Dag 863-865

 

Aquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here. … en aan die gemeente wat in jou huis is…”  (1 Kor. 16:19, OAV)

 

Vervolgend van verlede week gaan ons met hierdie Manna die laaste 8 stellings oor die huisgemeente as teenpool tot Oorlewering 1: die gebou as tempel in die nuwe verbond, voorhou.

 

  1. God sal nie die gemeente uitlewer aan burokratiese geestelikes nie. Daar is geen bekende beeld van die Nuwe-Testamentiese gemeente waar een professionele “heilige man” aan die hoof gestaan het en alleen met God gekommunikeer het en daarna sy klompie relatief passiewe “godsdienstige verbruikers” op die Moses-manier van geestelike kos voorsien het nie.  Hierdie gebruik, in soverre as wat dit in die gemeente beoefen word, is iets wat van heidense godsdienste oorgeneem is, of miskien van die Ou Testament. Die oordonderende professionalisering van die gemeente sedert die tyd van Konstantyn waardeur die gemeentelede kunsmatig in twee groepe verdeel is, naamlik geestelikes en leke, het nou lank genoeg botgevier. Volgens die Nuwe Testament (1 Tim. 2:5) is daar “een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus”.  God wil nie hê dat geestelike professioneles alewig tussen God en die mense moet kom staan nie, en gevolglik kan Hy ook nie sulke pogings seën nie. Nee, die gordyn in die tempel is geskeur en God wil hê dat mense direk na Hom moet kan kom deur Jesus Christus, die enigste Weg. Ons moet onthou dat in die Ou Testament daar altyd ‘n tussenganger tussen God en die volk was. Hierdie tussenganger was veronderstel om by God te hoor en dan God se boodskap aan die volk oor te dra. Moses en al die profete is goeie voorbeelde van sulke tussengangers en daarom is hulle ook spesiaal met die Heilieg Gees gesalf. Maar in die Nuwe Testament met Pinkster stort God sy Heilige Gees op alle gelowiges uit en verval die noodsaaklikheid van ‘n tussenganger wat by God moet hoor. Om die priesterskap van elke individuele gelowige moontlik te maak, sal die huidige stelsel totaal moet verander. Van alle administratiewe stelsels is burokrasie die mees twyfelagtige, want basies soek dit slegs twee antwoorde: Ja of nee. Dit laat geen plek vir spontaneïteit, menslikheid of ware lewe nie.  Terwyl dit vir die politiek  en die handelswêreld aanvaarbaar mag wees, is dit beslis nie die geval met die gemeente nie. Dit lyk asof God besig is om sy gemeente te verlos uit die Babiloniese slawerny van die geestelike burokrate en die beherende geeste en dit terug te bring na die openbare besit, naamlik die hande van gewone mense wat deur God self buitengewoon gemaak word.

 

  1. Beweeg van georganiseerde na organiese vorms van Christendom. Die “Liggaam van Christus” is ‘n baie mooi beskrywing van ‘n organiese wese – beslis nie ‘n georganiseerde wese nie. Die gemeente op plaaslike vlak bestaan uit ‘n groot versameling geestlike gesinne wat organies aan mekaar verbind is in ‘n netwerk en waar die wyse waarop die verskillende individuele stukke saam funksioneer, ‘n integrale deel van die boodskap van die geheel uitmaak. Wat tans ‘n maksimum organisasie geword het met ‘n minimum organisme, moet verander in ‘n minimum van organisasie om plek te maak vir ‘n maksimum organisme. Te veel organisasie het       dikwels die organisme verstik uit vrees dat iets verkeerd mag gaan. Die Liggaam van Christus is deur God toevertrou in die hande van mense wat ‘n diensknegmentaliteit het en wat ‘n bonatuurlike charismatiese gawe ontvang het om God te glo dat Hy steeds in beheer is, selfs al is hulle self lankal nie meer nie.  Wat nodig is vir die herverskyning van organiese vorms van die Christendom is ‘n versameling vertroue-verwante streeks- en landsnetwerke en nie ‘n nuwe indeling van politieke samewerking van al die Christelike gemeentes nie.

