“As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God …” (1 Pet. 4:11, OAV)
Ons is tans besig met om meer te wete te kom oor die gees van leuenagtigheid. In die vorige Manna het ons geleer dat alle mense van geboorte af deurweek is met leuenagtigheid. Miskien is die belangrikste aspek van die goddelike natuur (2 Pet. 1:4) derhalwe die teenpool daarvan, te wete waarheid, want dit is Jesus se waarmerk van sý identiteit (Joh. 14:6). Waarheid is ál wat vrymaak (Joh. 8:32). Jesus sê onomwonde in Joh. 18:37 hierdie belangwekkende woorde – “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”
Jesus beliggaam waarheid; Hy word trouens dwarsdeur die boek Openbaringe “the True One” genoem. Maar dan spel 1 Joh. 5:6 dit voorts duidelik ook uit: “Die Gees is die waarheid.” En luister wat sê Joh. 15:26 van die waarheidskarakter van die totale Drie-in-Een: “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.”
‘n Mens sou dan geredelikerwys aanvaar dat, soos 1 Joh. 1:6, sê: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.” Daar is duidelik dus kinders van God wat egter nié in waarheid wandel nie (2 Joh. 1:4; 3 Joh. 1:4). ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Ananías en Saffíra wat vir die Heilige Gees gelieg het om die prys van die grond wat hulle verkoop het, terug te hou (Hand. 5:1-11). Ons leef nie genoegsaam in die vrees van die Here sodat ons lippe rein offerdiere vir die Here (Hos. 14:2) kan word nie.
Ons almal weet die negende gebod is: “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.” (Eks. 20:16), ‘n gebod wat Jesus interessant genoeg herhaal in Mat. 19:18, wat die belangrikheid daarvan ook in die nuwe verbond benadruk. Ook in byvoorbeeld Paulus se briewe lê hy groot klem daarop dat ‘n substansiële deel van die “die nuwe mens” wat “na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” beklee moet word met waarheid: “Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.” (Efes. 4:24-25).
1 Joh. 2:21 stel ‘n praktiese riglyn rondom leuenagtigheid: “geen leuen (is) uit die waarheid is nie”. Hierdie net span wyd – halwe waarhede, stilswye, ongeregtige nadruk, hiperbole, verkleining, valsheid, geveinsdheid, dubbele standaarde, selfs iets soos om iemand valslik te vlei (Ps. 5:9; 12:2; 62:4), en inderdaad ook wit leuentjies.
Dis veelseggend dat in 1 Tim. 1:8-11 Paulus ‘n hele klompie ongeregtighede saamgroepeer wat “in stryd is” met spesifiek “die evangelie van die heerlikheid”. Hy benoem dan hierdie daders van die ongeregtigheid, en die lysie is skrikwekkend: moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, byvoorbeeld, maar dan ook pertinent: leuenaars.
Jakob die bedrieër het al lank ‘n pad met God geloop, maar hy moes by ‘n plek kom waar hy hom in sy subtiele leuenagtige self moes konfronteer – dit het by ‘n drif in die Jabbok (Gen. 32: 22) gebeur, wat in Hebreeus beteken: “place of emptying”. Dit is tyd dat elkeen in die Bruid haarself van leuenagtigheid sal ledig, dat 1 Pet 4:11, hierbo, gestalte kan vind in ons.
- Sela: Konfronteer die gees van leuenagtigheid in jou.
- Lees: 14-16
- Memoriseer: 16:22
- Delf dieper: Lees Mark Chirona se boek: You can let go now (met onderskeiding, asb.)