Dag 803-805

 

Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan …

ons het die leuen ons

skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek—”

(Jes. 28:15, OAV)

Alvorens ons gaan stilstaan by enkele algemene praktyke wat die familiêre gees toegang tot mense laat verkry, wil ons na ‘n baie spesifieke voorbeeld kyk van hoe hierdie gees godsdientig en kultureel verpak word om mense en volke te mislei.

Die golf van vrees onder Afrikaners oor ‘n nuwe bedeling onder ‘n swart meerderheids-regering is al van voor 1994 duidelik waarneembaar. Dit is toe in ‘n groot mate besweer met die versoenende leierskap van oud-president Mandela, ook later met die intellektuele leierskap van sy opvolger, oud-president Thabo Mbeki. Sedert die bewindsoorname van president Zuma, onder die aanhitsing van die party se voormalige jeugligleier, Julius Malema, is die land weer oorspoel deur allerlei vermoedens en vrese dat die Afrikaner nie sy seker kan wees van sy grond, sy goed en selfs sy lewe nie. Dit het twee duidelik-waarneembare tendense na vore gebring: ‘n ongekende opbloei in Afrikaner-identiteit en ‘n ontstellende manifestasie van lank-broeiende Afrikanervrese.

‘n Interessante voorval van sinchronisiteit was rondom 2009, met die hoogbloei van Bok van Blerk se trefferliedjie ‘De la Rey’. Met sy verskyning weerklink die lied dag en nag die land deur en jy hoor dit word ‘n magtiger dreuning, oor elke denkbare veld kom dit aangesweef: die lied van ‘n volk se herontwaking … oor die eter, by saalbyeenkomste, tydens interhoërs, op partytjies, in raadsale, op MK89, waar jy ook al kom, is Afrikaners besig om met gebalde struggle-vuis en trane in die oë dié lied oor en oor te sing.

En toe die (vals) berigte kom dat Madiba in ‘n koma is, party sê al drie dae reeds dood is terwyl die weermag ontplooi word om die nag van die lang messe te probeer teenstaan, het die ou lied van die nuwe Suid-Afrika se volgende versreël skielik, oornag, ‘n nasionale paranoia veroorsaak, van Kaapland tot bo in die Noorde: “harte wat sidder en beef”. Ons was binne ‘n paar sms’e en alarmistiese e-posse – soos Antjie Krog dit raak stel – “fokkerend van vrees”.

‘n Mens kan op baie wyses hierna kyk, maar ‘n onderskeidend-geestelike perspektief op hierdie gebeure is van kritiese belang en waarde. Die Bruid het ‘n Godgegewe  verantwoord-elikheid rondom dit wat op nasionale vlak gebeur, en moet ‘n profetiese stem wees wat God se perspektief aan ‘n onseker wêreld probeer verduidelik.

Omdat die kerk dikwels in gebreke bly om inspraak te lewer oor die stand van die samelewing, en heeltemal nie genoegsaam relevant is ten opsigte van gemeenskapstransformasie nie, verloor ons ‘n baie belangrike stem in die interpretasie van eietydse geskiedenis. We are very often too heavenly minded to be any earthly good.

Dis van baie groot belang dat ‘n mens besef dat die twee historiese figure waaromheen albei kontroversies gesentreer is, ‘n nou verbintenis met mekaar gehad het. Generaal De la Rey was in ‘n baie groot mate gerig deur die gesigte en drome van Siener van Rensburg. Met albei se populêre reputasie as Godvresende en edel Boere wat hul lewe sou aflê vir die ideaal van Afrikaner-Nasionalisme, sou ‘n mens hulle maklik kon voorhou as goeie ikone van nasionalistiese waarde vandag. Omtrent elke pleitbesorger van De la Rey het immers die afgelope paar maande sy reputasie geknoop aan die feit dat hy ‘n “vredemaker” was wat tot die bitter einde lojaal geveg het.

Maar hierdie twee figure, en hul twyfelagtige verhouding, is veel meer kompleks as wat hul hagiograwe graag sou wou erken.

