Dag 84

 

 

“eet jou brood met vreugde” (Pred 9:7, OAV)

Daar is net drie waarmerke dat jy in die Koninkryk van God funksioneer: jou lewe word gekenmerk aan “geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom 14:17). Deel van die betekenis van die toonbrood in die Heilige is dat jy “versadiging van vreugde voor Sy aangesig” (Ps 16:11) sal ervaar; in die eet van hierdie bread of Presence sal jy “met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Pet 1:8) vervul word.

Hierdie blydskap is nie ‘n aangeplakte, eksterne of oppervlakkige blydskap nie; dis ‘n blydskap wat gegenereer word “in die Heilige Gees”. Benewens dat ons weet dat blydskap een van die vrugte van die Gees is (Gal 5:22), praat 1 Thes 1:6 van die “blydskap van die Heilige Gees”, met ander woorde dit is ‘n wesenseienskap van die Heilige Gees self. ‘n Mens vergeet soms dat die Heilige Gees die gees van Christus is (Rom 8:9; 1 Pet 1:11), en as jy dit verreken, dan verstaan jy Christus was eintlik “a man of joy”! In Spr 8:23 word vertel hoe Christus, terwyl God alles geskep het, vol verlustiging was: “I was a delight day by day, always rejoicing before Him” (HNV). Dis dan nie vreemd nie dat die eerste aankondiging van Jesus se koms in Luk 2:10 was: “En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees.” En net voor die kruisiging bid Hy in Joh 17:13: “Maar nou kom Ek na U toe; en Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê.” Heb 1:9 sê die feit dat God Jesus met vreugde-olie gesalf het, het Hom onderskei van alle ander mense. Vreugde was sy onderskeidende kenmerk!

Al het Hy alle rede om man van smarte genoem te word (Jes 53:3), het Hy heeltyd ten spyte van “baie verdrukking” geskuil (1 Kron 16:27) in “die blydskap van die Heilige Gees” (1 Thes 1:6). In navolging van Christus, “vervul met blydskap en met die Heilige Gees” (Hand 13:52), “loop (ons) oor van blydskap in al ons verdrukking” (2 Kor 7:4).

Deut 28:47-48 wys uit hóé belangrik is vreugde vir God in jou geloofswandel: “Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid … gedien het nie, sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ‘n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.” (Deut 28:47-48, OAV). Skrik. Dis ‘n voorwaarde om die HERE te dien met blydskap; dis met gejubel dat jy voor sy aangesig kan kom (Ps 100:2). 

  • Sela:  Bid asb oor die Skrif in Deut 28:47-48 – dis ‘n sleutel van persoonlike bevryding ten opsigte van baie dinge wat in jou persoonlike lewe skeefloop.
  • Lees: Eks 34; Ps 84; Mark 10
  • Memoriseer:  Mark 10:27
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Verwyder die sluier van vreugdeloosheid.