 

  1. Staak die verering van ons aanbidding en begin om God te vereer. Die beeld van ‘n groot deel van die hedendaagse Christendom kan ietwat eufemisties as volg opgesom word: heilige mense wat gereeld op ‘n heilige plek byeenkom op ‘n heilige dag en op ‘n heilige tyd om deel te neem aan ‘n heilige ritueel wat gelei word deur ‘n heilige man geklee in heilige klere teen betaling van ‘n heilige bedrag geld. Aangesien hierdie gereelde prestasie-georiënteerde onderneming wat as ‘n “erediens” of “aanbiddingsdiens” bekend staan, nogal heelwat organisasietalent en administratiewe burokrasie nodig het om aan die lewe te bly, het gewettigde en geïnstitusionaliseerde patrone baie vinnig tot vaste tradisies ontwikkel. In sommige denominasies is ‘n vaste liturgiese orde uitgewerk en is die persoon wat die diens lei nie die vryheid toegelaat om enigsins daarvan af te wyk nie. In sommige gevalle is selfs die gebede wat in die diens gebid moet word op skrif gestel. Hierdie dinge is wel tot hulp vir die liturg, maar dit lei tot ‘n baie stereotipe diens.  ‘n Tradisionele aanbiddingsdiens van een tot twee uur lank vereis baie hulpmiddels, maar is tog baie arm gesien in terme van die vrug wat dit oplewer, naamlik die dissiplinering van mense wat aanleiding gee tot veranderde lewens. Ekonomies gesien, mag dit beskou word as ‘n struktuur waarin veel ingesit word net om min uit te kry. Tradisioneel gesproke, het die begeerte om “op die regte manier te aanbid” gelei tot denominasionalisme, konfessionalisme en nominalisme. Dit hou nie rekening met die feit dat gelowiges geroepe is om in gees en in waarheid te aanbid en nie in geboue met gesangeboeke in hulle hande nie. Dit hou eweneens ook nie rekening met die feit dat die lewe grotendeels informeel is nie en dat dit dus ook moet geld vir die Christendom as die “weg tot die lewe” nie. Is dit dalk vir ons nodig om op te hou om “kragtige akteurs” te wees en te begin om “kragtig op te tree”?

 

  1. Moenie mense na die gemeente bring nie, bring liewer die gemeente na die mense. Die gemeente is besig om te verander van ‘n “kom-struktuur” na ‘n “gaan-struktuur”. Een gevolg hiervan is sekerlik dat ons moet ophou om te probeer om mense “in die gemeente” in te bring en liewers te begin om die gemeente na die mense te neem. Die doel en missie van die gemeente sal nooit bereik kan word as ons slegs toevoeg tot die bestaande struktuur nie.  Dit sal slegs bereik kan word as die gemeente soos ‘n paddastoel kan opskiet deur ‘n proses van spontane duplisering daarvan in gebiede van die wêreld waar die persoon van Jesus Christus totaal onbekend is.

 

  1. Herontdek dat die “Heilige Nagmaal” eintlik ‘n regte maaltyd met regte kos is. Tradisie het dit reggekry dat die gemeente die “nagmaal vier” op ‘n diep godsdienstige wyse asook homeopaties – dws met geneesmiddels vir ‘n siekte wat by enige gesonde mens juis daardie siekte sal teweegbring – en boonop geskied hierdie “viering” met ‘n paar druppeltjies wyn, ‘n smaaklose stukkie brood en ‘n lang, treurige gesig! Maar die oorspronklike “Nagmaal” was veel meer van ‘n ete met substansie en ‘n simboliese betekenis as ‘n simboliese ete met ‘n sunstantiewe betekenis! God is genadiglik besig om maaltye terug te plaas in ons gemeentelike byeenkomste.

 

  1. Van Denominasies na Feesdienste vir die hele dorp of stad. Jesus het ‘n wêreldwye beweging in gedagte gehad, maar wat in werklikheid gebeur het, is dat ‘n hele reeks godsdienstige maatskappye ontstaan het, elk met wêreldwye kontakte waardeur elkeen sy eie unieke vorm van Christendom bemark het en daarin teen mekaar gewedywer het. Hierdie versnippering van die Christendom het daartoe gelei dat Protestantisme grootliks polities onbeduidend geword het en dikwels meer begaan was met tradisionele besonderhede en godsdienstige binnegevegte as om ‘n gesamentlike getuienis teenoor die wêreld te ontwikkel. Jesus het nooit die mense gevra om hulle in verskillende denominasies te organiseer nie. Die vroeë Christelike gemeentes is daardeur gekenmerk dat die gelowiges ‘n tweeledige identiteit gehad het. Hulle was in der waarheid God se gemeente en vertikaal tot God bekeer en het hulle ook geografies georganiseer, met ander woorde hulle het hulle ook horisontaal tot elk ander op aarde bekeer. Dit het beteken dat jou gelowige bure hulle nie slegs georganiseer het in buurt- of huisgemeentes nie, waar hulle hul lewens plaaslik met mekaar gedeel het nie, maar ook dat gelowiges byeengekom het as ‘n kollektiewe identiteit, so dikwels as wat dit moontlik was, vir stads- of streeksfeesdienste waardeur die korporatiwiteit van die gemeente van daardie stad of streek uitdrukking gevind het. Geloofwaardigheid in daardie buurte wat verbind is met ‘n streeks- of stadskorporatiewe identiteit sal nie slegs daartoe bydra dat die gemeente weer politiek beduidend en geestelik oortuigend word nie, maar sal ook lei tot ‘n terugkeer tot die Bybelse model van die gemeente van die stad as geheel.