Die land is lank reeds onheilspellend gevoed deur Adriaan Snyman se  subjektiewe en alarmistiese regse interpretasies van Siener se visioene, asook sy lesings en publikasies daaroor. Die vooropstelling van Nag van die lang messe, ‘n merkwaardig gesinchroniseerde ‘profetiese’ belewenis van Siener en die ‘profetes’ Johanna Brand, het intussen die impetus van goedgelowige regse mobilisasie geword.

Nag van die lang messe voorspel dat as ‘n wêreldbekende swart leier (wat aangeneem word Mandela is) sterf, dit die teken vir swart mense sal wees dat Uhuru, die nag van die lang messe, gekom het – blankes sal dan in dié nag met pangas doodgekap word. Die e-posse wat elke dag in inboxe val, drup van die bloed van statistieke wat beweer pangas verkoop soos vetkoek langs die pad, van uitsprake van hoëkoppe in die ANC wat allerlei onheilsgeluide maak, en so meer. Dit het mettertyd ontaard in ‘n nasionale psigose.

Daarmee saam: die ervaring dat blankes in Suid-Afrika spesifiek die teiken is in ‘n orgie van geweld, sonder veel beskerming en simpatie van die owerhede, die vermeende komplot van plaasmoorde in ‘n gewelddadige spiraal wat brutaliteit ‘n angswekkende alledaagse realiteit maak, het Afrikaners kollektief laat soek na iemand wat – soos ‘n Boeregeneraal van ouds – hul uit hierdie laaste loopgraaf van vrees en ontreddering kan kom haal. Vandaar die hartstogtelike oproep na De la Rey. Die Afrikaner is moeg gevoed aan die dooier van vrees.

Ons het rede om te vermoed dat die Boeremag het grootliks op direkte interpretasie van Siener se profesieë gereageer en op die vooruitgesiene dag naby Lichtenburg (soos die profesie sê) die opdragte uitgevoer van die man in ‘n bruin baadjie (toe letterlik geïnterpreteer as die gevangenisbaadjie van ‘n persoon wat in Rooigrond-gevangenis vir hoogverraad sit en daarvandaan opdragte gegee het), wat die volk á la Siener tot vryheid sou lei.

Ons weet egter wat met die Boeremag gebeur het, en waar hulle hulle nou bevind. Bloot op grond hiervan moes al die goedgelowige Siener-nalopers die motgevrete drome van die ou waarsêer weggesmyt het. Christene verstaan steeds nie dat profesie nie toekomsvoorspelling en waarsësry is nie; dit is ‘n rigtingwysing rondom God se bloudruk.

En miskien het die tyd aangebreek dat die volk gekonfronteer word met die feit dat Siener vandag steeds in diens is van die koninkryk van die duisternis, dat sy ‘profesieë’ daarop gerig is om die Afrikaner te vernietig, en nie te red nie. Baie interessant dat Siener se laaste woorde was: “Die duisternis sak toe.”

‘n Paar feite oor Siener wat min Christelike navolgers weet (die aanhalingstekens dui aan dit is uit bronne oorgeneem):

  • Siener is dikwels deur sy vreemde gedrag deur gelowiges tipeer as dat “(dit) lyk na ‘n aanval van kranksinnigheid” en dat hy voorkom as ‘n “wrak”. Hy het dikwels vreesagtig voorgekom, en gelyk of hy “van nature bang” is. Sy “diep onrus en ontsettende voorgevoelens” het mense met vrees en suspisie bejeën. (Lees 2 Tim. 1:7 – “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”)
  • Denys Reitz, in sy boek Commando: A Boer Journal of the Boer War sê van Siener: “he pretended to be possessed of occult powers”.
  • Siener het voorspel dat sy seun Johannes Cornelius hom sal opvolg as siener; dié seun is nét na Siener en sy vrou gesterf het, ook dood. (Deut. 18:22 – as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek“.)
  • “Zijn vijanden beweren dat hij (Siener) de boze geest van Oom Koos is geweest – diens Rasjipoetin …”
  • J Maree vra tereg in Die Boodskapper van Julie 1991: “wie gee die voorkennis, God of Satan?”

