
“The heart is perverse above all things …” (Jer. 17:9, DRB)
Ons is tans besig om te probeer uitvind wat vir die gees van perversiteit in gelowiges se lewe toegang gee. ‘n Groot deel van die soeke na ‘n verantwoordbare antwoord oor hoekom dit die Here (en nié Satan) is wat hierdie gees na gelowiges stuur, het ons gebring by ‘n baie komplekse gedeelte van die Skrif , naamlik 2 Thes. 2:1-12, wat moontlik die sleutel tot die saak bied.
Na die verwikkelde sintaksis van Paulus ontvouend herskryf is, is daar is tot dié geweldig belangrike slotsom gekom – die instansie wat “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” akkommodeer om ‘n vals salwing in stand te hou, is die geïnstitusionaliseerde Babiloniese kerksisteem. Hierdie ”defection from the truth” vind plaas binne die sigbare kerk, nie daarbuite nie. Hierdie vervleesliking van die kerk is vyandskap teen God.
Met hierdie Mannas moet jy asseblief Dag 845-847 langs jou as verwysingsbron hou, want ons gaan die chronologiese gang nou tot sy logiese konsekwensie moet voer.
Kom ons begin met Punte 1 en 2 – die begrippe wat hier uitstaan, is uitverkiesing, roeping en heiligmaking (wat in volgorde breedweg korrespondeer met byvoorbeeld die orde daarvan in Rom. 8:29-30). Hierdie “hoë roeping” (Fil. 3:14) het te make met die “evangelie van heerlikheid”, dié evangelie wat die waarmerk is van die derde dimensie, en waarin die Bruid, en nie die Kerk nie, funksioneer. Uitverkiesing – soos dit vroeër in die Manna verduidelik is, het geensins te make met redding nie, maar met roeping (volgens 1 Pet. 1:2).
Punte 3 en 4 is ‘n vermaning dat die ware gelowiges van die derde dimensie nie moet toelaat dat hul mislei, selfs verlei (Efes. 5:6; Kol. 2:4), word nie en sodoende deel word van ‘n sisteem wat hul hul roeping kan kos. “Die dag van Christus”, word uitgespel, het nog nie in sy volkomendheid aangebreek nie. Daardie dag, wanneer “Christus … alles en in almal (is)” – ‘n geheimenis waaraan ons nog glad nie geraak het nie – moet nog plaasvind. Soos wanneer ‘n babatjie fisies gebore word, kroon die koppie allereers, dan die liggaam met al sy verskillende dele: die skouers, die arms, die borsgedeelte, die onderlyfie, die bene en die voete – dit is die verordineerde orde. As die voete byvoorbeeld nog nie uit is nie, is die volle baba nog nie gebore nie.
Dáárom maak Paulus dit baie duidelik hierbo – “die dag van Christus” het nog nie in sy volkomendheid aangebreek totdat die volle Liggaam gestalte gekry het nie.
Let nou op die analogie – die Hoof, Jesus, het bykans tweeduisend jaar gelede sy opwagting gemaak. Sedert Pinkster (Hand. 2) is die Liggaam besig om gebore te word. Dit bly één Christus (Jesus, die Hoof, plus die res van die gesalfde Liggaam, die Bruid), soos Paulus dit so raak uitspel in Efes. 1:22-23 (Weymouth): “God has put all things under His feet, and has appointed Him universal and supreme Head of the Church, which is His Body, the completeness of Him who everywhere fills the universe with Himself.”
Die Liggaam van Christus is die volledigheid van die Christus van God (Luk. 9:20). Tweeduisend jaar gelede was die openbaring van die Hoof daar (1 Kor. 11:3; Efes. 1:10 & 22; 4:15; 5:23; Kol. 1:18; 2:20 & 19), maar die Liggaam van daardie Hoof het ontwikkel deur al die eeue totdat eendag “ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes. 4:13).
