“die gees van Christus wat in hulle was” (2 Pet. 2:13, OAV)
Enigiets wat in die plek van Christus geplaas word, dra die gees van die antichris(tus). Enigiets wat goed en mooi en godsdienstig is, wat die lewe wat die gees van Christus bring, verplaas, is die gees van die antichris (1 Joh. 4:3).
Ons moet net eers stilstaan by wat die ontsettende implikasie hiervan is. Die begrip “die gees van Christus” kom net twee keer in die Skrif voor. ‘n Mens sou aanneem dat die gees van Christus dalk die Heilige Gees is, maar nee, dit is nie. Rom. 8:8-9 spel dit onteenseglik uit – “En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon.” As gevolg van die teenstellende voegwoord “maar” wat die volgende sin inlei, word daar ‘n pertinente onderskeid tussen “die Gees van God” en “die gees van Christus” gemaak. Die sin lui: “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” [Die hoofletters in die OAV kom nie in die oorspronklike taal voor nie.] Die KJV noem dit: ”he is none of his”, wat in Afrikaans beter vertaal kan word as “het nie aan Hom deel nie”. Daarom is dit te verstane dat dit nét die Bruid, die gelowiges van die derde dimensie, is wat aan Hom deel het, want hulle “ken” Hom, soos dit ook aan die maagde met die olie (= salwing van Christus) gesê is (Mat. 25:12).
Die ander Skrif waar die frase “die gees van Christus” voorkom, is ontsettend veelseggend. 1 Pet 1:10-11 lui soos volg: “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.” [Weer: die “Gees” kan nie hier met ‘n hoofletter weergegee word nie, want dit is nie die Heilige Gees nie.]
Lank voor Jesus gebore is, en lank voor die konsep van die korporatiewe Christus in ons realiteit ‘n realiteit geword het, was daar profete wat AS GEVOLG VAN DIE GEES VAN CHRISTUS (of in terme van hul tydsomstandighede gesê: die gees van die Messias) IN HULLE oor die fisiese manifestasie daarvan in ons (die nuwetestamentgelowiges wat deel sou word van die Bruid) geprofeteer het! Sela asseblief!
Onthou: hierdie profete van die Ou Testament het nie die Heilige Gees IN hulle gehad nie, hoogstens op hulle, want hulle kon nog nie wedergebore word nie (Joh. 3:3). [Nog ‘n duidelike bewys dan hoekom “die gees van God” of “die Heilige Gees” nie gelykgestel kan word aan “die gees van Christus” nie.] Dis die rede hoekom Jesus oor ons nuweverbondsgelowiges gesê het: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy” – Johannes die Doper het nie die Heilige Gees gehad nie.
Kortom – daar is ou-testamentiese gelowiges wat nie die gees van God gehad het nie, maar tog die gees van Christus! Dit is hoekom hulle deel van die wolk van getuies kon wees (Heb. 12:1).
- Sela: Verduidelik hierdie baie belangrike openbaring aan iemand sodat hulle duidelik die
onderskeid kan verstaan.
- Lees: Num. 35-36
- Memoriseer: Num. 35:33
- Delf dieper: Luister na Izak van der Merwe se cd-lering: Die ewige verbond.