“Alle mense is leuenaars.” (Ps. 116:11, OAV)
Hierdie stelling van die Psalmdigter is ‘n groot gelykmaker.
Party rasioneles onder ons sal dalk raaksien die stelling is ‘n Kreteense paradoks, want as dit waar is dat alle mense leuenaars is, en die spreker is ‘n mens, dan is dit wat hy sê per definisie ook ‘n leuen, met ander woorde alle mense is nié leuenaars nie! Interessant genoeg dat hierdie tipe paradoks juis uit die Bybel kom, en spesifiek uit Tit 1:12 “Een uit hulle, hul eie profeet, het gesê: Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike.” Maar omdat Paulus geweet het dat die filosowe van sy tyd altyd op soek was na taalspeletjies, woordspelinge, literêre stylfigure, dubbelsinnige metafore, en so meer, bring hý in net die volgende vers, Tit 1:13, die groot gelykstelling: “Hierdie getuienis is waar.”
Die eietydse filosowe van die postmodernisme gaan eweneens van die standpunt uit dat daar geen eksterne punt is van oorspronklike verwysing nie. God, byvoorbeeld, kan volgens hulle nie ‘n eksterne verwysingspunt van Waarheid wees waaraan alles dan getoets word of dit waar is, of vals, nie.
Die NG Kerk-teoloog, dr. Ben du Toit, het in sy opspraakwekkende boek: God? Geloof in ‘n postmoderne tyd in aansluiting by die Duitse godsgeleerde, Rudolf Bultmann, die volgende uitgespel: “Deur middel van hierdie ‘ont-mitologisering’ van die Nuwe Testament hoef die moderne mens, wat te doen het met die wetenskap en tegnologie, nie meer uit die bladsye van die Bybel gekonfronteer te word met ‘n wêreldbeeld van wonders en bose geeste, van ‘n duiwel en die opstanding uit die dood nie. Die moontlikheid dat God in Jesus werklik ‘af’ gekom en mens geword het, is net soos die opstanding (wat eintlik die gevolge is van gemeenteteologie), deel van die mitologiese wêreldbeeld van daardie tyd.” (p. 142).
As God nie die regulerende verwysingspunt van alles, die Oorsprong, is nie, sal daar nie absolutes soos waarheid/leuen kan wees nie. Rom. 11:36 proklameer byvoorbeeld: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.” Maar meer as dit – Jesus, die Een uit wie alle dinge voortgekom het (Joh. 1:3; Kol. 1:16-17), se Naam (en dus identiteit), is “Waarheid” (Joh. 14:6). Hy word, met Sy identiteit van waarheid (Joh. 1:14) – in Sy eie woorde, en Hy is geen mens dat Hy kan lieg nie (Num. 23:19) – die teenstelling van die “vader van die leuen” (Joh. 8:44).
Die postmodernisme het grootliks voortgespruit uit die filosoof Nietzsche se nihilistiese lewenshouding van “God is dood”. Of postmodernisme nou ‘n denkmodus van die tyd is, en eietydse teoloë met die diep demoniese vaarwaters daarvan wil saamvloei, hef nog nie die stelling van die psalmdigter hierbo op nie – alle mense ís leuenaars.
1 Tim. 4:1-2 praat juis daaroor dat baie godsgeleerdes “deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk word in hulle eie gewete” ‘n “doctrine of demons” voorhou wat NIKS met die evangelie van waarheid (Kol. 1:15) te doen het nie. Streng gesproke bevestig hulle bloot die inherente “gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efes. 2:2), en spreek hulle leuens (Ps. 12:2).
- Sela: Verduidelik die begrip ‘postmodernisme’ aan iemand.
- Lees: 11-13
- Memoriseer: 12:8
- Delf dieper: Lees hfst. 3 van Norman Grubb se boek The deep things of God.