Dag 830

 

Julle het die duiwel as vader,  … hy staan nie in die waarheid nie omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” (Joh. 8:44, OAV)

Die vierde gees in die reeks oor die veertien geeste wat die Bybel eksplisiet benoem, is die leuengees. In die vorige Manna het ons na Dr. M. Scott Peck se belangwekkende boek People of the Lie gekyk en drie belangrike insigte van hom oor leuenagtigheid as manifestasie van die Bose gelys. Ons wil in meer detail daarna kyk in die volgende drie Mannas.

Die eerste aanhaling is: “The lie is designed not so much to deceive others, as to deceive ourselves.” In die aanhaling uit Joh. 8:44 hierbo word die duiwel die vader van die Fariseërs genoem, maar ook die vader van die leuen. Uiteraard is dit dan duidelik dat almal wat uit die saad van die slang gebore is (Gen. 3:15) die duiwel as vader het, en derhalwe per definisie nie in waarheid staan nie, en ipso facto leuentaal praat. Baie interessant dan, is die frase “Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie …”. Verskillende vertalings omskryf hierdie deel besonder insigryk:

  • “When he speaks a falsehood, he speaks what is natural to him, for he is a liar [himself] …” (AB)
  • “When he speaks a lie, he speaks from his own resources …” (NKJV)
  • “When the Liar speaks, he makes it up out of his lying nature and fills the world with lies.” (Msg)

 

Dis dan te verstane dat die natuurlike mens (d.w.s. die onwedergebore mens) in ‘n wêreld van eie insigte en persoonlike verstaan funksioneer, en dat dit gebaseer is op sy eie sense-making fictions, soos Kermode die term gemunt het. Daardie bedenksels is per definisie “sensueel, aards en demonies” (Jak. 3:15). Die manier van dink van die natuurlike mens word inherent gedryf deur wat 1 Kor. 2:12 “die gees van die wêreld” noem. Daarom sê vers 14: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” As ons hierdie insig versoen met die masskrif hierbo, beteken dit eenvoudig dat die natuurlike mens of gevalle self homself en sy wêreld nie kan ken behalwe deur leuens nie. Ons denkkapasiteit en ons verbeeldingskapasiteit is onherroepelik deel van ons gevalle natuur – dit skep ‘n valse realiteit van leuenagtigheid. Die ou mens Adam in elkeen van ons is die funksionering IN ONS van “the evil principle”.

Hierdie begrip gebruik Leanne Payne in haar boek oor die werke van C.S. Lewis, Real Presence, waarin sy skryf oor hierdie komplekse bose staat van die natuurlike mens. Sy noem dit “the hell of our false selves”, en stel dit teenoor “the reality of God, present in and through His creation”, wat sy “incarnational reality” noem. (p.10).

Dis dan te verstane dat in die lig van alles wat hierbo ter sprake gekom het, dat dit waar is: “The lie is designed not so much to deceive others, as to deceive ourselves.” Dit is net as die vals realiteit van ons leuenagtige self vervang word met die incarnational reality van Jesus se lewe IN ons, “sal ons deur sy lewe gered word” (Rom. 5:10).

 

  • Sela: Daar lê diep waarheid in die laast sin. Bid dit tot dit gebeur.
  • Lees: 1-4
  • Memoriseer: 4:6 (en bedink die tipologie).
  • Delf dieper: Lees Leanne Payne se boek Real Presence .