“Wat krom is, kan nie reguit word nie …” (Pred. 1:15, OAV)
Ons is tans besig om te kyk na die omvangryke aanslag van die veelkoppige monster van die gees van perversiteit. In hierdie Manna wil ons die betekeniskontekste waarbinne hierdie woord in die Skrif gebruik word, ontgin.
Mannalesers sal onthou die etimologie van die woord ‘pervers’ is ‘krom’. Daarom is Pred. 1:15 is klinkklare stelling oor die toestand van perversiteit: “Wat krom is, kan nie reguit word nie …” Dit beteken nie net dat die dade het ontspoor en afgewyk van die oorspronklike doel daarvan nie – die persoon wat hom met perverse dinge besig hou, is in sy grein en wese ook pervers. Daarom byvoorbeeld dat Dawid, in sy sondegebrokenheid, die volgende taksering van homself gee: “Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou …” (Ps. 38:6).
Uit die volgende paar voorbeelde uit die Ou Testament kan ons die gevolge van die gees van perversiteit in ‘n mens duidelik uitlees. Let op hoe elkeen terugverwys na “krom/verdraai” as teenpool van “reguit” as norm.
- “En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.” (Jer. 9:5).
- “Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie.” (Job 33:27).
- “Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.” (Jes. 59:8).
- “Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg ‘n afsku het en al wat reg is, verdraai …” (Miga 3:9)
‘n Mens verstaan nou dat Saulus, na sy bekering, in Reguitstraat (Hand. 9:11) moes bly, sodat hy as norm (1 Kor. 11:1) herstel moes word! Derhalwe is dit baie interessant dat Jesus dan die kerkmense van sy tyd, wat besonder godsdienstig was, die Fariseërs, in Matt. 17:17 aanspreek deur hulle ‘n “ongelowige en verdraaide geslag” te noem. Die Amplified Bible omskryf dit netjies: “And Jesus answered, O you unbelieving (warped, wayward, rebellious) and thoroughly perverse generation!” Dit maak dit duidelik dat ons dikwels ook hierdie gees van pervertering selfs in ons godsdienstige mondering kan ronddra. Paulus verduidelik in Hand. 20:29-30 hoe dit moontlik is: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.” Die woordjie “verkeerd” is in die grondtaal pervers, soos dit ook mooi duidelik blyk uit byvoorbeeld Hand. 13:10 – “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” Paulus spel dit ook uit in Gal. 1:7 dat daar sommige mense is wat gelowiges in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Sy oproep in Fil. 2:15 is dat ons onberispelik en opreg sal wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie ons skyn soos ligte in die wêreld.
- Sela: Vra die Heilige Gees om jou die funksionering van die gees van perversiteit in jou lewe uit
te wys.
- Lees: Num. 5-6
- Memoriseer: Num. 6:23-26 (en spreek die seën so dikwels as moontlik oor mense uit).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws: Onderskei die Gees van Waarheid en die Gees van Dwaling.