“En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” (Jes 12:3, OAV)
‘n Laaste bedink rondom die toonbrode wat hier spesifiek dui op die belangrikheid van vreugde as jy die Here dien, en spesifiek vreugde ten spyte van omstandighede. Ons weet nou al deeglik dat hierdie vreugde soos water uit jou binneste borrel, en dat God dit deur die Heilige Gees gee aan elkeen wat Hom welgevallig is, “the one who pleases Him” (Ecc 2:26). As daar in Jes 64:5 staan: “U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen”, is dit ‘n geweldige belangrike sleutel. Vreugde en blydskap is die waarmerk dat jy waarlik in die Teenwoordigheid van God was. Sien hoe selfs in die Ou Testament daar klem gelê word op “geregtigheid, vrede en vreugde in die Heilige Gees”, die enigste drie toetsstene om te bepaal of jy in die Koninkryk van God funksioneer.
Dus, as jy los van slegte omstandighede nietemin ‘n standhoudende vreugde het, het jy van die toonbrood van sy Teenwoordigheid geëet. Jy het brood gevind om te eet waarvan ander mense nie weet nie (Joh 4:34)! Jer 15:16 het van jou waar geword: “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare!” In hierdie “wilfull submission” word die Naam van God oor jou uitgeroep, en word die vreugde van die Here jou krag (Neh 8:10): “the joy of the Lord is our strength.” (vers 11 in die Engels). In Afrikaans word dit pragtig gestel: die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting”! Dit word dus ook jou covering.
Daarom sê Jes 51:3 dit mooi: “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.” Jes 35:10: “en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.”
- Sela: Bely jou kragteloosheid en bid God om jou te bekragtig met vreugde!
- Lees: Eks 36; Ps 86; Mark 12
- Memoriseer: Mark 12:24
- Vir dieper delf: Die Skrif wat jy moet memoriseer, sê duidelik dat ons “dwaal” o.a. omdat ons die krag van God nie ken nie. Hierdie lering bied ‘n totaal nuwe perspektief op hoe ons die werking van hierdie krag wyer moet verstaan. Bestudeer dit in die lig van Job 15:23.