“My volk raadpleeg sy hout,
en sy staf moet hom die inligting gee …”
(Hos. 4:12, OAV)
Waterwys* is in die volksmond ‘n bekende uitdrukking, veral omdat dit ‘n algemeen-bekende verskynsel in Suid-Afrika, veral onder die boerderygemeenskap, is. Die oorsprong van waterwys lê in die verre verlede met die Mede, Perse, Grieke en Romeine – hulle het al om water aan te wys die wiggelroede gebruik. Georgius Agricola het vir die eerste keer ‘n beskrywing van die mikstok in 1556 in sy boek, De re metallica, gegee. Die mikstok is aanvanklik gebruik om minerale onder die grond op te spoor. Hulle het beweer dat die mikstok beweeg word deur die krag van die onderaardse water-are. Dit was egter die Duitsers (in die sestiende eeu) van die myndistrikte in Wes-Europa wat die wiggelroede gewild gemaak het – hulle het water en minerale daarmee aangewys.
Toe daar kerklike teenkanting teen die gebruik daarvan kom, het sommige wiggelaars in Duitsland hul mikstokke volgens kerklike gebruik “geheilig”. Martin Luther het die mikstok egter as ‘n oortreding van die eerste gebod beskou. Baie kerklikes het geen fout daarmee gesien nie, maar die gebruik verchristelik deur die mikstok te sny op een van die heilige dae, of dan die stok saam met ‘n dopeling in die bed te sit. Die stok is dan daarna gedoop en aangespreek: “In the name of the Father and of the Son and of the Holy Ghost, I adjure thee that thou tell me, so pure and true as Mary the virgin was, how many fathoms is from here to the ore?” Trouens, die gebruik het so uitgebrei dat misdadigers daarmee aangewys en vervolg is.
Teen die einde van die sewentiende eeu was die wiggelroede oral bekend – moontlik ook in Suid-Afrika. Dit word aanvaar dat dit die Hollandse, Britse en Duitse setlaars was wat die gebruik na Suid-Afrika gebring het. So weet ons dat Graaff-Reinet in 1830 ‘n “waterwijst en watergrawer” gehad het. Dit is bekend dat talle predikante in die geskiedenis van ons land, ook die “gawe” gehad het. In die veertig tot vyftiger jare was daar ‘n predikant van Port Shepstone wat vanweë sy “gawe” baie bekend geraak het. Ds. J.L. von Wielligh het met ‘n stukkie gras oor ‘n kaart van ‘n gebied beweeg en op die wyse aangetoon waar water is. Hy het selfs met ‘n grassie op ‘n landkaart aangedui hoe die skole sardientjies gedurende Junie-Julie langs die Suidkus van KwaZulu-Natal sou beweeg.
Dit is nie net die mikstok wat gebruik word om water aan te wys nie maar ook staal-, koper- of bloudraad, ‘n rietstokkie, of ‘n bottel vol water. Daar word ook gepraat van mense met “X-straaloë” wat water glo kan “sien” – ‘n vermoë waarmee die seun Pieter van Jaarsveld baie bekend geraak het. Die mikstok bly egter die gewildste. Sommige glo dat die mikstok van ‘n boom, wat naby aan water groei, soos ‘n wilgerboom, gesny moet word. Ander bome, soos die karee, is egter ook daarvoor geskik.
Wanneer daar oor die water beweeg word, sal die nek van die mikstok grond toe buig. Die waterwyser loop ‘n paar keer uit verskillende rigtings totdat hy die middelpunt van die aar gekry het. Daar word ‘n merk gemaak, en dit is dan die aangewese plek om te boor.
Daar is verskeie ander metodes om water te wys, byvoorbeeld deur ‘n waterwyser op die hand of kop te sit en dit sal kantel in die rigting wat die aar loop. ‘n Ander metode is om twee stukke draad van ongeveer ‘n meter elk in L-vorms te buig. Waar die drade oor mekaar swaai, is die aar. Andersins word ‘n muntstuk in die vuis gehou en dié sal liggies tril as oor ‘n wateraar geloop word. Ander gebruik die pendulum – ‘n gewiggie aan ‘n toutjie of ‘n skietlood. Die gewiggie sal begin swaai waar die water is. Daar is waterwysers wat sonder enige werktuig die ondergrondse water kan aanvoel. Sodra hulle die die wateraar nader, begin die liggaam bewe. Hierdie vermoë staan bekend by kenners van die okkulte as heldervoelendheid. Die verskynsel om water te kan sien, staan bekend as heldersiendheid.
