Dag 809

 

“die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom”

(Jes. 47:13, OAV)

In hierdie laaste groep Mannas oor die onderwerp wil ons enkele algemene praktyke voorhou wat die familiêre gees toegang tot mense laat verkry. Lesers sal op hierdie stadium duidelik besef dat die familiêre gees die counterfeit van die Heilige Gees is. Dis die vals heilige gees wat Jesus tipologies van ontslae wou raak deur die duiweverkopers uit die tempel te jaag (Mat. 21:12).

Die Skrif noem enkele ander praktyke wat dié gees van waarsêery toegang gee tot mense, waarvan ons net ook van moet kennis neem. Ons begin met toekomsvoorspel deur hemelliggame.

In Jes. 47:13-14 is daar eksplisiete waarskuwing teen enige vorm van toekomsvoor-spelling, veral deur gebruik te maak van astrologie: “Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red—die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom. Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie—dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie!”

Dit beteken nie dat as jy in ‘n tydskrif gelees het wat die sterre voorspel sê jy noodwendig hierdie gees ontvang het nie – onthou, dit gaan oor voortdurende blootstelling en gepaardgaande geloof in die lotsbepaling van die hemelliggame. Daar is mense wat uit blote geïnteresseerdheid byvoorbeeld Linda Goodman se Star Signs of ‘n soortgelyke boek sal lees, maar dit nie ernstig opneem nie.

As jy jou lewe hiervolgens rig, of jou huweliksmaat byvoorbeeld kies op grond van wat die sterre voorspel ‘n compatible companion is, is daar al gevaartekens. Die algemene blootstelling hieraan is egter nie noodwendig demonies nie. Wees egter wel bedag daarop dat baie van die boeke en materiaal daarop ingestel is om jou te wen vir die astrologie. En uiteraard sal daar aspekte wees wat grootliks waar is oor jou lewe, of jou sal interesseer.

Terwyl ons die term astrologie gebruik – daar is ‘n groot verskil tussen astrologie en astronomie. Eersgenoemde gebruik die sterre en ander hemelliggame om die toekoms te voorspel. Laasgenoemde is die wetenskap ten grondslag van hemelliggame, en daar is geen demoniese assosiasie daarmee nie.) Bullinger het in sy uitmuntende boek, Witness in the stars, gewys dat selfs die sterretekens soos ons dit ken (Boogskutter, Leeu, Waterdraer, Tweeling, ens. – wat net simboliese figure is wat gevorm word as die stippellyn tussen sterkonstellasies getrek word) die ganse verlossingsverhaal van Jesus uitspel.

Joh 16:13 bly ons enigste bron rondom die toekoms: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

 

  • Sela:  Vra die Heilige Gees of jy toegang tot die familiêre gees gegee het deur dié aktiwiteite?
  • LeesJob 14-16
  • Memoriseer: Job 14:4-5
  • Delf dieper: Robert A. Morey se boek Horoscopes and the Christian