1 Kor. 12:12 spel dit besonder verhelderend uit: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.”
In Punt 5 hierbo praat Paulus van “die verborgenheid van die ongeregtigheid”. Hierdie verborgenheid staan direk teenoor ‘n ander verborgenheid, wat op verskeie plekke in die Nuwe Testament eksplisiet benoem word as “die verborgenheid van Christus” (Efes. 3:4). Lees ook die volgende duidelike heenwysings daarna:
- 3:9 – “en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus …”
- 5:32 – “Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.”
- 1:26-27 – “die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus in julle, die hoop van die heerlikheid”.
- 2:2 – “om die verborgenheid te leer ken … van Christus …”
- 4:3 “om te spreek van die verborgenheid van Christus …”
Let asseblief mooi op – die verborgenheid van Christus word volgens Kol. 1:26 “aan sy heiliges” bekend gemaak, nie aan alle gelowiges nie (verskeie Skrifte lê hierdie verband, bv. Efes. 4:12). Daarom is dit baie insiggewend en belangrik dat hierdie verborgenheid van Christus staan teenoor die Babiloniese kerksisteem. Die Bruid van Christus van die derde dimensie staan teenoor die Hoer van Babilon. Kyk wat sê Open. 17:5 oor haar: “en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”. Verstaan mooi – die Hoer van Babilon is die heersende demoniese kerkstruktuur wat die gees van die Antichristus dra, en staan in direkte opposisie teenoor “die gees van Christus” (Rom. 8:9; 1 Pet. 1:11). In die dampkring en beheerstrukture van die Hoer van Babilon is daar baie gereddes, selfs wedergeborenes, selfs diegene wat geloofsopreg en Geesvervuld is.
Die krisis is dat hulle as gevolg van die geïnstitusionaliseerde sisteem van godsdiens gevange gehou word, en met al die ander betekenisse wat die woordjie in Grieks voorhou: onwrikbaar vashou, om jou teen alle koste in ballingskap of gevangeneskap te hou, onderdruk, om gebonde gehou te word, in die boeie te wees. Noudat ons weet wie die “hy” is van Punt 6 hierbo, moet ons besef dat die formele kerkstruktuur in die algemeen lei na ‘n apostasie. Dit klink miskien twyfelagtig, of na ‘n harde oordeel, maar onthou – alles wat nié Christus is nie, word steeds deur die vleeslike natuur en dus die Bose beheer. Die rede waarom daar apostasie is, of ‘n sekularisering van die kerk, is omdat die gelowige mens homself verhef en verhoog het. Die ego en die ou natuur van die ongeregenereerde self het sy plek op die troon ingeneem in die tempel van God: sy eie liggaam. Binne die geinstitusionaliseerde Babiloniese kerksisteem word hy deel van ‘n demoniese “many-membered man” wat lynreg staan teenoor die Bruid van Christus as ‘n “many-membered man”. Ons verstaan dus nou Punt 5 hierbo: die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.
Ook: Met hierdie duidelike verstaan van wie die enigmatiese “hy” is in die gedeelte (Punt 6) en die verstaan wat die sekularisasie in die kerksisteem beteken (Punt 7), is dit makliker vir die res van die rolspelers om geplaas te word en gebeure om in konteks en perspektief verstaan te word. Punt 8 is egter die kruks in die argument, en dit is waar die misinterpretasie tradisioneel ingekom het. Die Babiloniese kerksisteem moet eers uit die weg geruim word voordat dit wat in hom skuil, ten volle openbaar gemaak kan word, “(that which) develop(ed) from the midst” (1 Thes. 2:7b, ACV). En Punt 9 verduidelik dan wie die onheilige drie-eenheid is wat ongeregtigheid bewerk: die mens van sonde, die seun van die verderf , die teëstander. Dán sal dit eers ten volle duidelik wees in watter mate die ongoddelike Babiloniese kerkstruktuur diegene wat in haar stelsels van vals vleeslike outoriteit vasgevang is, gekeer het om nie in haar roeping op te staan nie. Dan word die volgende drie Punte duidelik, want dit is dan duidelik dat dit ‘n verdoeselde werking van die Satan is, met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen (Punt 10), met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie (Punt 11). Die gees van die antichristus sit in die tempel van God as God en gee voor dat hy God is (Punt 12). Die rede hiervoor is dat hierdie gees in gelowiges die ou natuur verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is (Punt 13).
