Dag 855-856

 

“Wat krom is, kan nie reguit word nie …”

(Pred. 1:15, OAV)

As die vorige lering nie jou asem by wyse van spreke weggeslaan het nie, het jy nie die omvang daarvan ten volle begryp nie! Ons is besig met ‘n lang aanloop om te verduidelik hoe die gees van die antichristus deur die gees van perversie gestalte gee aan ‘n hele godsdienssisteem, en “die evangelie van Christus”  (Rom. 1:16) teenstaan.

Die natuurlike mens (al is hy godsdienstig, selfs wedergebore, maar nie met ‘n geestelike manier van dink nie – sien 1 Kor. 2:14-15) soek altyd iets fisies, iets sigbaars. ‘n Owerspelige geslag soek altyd ‘n teken (Mat. 12:39; 16:4). Met die loop van eeue het hierdie tendens gestalte gekry in ‘n groot verskeidenheid tradisies, rites, belydenisskrifte, ordinansies, verordeninge, metodes, institusies, aksies, programme, gebruike, en so meer, wat elkeen getuig hoe ons gedagtes “corrupted” is “from the simplicity in the Christ” (2 Kor. 11:3, ACV) en derhalwe van “die gees van Christus”. Dit het al so duidelik geloofspraktyk geword dat dit ondenkbaar is om ‘n kerk daarsonder te bedryf. In generasie na generasie is dit die ‘geestelike’ denkklimaat waaraan mense gewoond gemaak word; hulle ken nie ‘n ander manier nie. Hulle verstaan nie die Christus is hoof van die kerk nie (Efes. 5:23)!

Daar is ‘n baie belangrike aspek wat deel is van 1 Pet 1:10-11 wat ons nog moet ontgin: “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.”

2 Pet. 1:2 sê: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!” Nou is die noodwendige vraag wat hieruit voortspruit: ‘n mens kan nog verstaan dat vrede kan vermeerder, maar hoe kan genade vermeerder? God se genade is tog allesomvattend, “anders is die genade geen genade meer nie” (Rom. 11:16). Ons weet wel duidelik dat ten spyte daarvan dat dit ‘n “veelvuldige genade” (1 Pet. 4:10) is, ons wel tog in “die genade van God (kan) veragter” (Heb. 12:15). In Judas 1:4 word gewaarsku daarteen om nie “die genade van onse God (te) verander in ongebondenheid” nie. Indien dit gebeur, kan ons genade totaal verloor, soos byvoorbeeld Esau – “Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.”

Maar 1 Pet. 1:10-11 stel dat dit genade is wat “bestem” is, “the grace meant for you” (Lexham English Bible), “the grace that should come unto you” (Modern Spelling Tyndale/ Coverdale Bible), “the grace which was to be given to you” (Murdock), as ‘n genade wat met voorbeskikking of uitverkiesing te doen het, en dit is net in die derde dimensie van toepassing. Daar is dus ‘n bepaalde soort genade vir die eerste dimensie, ‘n ander tipe genade vir die tweede dimensie; en ‘n totaal ander tipe genade vir die derde dimensie. In hierdie lig is dit dan duidelik hoekom 1 Pet. 1:13 verduidelik dat daar ‘n genade is “wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus”. In die drie dimensies sal die verskillende soorte genade dus soos volg daar uitsien:

  • Eerste dimensie: Genade vir die verkryging van redding – Efes. 2:8-9: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
  • Tweede dimensie: Genade vir die hoor van die stem van God en om dit met geloof te verenig (Heb. 11:6), en die uitoefening van die genadegawes van God, Christus en die Gees. Hier is ‘n ander genade by betrokke, wat niks met redding te make het nie.
  • Derde dimensie: Genade om die geheimenisse van die derde dimensie te verstaan nadat die sluiers van die eerste twee dimensies verwyder is (2 Kor. 4:3-4), die sluiers/bedekkings “wat in Christus vernietig word” (2 Kor. 2:14). Daarom stel Paulus dit duidelik in Gal. 1:6-7: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.”

 

Die openbaring van die Christus word net deur God gegee (Mat. 16:17), en ons word dienooreenkomstig “geroep … tot sy ewige heerlikheid in Christus”. Alhoewel ons weet dié uitverkiesing is vanweë die “voorkennis van God” (1 Pet. 1:2), is my en jou profetiese ondersoeking, navorsing en naspeuring (1 Pet. 1:10-11) daarvan die voorvereiste vir die openbaring! Die koninkryk van God noet met geweld bestorm en gegryp word (Mat. 11:12). “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (Mat. 7:7-8).

Onthou: ons is nog besig om die gees van perversie, letterlik die gees wat alles krom maak, te ondersoek. Daarom is dit so insiggewend as jy in Deut. 32:5 lees: “Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag.” Onthou ook dat ons in die Nuwe Testament twee verwysings gekry het oor hierdie groepering wat deel is van die Babiloniese kerksisteem, en dat hulle “skandvlekke” genoem is. Hier is dit dus reeds van die Ou Testament af ‘n wetmatigheid dat gelowiges deur die gees van perversie “krom” of “verdraai” gemaak word.

‘n Mens verstaan dan dié woorde van die Prediker (1:15): “Wat krom is, kan nie reguit word nie …” en jy kan eweneens beter verstaan waarom Jesus vir sy kerkvolk van die dag gesê het: “o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra?” (Mat. 17:17). En Paulus se skerp vermanende woorde aan Élimas (wie se naam ironies genoeg “wysheid” beteken) in Hand. 13:10 – “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” Omdat alle dinge rondom die evangelie van heerlikheid nie net eenvoudig en voor-die-hand-liggend is nie, veroorsaak die gees van perversiteit dat 2 Pet. 3:16 gebeur: “Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.”

Die kruks hiervan is dat hierdie gees “die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal. 1:17). Daar word ‘n oproep tot die Bruid as oorblyfsel gemaak: “dat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Fil. 2:15). Die mandaat van die Bruid is om hierdie gees te ontmasker, en beslag te gee aan Jesus se opdrag in Luk. 3:5 – “Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal ‘n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë.” Van die volgende Manna af sal ons hierdie oorgelewerde verdraaidhede in detail behandel.

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees om jou na Reguitstraat (Hand. 9:11) toe te neem.
  • Lees: 1-4
  • Memoriseer: 1:31
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Tien Fasette van die Bruidegom wat jy moet leer ken