 

Maar ook van generaal De la Rey word ‘n ander beeld geskep as wat ons so romantiserend-singende koester:

  • Denys Reitz sê oor hom: “I had met him only a few days before his death and I saw that his mind was affected, for his talk was of Christian Science, spiritualism, and the dreams of Van Rensburg, his fame prophet; and once, when he had gazed at me in a strange manner, I asked him why, and he said that he was testing our souls to bring them en rapport, a phrase he must have picked up at a séance.”
  • HC Armstrong, in sy The biography of Jan Smuts, skryf oor De la Rey “(that he) talked with spiritualists and attended séances; and he was under the influence of Van Rensburg”.
  • Genl Botha sê oor De la Rey (in J Meintjies se De la Rey – Lion of the West: “He gave me the impression that he had gone wrong somehow – not in his sober senses but in a sort of mental wandering.”

 

As die Woord in 1 Kor. 2:15 sê dat die geestelike mens alle dinge moet beoordeel, is dit van die allergrootste belang dat ons insien dat die Afrikaner deur vals profetiese prototipes gelei word om op vals revolusiepaaie te loop, en dus só in die vangnette van vrees val. En Job 3:25 word dan waar: “As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.”

Duidelik het God ‘n bloudruk vir die Afrikaner in Afrika (Hand. 17:26); as ‘n nasie is ons spesifiek hierheen gebring “to fulfil the purposes of God for His generation” (Hand. 13:36, KJV). Die morele bankrotskap van bykans al ons Afrikanerleiers het resulteer in ‘n soeke na ‘n geromantiseerde figuur om die pad te wys.

Die ou volkslied van “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika” het  selfvervullende doodsprofesieë en –belydenisse oor patriotiese Afrikaners en hul nageslagte gebring, en ek vermoed veel van die geweld van vandag kan daaraan toegeskryf word. Ons kan nie bekostig om dit nou te vervang met ‘n “nuwe” volkslied wat dieselfde “verbond met die dood” sluit nie (Jes. 28:15).

Op 15-16 Desember 2006 het wit, bruin en swart Afrikaners in Roodepoort in voorootmoediging voor God gekom en alle Afrikaner-nasionalistiese wortels, afgodsoffers, vloeke, vals ede en verbonde, alle geestelike wortels wat die volk verhoed om in sy Godgegewe roeping in Afrika op te staan, bely en hanteer. ‘n Wolk het ingeskuif bo die Voortrekkermonument en die son verhoed om weer die Afrikaner se verbond met die dood op die senotaaf te hernu. (Denise Woods se skrikwekkende boek: Suid-Afrika Oes die stormwind van nasionale volksgodsdiens, wat hieroor handel, behoort verpligte leesstof vir alle Afrikaners te wees.) Tydens hierdie byeenkoms is veral Nag van die lang messe in die gees hanteer en die wettige reg daarvan op die Afrikaner nietig verklaar.

As die Afrikaner sy rol en posisie hier in Afrika verstaan, wat God se doel en plan met hul as ‘n nasie is “op hierdie vasteland waarop ons boer”, en ons binne daardie skeppingsdoel begin loop, sal ons nie meer bereid wees om “te val” saam met iemand wat ons desperaat uit die dood probeer oproep nie. Ook: ons mag nie langer gelei word deur ‘n gees van waarsêery en historiese sentimentaliteit wat op die okkulte gebou is nie – die koninkryk van God in Suid-Afrika is op die spel.

 

  • Sela:  Bely jou aandeel aan die gees van waarsêery deur die sing van kulturele liedere.
  • LeesOns begin vandag die Bybel lees uit ‘n spesifieke chronologiese perspektief: Gen. 1-11.
  • Memoriseer: Gen. 1;1; 3:15.
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Siener van Rensburg in die lig van siener

                              Habakkuk.