Indien hierdie die geestelike toedrag van sake is, is dit ‘n geestelike wetmatigheid dat Punt 14 moet gebeur: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.” God, niemand anders nie, stuur hierdie gees van perversiteit. In hierdie lig gesien, is dit dan klokhelder hoekom dit God en nie Satan is wat die gees stuur nie – dit is deel van die oordeel op die sisteem, wat in VYANDSKAP teenoor God staan, al aanbid die mense daarbinne God met wat hulle meen opregtheid van hart is.
Jer. 17:9 verduidelik hoe hierdie misleiding kan plaasvind: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” Die mens se hart is meer as enigiets anders “exceedingly corrupt” (ACV), “more deceitful than anything else and mortally sick” (CJB), “deceitful above all things, and desperately wicked” (KJV), “hopelessly dark” (Msg), “unsearchable” (MSTC), “more devious than any other thing” (NJB), “dangerously wayward” (Rotherham). Daarom dan dat twee van die klassieke vertaling hierdie verraderlike hart van die (selfs godsdienstige) mens duidelik in verband bring met die gees van perversiteit – “Crooked is the heart above all things” (YLT), “exceedingly perverse” (AB).
Toe die Babiloniese kerksisteem-gelowiges van sy tyd vir Jesus vra hoekom hy nie godsdienstig-ritualisties sy hande was nie, het hy hierdie woorde gesê: “Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” (Mark. 7:20-23). As ‘n mens die frase: “die hart van die mense” in Grieks nagaan, is “hart” enkelvoudig, maar “mense” meervoudig – dus: Ons het een hart, maar is baie mense! Noem dit ‘n korporatiewe, bose, wêreldse hart. Hierdie hart is die gemeenskaplike besit van alle mense, ‘n onderbewustelike denksisteem wat deur alle mense gedeel word. Dit is die mind of Adam, in analogie teenoor the mind of Christ (1 Kor. 2:16), wat ook korporatief is! Die Amplified stel dit besonders raak: “But we have the mind of Christ (the Messiah) and do hold the thoughts (feelings and purposes) of His heart.”
Die apostatiese kerksisteem versluier die gelowiges daarbinne om nié te kan verstaan dat die sisteem verhoed dat “die mens van sonde, die seun van die verderf, die teëstander” IN HULLE geopenbaar kan word nie. Daarom, met die wederkoms, kan Jesus werklik vir hulle sê: “Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!” (Luk. 13:27). Hierdie gees van die antichristus wat in ons harte in die kerk skuil, is die krag van Satan, die wortel van die vleeslike (“carnal”) manier van dink, georganiseerd in ‘n koninkryk van duisternis, error, bygeloof, wat homself voordoen as die Koninkryk van Christus (Efes. 5:5). Jy sal hom Sondae vind op die kansel; Hy is teologies onderlê, hooggeag, hoogs besoldigd. Jy sal hom getrou in die kerkbanke vind waar hy sy tiendes gee en aan al die programme meedoen. Hy is in die korporatiewe hart van die mense wat deur die demoniese sisteem aan hom gebind word. Hy sal in sy eie tempel sit totdat hy geopenbaar word, maar dít sal eers met die wederkoms (Punte 15, 16 en 17) gebeur.
Die oproep tot jou is om die gees van perversiteit te begin onderskei, en soos Open. 18:4 dit dringend stel: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”
- Sela: Hierdie lering het geweldige implikasies vir jou. Bedink dit biddend en handelend.
- Lees: Num. 21-27
- Memoriseer: Num. 21:9
- Delf dieper: Lees N.T. Wright se boek: Simply Christian.