologie: 22:16 (Wenk: Num. 24:17).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die geheimenisse rondom Jesus se geboorte