Hierdie werking van waterwys word baie dikwels “’n gawe van die Here” genoem, spesifiek dan die gawe van profesie, maar dit is helaas nie die geval nie. Die vraag is net waarom dit vir die een werk met presies dieselfde stokkie en met die ander nie ? Waarom moet jy eers aan die persoon met die “gawe” vashou voordat dit dan soms vir jou ook sal werk ? Waarom word die “gawe” van vader na seun oorgedra ? Baie dikwels gaan sulke “waterwysery” gepaard met kwasi-geestelikheid, soos byvoorbeeld dat die persoon nie gesteur mag word terwyl hy water soek nie, of dat hy nie kan werk as hy “normaal” is nie, maar eers “opgewek moet word tot ’n meer sensitiewe staat”. Dit is alles aspekte van witchcraft.
Behalwe vir die bespiegelinge het wetenskaplikes geen verklaring vir die werkinge van ‘n ‘n mikstok nie (sien byvoorbeeld Martin Gardner se boek Fads and Fallacies in the Name of Science). Die Amerikaanse benamings water dowsing (waterwiggelary) en water witching is egter ‘n aanduiding van die historiese assosiasie met towery wat waterwys vir baie kundiges het. ‘n Mens kan tereg die vraag vra: Hoekom werk die stokkie by sommige wat die “gawe” het en nie by ander nie ? As die stokkie beweeg as gevolg van sekere magnetiese kragte in die aarde, dan moes dit met alle mense gewerk het. Dit het dus niks met kragte in die water of in die aarde te doen nie.
Om deur middel van ‘n pendulum, ‘n horlosie of stuk metaal aan ‘n toutjie, oor ‘n kaart van die gebied of op die terrein self, water te wil aanwys, is niks anders as waarsêery nie. Trouens, die mikstok self is self net ‘n variasie van ‘n pendulum. Sekulêre skrywers oor die okkulte, soos Vogt en Hyman, hanteer tereg waterwys in dieselfde asem met ander okkultiese praktyke soos die Ouijabord, `table turning’ en Seance en outomatiese skryf.
Soos by heldersiendheid waar die vermoë om te sien van die een geslag oorgedra word na die kinders en dan na die kleinkinders, gebeur dit ook so ook by waterwys. Die rede is dat waar die demoon plek gegee is in ‘n familie, daardie familielid met die “gawe” wel kan sterf, maar die demoon sterf nie maar gaan na die kinders en kleinkinders. Die vermoë van waterwys word na die kinders oorgedra. Wie hierdie gees van waarsêery dus nie het nie, het nie die vermoë om water te wys nie. Hieruit word afgelei dat daar ‘n gees betrokke is by waterwys en dit is nie die Gees van God of ‘n gawe van God nie, wel ‘n bose gees.
Mense wat dus speels meegedoen het deur aan die stokkie vas te hou, het bepaald ‘n deur vir demoniese werking oopgemaak. Daar vind deur hierdie aktiwiteit van waterwys ‘n oordrag van geeste plaas. Die masskrif wat hierbo uit Hos. 4:12 gebruik is, noem die term “staf”, maar dit kan volgens Jamieson, Faussett and Brown’s Critical and Experimental Commentary ten beste vertaal word met “divining rod” (soos byvoorbeeld die ISV en die NETB dit doen).
Die dieperliggende geestelike realiteit van waterwys verhul egter die bestaan en funksionering van watergeeste. Alhoewel dit ‘n algemene godsdienstige gegewe is in die meeste Afrika-gelowe, sinkretisties én Christelik, is dit onder Westerse gelowe ‘n vreemde konsep. Omdat hierdie spesifieke onderwerp nie nou deel is van ons huidige tema nie, en ter wille van oorsigtelike samehang, gaan ons nie nou die detail hiervan bespreek nie, behalwe om miskien net te vermeld dat die geestesaktiwiteite in die akwatiese realm belangrik is om te verreken. Samuel Dikaniakina se werk The Dark Forces of the Acuatic World is ‘n belangrike publikasie in hierdie verband.
(*Die eerste deel van hierdie Elektroniese Manna is grootliks verwerk uit die oorspronklike navorsing van D.B. Dicks, met dank en erkenning.)
- Sela: Vra die Heilige Gees of jy toegang tot die familiêre gees gegee het deur dié akwawiteite?
- Lees: Job 17-23
- Memoriseer: Job 19:25-26
- Delf dieper: Lees Otto van Vuuren se artikel in boor.co.za/artikels.html