Dag 827-828

 

“Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.” (Deut. 6:15, OAV)

Die afgelope Mannas was ‘n verkenning van die gees van jaloesie, die diepste grondslag daarvan, ook geestelike jaloesie, en allerlei aanverwante sake wat daaruit voortspruit.

‘n Laaste perspektief op hierdie saak is die noodwendige vraag waarmee baie mense worstel – die feit dat daar dikwels van God gepraat word as ‘n “jaloerse God”. As God dan jaloers is, hoekom is Hy dan teen menslike jaloesie? Drie eksplisiete voorbeelde:

 

  • 34:14 – “Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.”
  • 4:24 – “Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.”; en
  • 6:15 – “want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou:

 

Miskien is die beginpunt om hierdie interessante aspek van God se karakter te benader dat ‘n mens moet verstaan dat jaloesie, soos ook woede byvoorbeeld, as sodanig nie ‘n oortreding IS nie, maar ‘n emosie. Die pervertering van die emosie word die probleem. (Pervertering in sy oorspronklike betekenis dui op iets wat reguit is, maar krom gemaak word, dit wil sê wat uit sy geskape toestand misbruik of verkeerd gebruik word.)

Ter illustrasie moet ons dalk eers op woede konsentreer, want dit maak die analogie van jaloesie duideliker. Indertyd het Jesus duidelik woedend geword toe hy die toedrag van sake in die tempel sien: “En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.” (Joh. 2:15). In ooreenstemming hiermee klink Paulus se riglyn in Efes. 4:26 amper asof dit ‘n opdrag is om kwaad te moet word: “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie …” Die Message sê dit mooi: “Go ahead and be angry. You do well to be angry–but don’t use your anger as fuel for revenge. And don’t stay angry. Don’t go to bed angry.” As ons byvoorbeeld lees van Moses wat van Farao af weggegaan het “in gloeiende toorn”, besef jy dat daar wel iets soos heilige woede is, maar Jak. 1:19 maak dit duidelik dat jy moet “stadig … toornig … word”, want Efes. 4:27  spel dit uit dat ons die duiwel géén plek moet gee deur geperverteerde woede nie.

Ek kan nie anders nie as om hier noodwendig te dink aan Stephen, een van my gunsteling karakters in die film Braveheart, wat by William Wallace in sy geloofstog aangesluit het. Sy opmerking oor die aard van die “heilige oorlog” bly my altyd in erg uitdagende en provokerende situasies by: “The Almighty says this must be a fashionable fight. It draws the finest people.” Die seuns van die donder (Mark. 3:17) en die Elias wat as geweldenaars geroep word om die koninkryk met geweld te vat (Mat. 11:12), is Bybelse toonfigure wat iets van hierdie “holy indignation” demonstreer.

As ‘n ander man byvoorbeeld ongewenste belangstelling in jou vrou toon, is dit onnatuurlik dat daar nié jaloesie sal wees nie. Twee Skrifte uit die Nuwe Testament illustreer mooi hierdie ongeperverteerde jaloesie:

  • “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.” (1 Kor. 11:2)
  • “Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon? (Jak. 4:5)

 

Hierdie twee Skrifte het die Goddelike nosie van jaloesie ten grondslag, ‘n nosie wat dui op verterende ywer. Die woord wat in Hebreeus hiervoor gebruik word, is qana, wat kan beteken: “to envy, be jealous, be envious, be zealous” (BDB). As God se naam in Eks. 34:14 (NJB) as ‘n eienaam, El Qana, gebruik word, is dit baie belangrik om die Goddelike karakteristiek van Yahwe reg te verstaan: “for you will worship no other god, since Yahweh’s name is the Jealous One; he is a jealous God”. Kyk weer na die onthutsende pront Afrikaanse vertaling daarvan hierbo: “want die HERE se Naam is Jaloers”. (Dit is baie insiggewend dat verskeie primêre bronne oor die karakteraard van God, byvoorbeeld Arthur W. Pink se The Attributes of God, hierdie spesifieke karakteraard glad nié eens noem of bespreek nie. Eweneens het weinig boeke wat handel oor die name van God enigsins El Qana gelys. Dit skep die indruk dat teoloë sukkel met die idee dat jaloersheid enigsins ‘n Goddelike kwaliteit kan wees.)

In albei gevalle is die gebruik van die woordjie jaloers in die twee Nuwe-Testamentiese Skrifte hierbo gekoppel aan God se jaloersheid oor die Bruid van Christus. Die objek van God se jaloersheid is sy waking oor die “geslag van God” (Mal. 2:15). In hierdie lig is dit des te meer verstaanbaar dat ons in ons verkenning van die geperverteerde gees van jaloesie moes uitkom by die kern van die menslike probleem van jaloesie – die feit dat die jaloerse nie oor hom/haarself dink as ‘n geliefde van God nie. Die gelowige wat nie glo hy/sy is ‘n geliefde van God nie, kan nie die dwingende ywer van Jahwe om jou onbesoedeld aan jou Bruidegom voor te stel, verstaan  nie en kan dus God ook nie in sy eienaam en karakter as Jaloers ken nie.

‘n Mooi voorbeeld van geestelik geregverdigde jaloesie kry ons te lees in die verhaal wat opgeteken is in Num. 25. Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete. Deel van hulle godsdiensrituele was tempelprostitusie, en sodoende het die Israeliete hul gekoppel aan die afgod Baäl-Peor. Ten spyte daarvan dat die Israeliete geweet het hul is deel van ‘n “ewige priesterskap” (vers 13), en hulself nie op hierdie wyse kon besoedel nie, het hul daarmee aangehou, ten spyte van Moses se ernstige waarskuwing en God se strafgerig oor hulle. Die drastiese strafaksie om die toorn van die volk af te wentel, deur die oortreders op te hang in die volle son, of om die oortreders dood te slaan, het die inherente begeerte om te hoereer nie gestop nie. En toe, voor die oë van Moses en Aäron het ‘n Israelietiese man gekom en in die tent van samekoms vir almal om te sien, gemeenskap met ‘n Midianitiese vrou gehad.

Toe Pínehas, die kleinseun van die priester Aäron, dit sien, het hy uit die vergadering uit opgestaan en ‘n spies in sy hand geneem en agter die Israelitiese man aan gegaan in die tent en die twee egbrekers deurboor, die Israelitiese man en die vrou, in hul onderlywe. Daarna het die plaag onder die kinders van Israel opgehou.

Om reg in eie hande te neem, was streng gesproke teen die wet, maar God kom tot die wreker se redding en maak hierdie ongelooflike stelling in vers 11: “Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie.” Pínehas het met ‘n “sanctified jealousy” opgetree en sy volk gered. J.I. Packer noem dit in sy boek, Knowing God, “a zeal to protect a love-relationship” (p. 189). Dít verduidelik ten beste die karakteraard van ons God met die Naam El Qana.

Hiermee sluit ons dan die lering oor die gees van jaloesie af.

 

  • Sela: Verduidelik vir iemand hoekom een van God se Name El Qana is.
  • LeesEks. 31-36
  • Memoriseer: Eks. 31:6
  • Delf dieper: Lees J.I Packer se boek Knowing God.