“en daar kom ‘n gees van jaloersheid oor hom”
(Num. 5:14, OAV)
Die derde gees wat eksplisiet in die Bybel genoem word, is die gees van jaloersheid (in die oorspronklike Hebreeus ruach qinah). Die Treasury of Scriptural Knowledge lig dit toe: “Ruach qinah, either a supernatural diabolic influence, exciting him to jealousy, or, rather, the passion or affection of jealousy.”
Die Bybel is vol voorbeelde van persone wat met hierdie gees bevange was en vir wie dit met verloop van tyd ‘n groot struikelblok in hulle verhouding met God (en ander) meegebring het, ook hul lewe ten diepste beïnvloed het. Ons raak net aan ‘n paar bekende voorbeelde ter illustrasie:
- Kaïn was jaloers op die feit dat die Here sy broer se offer aanvaar het en nie syne nie (Gen. 4:4-5).
- Ragel was jaloers op haar suster wat swanger geraak het by Jakob, en sy nie (Gen. 30:1).
- Josef se broers was afgunstig op hom omdat hulle gedink het hy is sy pa se oogappel (Gen. 37:11).
- Toe die volk in 1 Sam. 18:7-8 sing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende!” het Saul baie kwaad geword, en siedend jaloers op Dawid.
- Die ouer broer was jaloers op hoe hul vader die verlore wegloopseun wat sy totale erfporsie uitgespeel het,’n verwelkomingsparty en geskenke gegee het (Luk. 15:27-28).
- As gevolg van ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue het die ongelowige Jode afgunstig geword op Paulus en Silas en wou hulle hul met meelopers en leegleërs doodmaak (Hand. 17:4-5).
Daar is Charismatiese bedienaars van die Woord, soos byvoorbeeld Arthur Burke, wat groot klem lê op die effekte wat jaloesie op jou as mens het. Hy het baie verhale te vertel van jaloesie in bedieninge, tussen familielede, en hoe dit uiters negatiewe gevolge vir die mense gehad het. Hy plaas ook groot klem op vloeke en ongeregtighede wat deur hierdie gees resulteer in sielsgebede en aksies wat dan “oorgedra” word op gelowiges.
Ek verskil radikaal van hierdie standpunt. Daar is altyd mense wat op jou jaloers is, wat afgunstig is op jou besittings, of jou geleerdheid, of jou fisiese krag, of jou skoonheid (vel/hare/kuite), of jou kinders, of jou omstandighede, of jou goeie lewe, of die hoeveelheid opstote wat jy in die gim kan doen, of die geestelike openbaring wat jy ontvang. Die lysie is nimmereindigend. Solank as wat jy in jou posisie in Christus is, kan hul jaloesie NIKS aan jou veroorsaak nie. Daar is nie ‘n onsienlike swaard van jaloesiegevolge wat oor jou kop hang en jou wie-weet-wanneer gaan oorval nie, nee. In Christus kan Satan jou nie touch nie; dit is soos Salomo sê in Spr. 26:2 (ESV): “a curse that is causeless does not alight”.
MAAR, as jý jaloesie het, het dit vir jou ernstige implikasies. Meer in die volgende Manna daaroor
.
- Sela: Vra die Heilige Gees of jy hierdie gees van jaloersheid het.
- Lees: Job 32-34
- Memoriseer: Job 34:14-15
- Delf dieper: Lees Packer, J.I. se Knowing God.