 

  1. Ontwikkel ‘n vervolgingsbestande gees. Jesus, die Hoof van al die Christene, het aan ‘n kruis gesterf. Maar sy hedendaagse volgelinge is baie meer behep met titels, medaljes en sosiale respektabelheid en soms – die ergste van alles – bly hulle doodstil en is hulle nie die moeite werd om eers gesien te word nie. Maar Jesus het gesê: “Welgeluksalig is julle as julle vervolg word.” Bybelse Christendom is ‘n groot bedreiging vir heidense goddeloosheid en sondigheid, vir ‘n wêreld wat deur hebsug ingesluk is, vir materialisme, jaloesie en vir die demoniese standaarde vir etiek, seks, geld en mag. Vandag se Christendom in talle lande is te skadeloos en te “beleefd” om enigsins vervolging uit te lok. Maar as die Christengelowiges maar net weer die Nuwe- Testamentiese standaarde vir die lewe sal begin uitleef deur byvoorbeeld sonde sonde te noem, dan sal die natuurlike reaksie van die wêreld óf bekering óf vervolging wees. In plaas daarvan dat gelowiges rustig in hul gemaksone van godsdienstige vryheid verkeer, sal hulle hul daarop moet voorberei om gebrandmerk te word as die vernaamste teenstanders van wêreldwye humanisme, die moderne slawerny van om te moet plesier hê en die onverbloemde aanbidding van die Self – die verkeerde sentrum van die heelal! Dit is waarom gelowiges die “onderdrukkende verdraagsaamheid” sal en moet aanvoel van ‘n wêreld wat totaal gestroop is van alle absolute waardes en gevolglik weier om sy Skeppergod met sy absolute standaarde te erken of na te volg. Ideologisering, privatisering en vergeesteliking van die politiek en die ekonomie wat besig is om al vinniger opgang te maak, gaan vir die gelowiges ‘n groot verrassing bring: baie gouer as wat die meeste van hulle dink, gaan hulle die geleentheid kry om in die beskuldigdebank saam met Jesus te staan. Hulle moet nou reeds vir die toekoms voorberei deur ‘n vervolgingsbestande gees te ontwikkel, en ‘n selfs meer vervolgingsbestande struktuur.

 

  1. Die gemeente kom huistoe! Waar is dit die maklikste vir ‘n mens om geestelik te wees? Miskien is dit waar jy wegkruip agter ‘n groot preekstoel, geklee in jou heilige gewaad, terwyl jy heilige woorde preek tot ‘n gesiglose klomp mense om onmiddellik daarna na jou kantoor toe te verdwyn. En waar sal dit dan die moeilkste en daarom ook mees sinvol wees vir iemand om geestelik te wees? By sy huis, in die teenwoordigheid van sy vrou en kinders waar alles wat hy doen en sê outomaties aan ‘n toets onderwerp word, ‘n toets vir realiteit en waar alle skynheiligheid gou en effektief uitgeroei sal word en geloofwaardigheid sterker na vore kan kom. Talle aspekte van die Christendom het die huis verlaat, miskien juis omdat die huis en die gesin die plek was waar die geestelike neerlaag gely is. En toe het dit kunsmatige optredes georganiseer in heilige geboue, ver verwyder van die ware lewe. Maar God is besig om die belangrikheid van die huis te herstel en daarom kom die gemeente terug na sy wortels, na die plek van waar hy oorspronklik gekom het. Die gemeente kom letterlik terug huistoe, dit kom tuis en so voltooi dit die sirkel van kerkgeskiedenis hier aan die einde van die wêreldgeskiedenis.

Soos gelowiges uit alle nasies, denominasies en agtergronde die duidelike weerklank in hulle gees hoor van wat God se Gees besig is om vir die gemeente te sê en begin om globaal te hoor sodat hulle plaaslik kan optree, so sal hulle weer begin om soos een liggaam te funksioneer.  Hulle sluit aan by huisgemeentes in hulle woonbuurt en neem deel aan streeks- of stadsfeesdienste. Jy word hartlik uitgenooi om deel van hierdie nuwe beweging te word en jou eie bydrae te lewer. Wie weet, dalk is jou huis bestem om ‘n huis te word wat die wêreld gaan verander!

  • Sela: Wat van losstaande gemeentes wat nie deel is van ‘n apostoliese huis nie?
  • Lees: 17-23
  • Memoriseer: 23:5b
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die huisgemeente