Dag 824-826

 

But [the elder brother] was angry [with deep-seated wrath] and resolved not to go in.” (Luk. 15:28, AB)

Daar is ‘n boek wat ek moes geskryf het.

In die vroegherfs van 1998 het ek Rusland toe gereis om ‘n lesing by ‘n internasionale kongres in Moskou aan te bied. Ek en my vrou kon die versoeking nie weerstaan om ook van die geleentheid gebruik te maak om die mooiste stad in die wêreld te gaan sien nie – Sint Petersburg. Ons het na ‘n paar dae in die grou Moscva met ‘n vreesaanjaende nagtrein deur die hart van die Sowjet-Republieke gereis na die ou Leningrad, ‘n enklave van Europa op die oewers van die Baltiese see, en ons heelhartig met verwondering aan die wonderstad oorgegee.

Gedrewe deur die totaal anderste leefwêreld as wat ons aan gewoond was in die Wes-Transvaalse hartland het ons uiteindelik die stad kon betree wat ons albei grootoog leer ken het in Kinders van die wêreld. Ek wou spesifiek drie dinge beleef waaroor ek baie gelees het en wat in my kopreise weliswaar al ‘n bestemming geword het, ‘n gedroomde ruimte van tuiskoms in die vreemde: om te lanterfanter in Nevski Prospect, die slagaar van lewe wat deur die stad pulseer; om die huis te besoek waar my gunsteling digteres, Anna Axmatoba, geleef het na haar man en seun as gevolg van hul geloof onthoof is, en dáár in haar binneplein vol berkebome wou ek ‘n gedig vir haar skryf om op my manier dankie te sê; en my diepste hartewens: om die Nederlandse skilder Rembrandt se uitsonderlike skildery, Terugkeer van die verlore seun, in die wêreld se grootste kunsmuseum, die Ermitage, te sien. Katarina die Grote het in 1766 die oorspronklike skildery bekom, en deur die eeue is die tydlose verhaal van die verlore seun aan generasies Russe voorgehou as ‘n ewige waarheid op doek vasgevang. Selfs in die godlose sisteem van sosialisme en kommunisme het die skildery gehang as ‘n getuie dat daar ‘n Vader is, en ‘n Vaderhuis. Hier in die eertydse winterpaleis van die Russiese tsaars sou ek voor ‘n skildery van ‘n Hollandse meester vir die eerste keer in my lewe ervaar wat dit beteken om ‘n geliefde seun te wees.

Die museum op sigself was ‘n enorme belewenis – lang sierlike gange, stelle elegante marmertrappe, kunstige dakke vol fresko’s, enorme beeldwerke en swaar kandelare, eindelose kamers vol skatte uit die diep ryk stroom van duisende jare se geesstuwings en verkennende verbeelding. En oral streng, jong sekuriteitswagte met militêre pette op, mollige middeljarige vroue wat grys met die mure insmelt, deel van die décorum, asof hulle lewend-geboetseerde kunswerke is wat op ‘n vreemde wyse strak ineenvloei met ‘n enorme skildery van die lewe met ontvouende dimensies.

Maar niks kon my voorberei op hierdie ontmoeting met die gloeiende gestolpte tafereel uit die Nuwe Testament op die walle van die voortstuwende Nevarivier nie.

Die skildery is lewensgroot in gloeiende geelrooi, roesbruin en oker. Daar is die onverwagte lig wat glans op die gesigte van die hooffigure in hierdie ontvouende klein drama, maar die meeste ander figure is in die donker gehul, amper nié daar nie, huiwerend op die periferie, maar tog in volle glorie stil getuies van ‘n universele versoening. Die natuurlike lig wat deur die groot venster op die skildery val, bring ‘n huiwerende oombliklikheid, laat dit wat in ‘n raam gevange is vreemd tot beweging kom, ‘n eie lewe kry, van posisie verander, ewig interaktief. Skadu en lig, skadu en lig, ‘n ewige spel.

