Dag 842

 

“En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo …” (2 Thes. 2:11, OAV)

Wat ‘n mens partykeer mislees rondom die gees van perversiteit is dat Jes. 19:14  dit eksplisiet uitspel dat die HERE het die gees van bedwelming gegiet, en derhalwe het die HERE die dwaalweg meegebring. Hoe is dit moontlik dat God hierdie geeste stuur? (Sien byvoorbeeld ook in 1 Kon. 22:23 – “En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee …”) Hoe werk dit dan dat die Here dit bewerkstellig?

Ons gaan ‘n redelike wye draai loop om hierdie vraag te beantwoord, maar dit is van die allergrootste belang om God se soewereine posisie in hierdie saak reg te verstaan.

As uitgangspunt wil ons die masskrif hierbo gebruik. In die geheel aangehaal, lui dit soos volg: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Thes. 2:11-12). Hierdie gedeelte is die slotsom van ‘n lang betoog van Paulus oor die aard van die samelewing voor die wederkoms van Jesus en wat in die teologie as die apostasie bekend staan, die afval van die geloof. Dit word (verkeerdelik) net gesien as iets wat eers aan die heel einde van die wêreld, nét voor die wederkoms, sal plaasvind, en dit word altyd gekoppel met die (sogenaamde) koms van die (sogenaamde) Antichris – “eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” (verse 3 & 4).

‘n Woordeboekdefinisie van apostasie sal dan meer verhelderend wees in hierdie konteks: “An abandonment of what one has professed; a total desertion, or departure from one’s faith or religion.” (Webster).

In ‘n pervertering van wat hier staan, byvoorbeeld deur die teologiese inhoud (veral deur dit wat nié daar staan nie) te verruim, het verskeie Charismatiese eindtydpredikers die gedeelte uit die brief van Paulus gebruik om bepaalde tydlyne rondom die (sogenaamde) wegraping, onder andere, te verduidelik. Probeer fokus op wat hier staan, en nie verlei te word deur die “kunstig verdigte fabels” (2 Pet. 1:16) nie: “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.  En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Thes. 2:6-11).

In die volgende Mannas sal ons hierdie apostasie verder ontgin en daardeur die antwoord verkry oor hoekom dit God is wat die gees van perversiteit na mense toe stuur.

 

  • Sela: Verduidelik die begrip ‘apostasie’ aan  iemand.
  • LeesNum. 7
  • Memoriseer: Num. 7:89
  • Delf dieper: Luister na Riaan Rauch se cd-lering: Die ballingskap van die wêreld se verwagting.