Dag 829

 

 

“want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek”    (Jes. 28:15, OAV)

 

Ons is tans besig met die reeks oor die veertien geeste wat die Bybel eksplisiet benoem, en het pas die derde gees, die gees van jaloesie, afgehandel. Vandag begin ons met die leuengees.

Die sielkundige M. Scott Peck het met sy boek The Road Less Travelled met ‘n mengsel van Boeddisme, Islamitiese mistisisme, New Age en basiese Christelike konsepte ‘n boek geskryf wat – die sinkretisme ten spyt – wêreldwyd ‘n wegholtreffer was. In sy volgende boek het hy getuig hoe hy intussen tot bekering gekom het en gedoop is. Sy nuwe boek was grootliks die gevolg van hierdie geweldige geestelike omwenteling wat hy ondergaan het, en hierdie omwenteling was hoofsaaklik die gevolg van sy ervaring met die realiteit van die Bose.

Sy daaropvolgende boek was gepas getiteld: People of the Lie – The Hope for Healing Human Evil. Die hooftitel is uiters treffend; die subtitel egter erg verwarrend – is die “people of the lie” die hoop vir die genesing van menslike boosheid? En jy kan eweneens vra: veronderstel dit dat daar ander boosheid is as menslike boosheid? En dan uiteraard die miljoendollarvraag: is daar enigsins ‘n moontlikheid dat boosheid kan genéés – dis immers nie ‘n siekte nie. Die lomp subtitel ten spyt is hierdie boek ‘n insiggewende persoonlike reis wat die karperde van sielkunde en geeskunde saam probeer inspan. Dit is ‘n komplekse onderwerp en ‘n gevaarlike terrein vir iemand wat nie die geestesrealm, en veral die demoniese realm, ken nie.

Peck se blootstelling aan demone in mense het vir hom ‘n totaal nuwe dimensie geopen. Hy bring nie noodwendig ‘n nuwe perspektief op die aard van boosheid nie, maar kom met verskeie insigte wat ons almal help in die verstaan en kartering van die Bose in ons lewens. Ek wil ‘n paar van die belangrikste insigte in die boek weergee as ‘n vertrekpunt rondom hierdie gees van leuenagtigheid, want dit is uiteindelik die primêre slotsom van Peck in sy boek – die Bose manifesteer in “People of the Lie”. Hy stel dit soos volg, baie raak: “wherever there is evil, there’s a lie around” (p. 153). Natuurlik, Satan is die vader van die leuens: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” (Joh 8:44).

Ons sal veel langer op hierdie vers moet ag gee, maar in die lig daarvan, oorweeg net die volgende insigte van Peck rondom ons as die “people of the lie”:

  • “The lie is designed not so much to deceive others, as to deceive ourselves.” (p. 84).
  • “We become evil by attempting to hide from ourselves.” (p. 85).
  • “Satan has no power except in a human body … The only power that Satan has is through human belief in its lies.” (pp. 236-237).

 

Vanaf die volgende Manna sal ons hierdie en verskillende ander aanverwante aspekte van die gees van leuenagtigheid ondersoek.

 

  • Sela: Bedink die drie stellings van Peck hierbo biddend.
  • Lees: 37-40
  • Memoriseer: 40:37
  • Delf dieper: Lees Peck se boek.