Ek het lank daar gestaan en deel van die terugkeer van die verlore seun geword, op sy knieë voor sy pa, smekend om huis toe te kan kom. Daar was ineens die reuk van wilde karkoere en surings, vars omgedolwe grond en varkstront, en ‘n lyf wat moeg geruik het van beswaarlik leef op peule, selfs miskien die verlatenheid van ‘n goedkoop straatvrou se ontferming, oh the sisters of mercy, die treurige reuk van ou semen wat aan die geheue bly klad.

Ek kon my dit alles verbeel het, maar ek was ineens die verlore seun aan die voete van ‘n man wat ek eens vader genoem het. En ek hoor myself sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.

‘n Skrywer wat eweneens oor sy tref-en-trap ervaring met die skildery geskryf het, noem dat die skildery hom sy eie “vernietigende eensaamheid” laat beleef het. Ek het ineens die gebedswoorde van die digter NP van Wyk Louw in my gees gehoor: “U is begeerte, en pyn, en ’n verlange, / en het ons hart in so ‘n drif gemaak / dat nêrens rus vir ons bestaan.” Eugéne Marais kon ek hoor meepraat as hy probeer gestalte gee aan die groot verlange wat hom nooit ooit werklik verlaat het nie. Miskien is dit wat die skildery met my gedoen het – die besef wat die vroeëre ou kerkvader Augustinus so raak geformuleer het – My siel sal eers dan rus vind, as dit rus in God vind. Dít het Dawid ook duidelik verstaan – daardie rus is in die Vader alleen, want “ek vind rus by u altare” (Ps. 84:2).

En dis wat hierdie heilige moment in die skildery word – ‘n altaar. Die pa se geboë lyf, sy ou hande op die rug van sy toegekeerde seun, die hande wat gloei van genade en salwing, hande wat onthou. Die versmelting van die vader se hande op die seun se gebroke skouervlerkies spreek van die enigste moontlike vervulling van ons eksistensiële eensaamheid –  as ons heimwee na God versadig word in die aanvaarding, die verlange, die verwondering, die vreemde hunkering wat niks anders en niemand anders as die Vader in kan voorsien nie. Dit is Tuiskoms.

Wanneer ons dit besef en dit omhels, kan ons, huiwerig, weliswaar, met nuwe oë na mekaar ook kyk.

Wat ons dan bring by die ander, amper ongemerkte figuur in die skildery se skadurige agtergrond: die ouer broer. Luk. 15:25-32 vertel vir ons die verhaal se einde: “En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.”

Die gelykenis eindig met ‘n oop einde – ons weet nie hoe het die ouer boetie op sy pa se verduideliking gereageer nie, maar in die lig van soveel ander verhale van sibling rivalry in die Bybel was daar ‘n traumatiese en bloedige verloop van geestelike jaloesie. Dink aan Kaïn en Abel (Gen. 4), Josef en sy broers (Gen. 37) en Adónia en Salomo (1 Kon. 1), byvoorbeeld, net om enkeles te noem.

Hierdie  donker, raaiselagtige figuur word juis so treffend in die skadu’s gebeeld in die skildery van Rembrandt, want hy is vir die oomblik uitgesluit uit die klein ligkring van genade wat sy broer te beurt geval het. Die interessante hiervan is dat as jy voel jy te na gekom is, daar onmiddellik geestelike jaloesie insluip. Jou in-die-skadu-gestel-word deur iemand anders veroorsaak bepaald dat die skaduwees jou amper ongesien versmelt en deelagtig word. Jy word donker van jaloesie.

Dikwels bring die vergelyking van jouself met iemand anders naby aan jou wat iets (geestelik) ontvang mee dat jy in jou kop onregverdigheid reliëf gee deur vir jouself uit te spel waarom jy dit nié verdien om in die skadu’s te staan nie, wat jý alles vermag het, en hoekom juis dit uit jou perspektief bitter onregverdig is dat jy oorgesien word. Die ouer, verantwoordelike broer wat tuis gebly het, gewerk het, homself oorgegee het om met toewyding sy vader te dien, nooit enige moeilikheid of hartseer veroorsaak het nie, of deur uitspattigheid en onverant-woordelikheid sy vader grys hare veroorsaak het nie, voel sy swaarverworwe leefmeriete weeg nie swaar genoeg in sy vader se taksering en onverwagte gul gedrag teenoor sy verloopte broer nie.

