“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer 17:10, OAV)
Ons gaan later in besonderhede stilstaan op wat dit is wat ‘n gelowige mislei dat hy/sy die stem van God “verkeerd” hoor. Maar op hierdie stadium terwyl ons gesels oor die wil van God is daar twee aspekte wat ons moet uitlig, een positief en een negatief, wat allerbelangrik is in die proses om te kom “tot volle kennis … van wat sy wil is” (Kol 1:10, NV).
Kom ons behandel eers die negatiewe aspek. In die gelowige se begeerte om in die wil van God te loop, is dit verskriklik belangrik dat jy heeltyd moet bid en bely: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Luk 22:42). Omdat die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees, staan hulle IN JOU teenoor mekaar, sodat jy nie kan doen wat jy wil nie (Gal 5:17). In hierdie proses help die mens se hart weinig: al is jou hart besny, sê die Skrif hierbo, is dit so dat jou hart jou bedrieg; dit is “deceitful above all things, and desperately wicked” (KJV). Die God’s Word-vertaling stel dit nog duideliker: “The human mind is the most deceitful of all things. It is incurable. No one can understand how deceitful it is.” Daarom dan dat jou denke die heeltyd onderdanig gemaak moet word aan “the mind of Christ” (1 Cor 2:16).
Maar omdat ons dus eintlik vir onsself lieg, word ons wil ‘n afgod in ons besluitneming. As ons dan met verraderlike gedagte na God toe gaan om sy OK te kry, vra ons eintlik nié die wil van God nie, maar eintlik net kondonering van ons eie wil, onder die dekmantel dat dit God se wil is. Dan gebeur ‘n baie slegte ding: God stuur ‘n leuengees (selfs in die mond van ‘n Goddelike profeet) om jou te antwoord volgens die begeerte van jou hart (Eseg 14:4). Skrik.
Positief: Christus is die Vredevors (Jes 9:6), en wanneer ‘n besluit in lyn is met sy wil, ervaar jy vrede wat jou verstand nie kan verstaan nie (Fil 4:7). Bly toets jou besluit as daar ‘n nagging splinter is wat jou onvrede gee. Die vrede wat Christus gee, sê Kol 3:15 (NV), “moet in julle lewens die deurslag gee”, veral ook in die onderskeiding van God se wil.
- Sela: Probeer onder leiding van die Heilige Gees sekere keuses wat jy in die verlede gemaak het waar jou hart jou mislei het, onthou en onderskei. Deel daarmee, en vra die Heilige Gees voortdurend om jou “in accord with Christ Jesus” (Rom 15:5, ESV) te maak.
- Lees: Eks 32; Ps 82; Mark 8
- Memoriseer: Mark 8:34-35
- Vir dieper delf: Lees oor die onderwerp in Tim LaHaye se boek: My wil? God se wil? (in Engels: Finding the will of God in a crazy, mixed-up world). Daar is heelwat praktiese riglyne, maar egter ook ‘n klompie aspekte wat nie altyd heeltemal suiwer is nie, dus lees maar met onderskeiding.