Geestelike jaloesie veroorsaak dikwels dat ons juis dan onttrek, kies om buite die periferie van die binnekring te gaan staan. Enersyds omdat ons skaam-kwaad is, en andersyds, omdat ons verleë is dat ons nie die uitverkorene is nie. Dit word in die skildery treffend uitgebeeld deur die buitestaanders effe uit fokus uit te beeld, as ‘t ware skaars herkenbaar in die buitenste geestelike duisternis van verwyt waarin hulle hulself bevind.

Dit is interessant dat geestelike jaloesie derhalwe ook meebring dat jy ‘n buitestaander word. Die afstand bring mee dat jy voel jy beskerm jouself teen die verwerping wat hom van jou  meester maak, maar dit veroorsaak ook dat jy meer krities en afstandelik alles op ‘n afstand dophou – té bang om betrokke te raak. Dit veroorsaak uiteindelik dat jy met die verloop van tyd meer en meer geïsoleerd word, want jy begin leef as buitestaander en nie as betrokkene nie. Buitestaanderskap is op die lang duur ‘n geweldige destruktiewe lewenshouding – dit verlei jou tot dodelike passiwiteit en ‘n groeiende kritiese gees. Jy doen self nie iets nie, maar diegene om jou wat wel vooruit tree om tot aksie oor te gaan, word met ‘n arendsoog getakseer ten opsigte van hul motief, hul onvermoë, hul opportunisme, hul grypsugtigheid, hul onbeskaamde vermetelheid. Die huiwering om iets konkreet te doen, word met tyd vir jou self die grootste teenprestasiefaktor, want jou kritiese houding het – as jy baie eerlik met jouself sal wees – ‘n standaard gestel waaraan jy self baie moeilik kan voldoen. Uiteindelik, you just hate their guts.

“Maar om die veilige ruimte van die versigtige waarnemer prys te gee, het gelyk na ‘n reuse-sprong in ‘n heeltemal onbekende terrein. Vir my om darem my geestelike en spirituele lewensreis te beheer, om darem ‘n sê te kon behou in minstens ‘n deel van die uitkoms daarvan, het dit amper ondenkbaar gelyk om die veiligheid van die waarnemer prys te gee vir die kwesbaarheid van die terugkerende seun.”

Al die skadufigure in die skildery het die een of ander vorm van onbetrokkenheid. “Daar is ongeërgdheid, nuuskierigheid, dagdromery en aandagtige oplettendheid; daar is staar, tuur, dophou en kyk; daar is ook in-die-agtergrond-staan, teen ‘n poort leun, met gevoude arms en wringende hande sit en wag. Met al hierdie innerlike en uiterlike liggaamshoudings is ek maar alte bekend. Party is gemakliker as ander, maar almal is maniere om nie betrokke te raak nie.”

Daar is ‘n boek wat ek moes geskryf het oor my besoek aan Sint Petersburg in Rusland en die inloop in ‘n skildery in die Ermitage op die walle van die voortstuwende Nevarivier. Maar omdat ek myself in die skadu’s gesit het, gehuiwer het, eintlik gewag het dat die meer geliefde verlore seuns hul regmatige posisie kom inneem, myself nie as ‘n geliefde beskou het nie, het die waters van Neva nie weer vir my gemaal nie. Jare daarna loop ek Henri Nouwen se boek Die terugkeer van die verlore seun in die hospice raak, en ek hou die boek wat ék moes geskrywe het, in my bedroë hande vas. Oh, the sadness of a book never written! “Toe ek … na Sint Petersburg toe is om Rembrandt se Terugkeer van die verlore seun te sien, het ek geen benul gehad van hoe baie ek van die uitbeelding wat ek toe gesien het, sou moes leer lééf nie.”

 

  • Sela: Herken jy jouself in die skaduwees?
  • Lees: 22-30
  • Memoriseer: 24:17
  • Delf dieper: Lees Henry Nouwen se boek Die terugkeer van die verlore seun.