“Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek …” (Joh. 2:21, OAV)
Ons is tans besig om die manifestasie van die gees van perversie in die eietydse kerk te ondersoek. Daar is in vorige Mannas deeglik uitgewys hoe bepaalde praktyke duidelik gebou is op die oorleweringe van mense en dat ons in die uitvoering daarvan die gebod van God kragteloos maak (Mat. 15:6). Ons het verlede week die teenpool van Oorlewering 1: die gebou as tempel in die nuwe verbond, afgehandel. Ter afsluiting van hierdie eerste oorlewering, net ‘n paar laaste opmerkings aan die hand van verskeie betroubare historiese navorsingbronne om die saak verder te staaf en mee af te sluit.
- Dit is in die mens se natuur om sy geloofservaring met klip en klei, met troffel en waterpas, te probeer verewig. Van die tyd van die toring van Babel af het mense mekaar geïnspireer om “‘n toring” te bou “ waarvan die spits tot in die hemel reik en hul sodoende vir hulself ‘n naam maak (Gen. 11:4). Let op – die bou van hierdie konstruk gaan nie oor God se heerlikheid nie, maar is tot eer van die mense wat dit bou. In Jos. 22:19 word dit eksplisiet uitgespel: “moenie teen ons opstandig wees deur vir julle ‘n altaar te bou naas die altaar van die HERE onse God nie”. Selfs toe Petrus op die berg van verheerliking sien dat Moses en Elia in die wolk van getuienis manifesteer, wou hy opsluit hierdie geloofservaring verewig: “Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía.” (Mat. 17:4). God reageer dadelik op hierdie vleeslike plan en wys Petrus tereg: “Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Die teenwoordigheid lê nie in die gebou nie, dit setel in Hom!
- Die volgende aanhaling van Philip Schaff, in sy boek History of the Christian Church, vat die waarheid rondom hierdie oorlewering netjies vas: “That the Christians in the apostolic age erected special houses of worship is out of the question … As the Saviour of the world was born in a stable, and ascended to heaven from a mountain, so his apostles and their successors down to the third century, preached in the streets, the markets, on mountains, in ships, sepulchres, eaves, and deserts, and in the homes of their converts. But how many thousands of costly churches and chapels have since been built and are constantly being built in all parts of the world to the honor of the crucified Redeemer, who in the days of his humiliation had no place of his own to rest his head!” ‘n Mens kan hierdie geneigdheid veral sien in Israel – bo-oor enige plek waar daar iets van groot geestelike waarde plaasgevind het, is daar ‘n kerk of katedraal of iets dergeliks gebou!
- Die Ou Verbond se liturgie (die orde van geestelike funksionering deur ‘n geloofsgemeenskap) was gegrond op en afhanklik van drie primêre elemente: ‘n gebou (die tempel/tabernakel/sinagoge), die priesterskap (wat die verhouding tussen God en mens moes bemiddel) en die voortdurende offers (om daardeur vryspraak en verhouding met God te verseker). Met die koms van Jesus is al drie hierdie primêre aspekte van geloofsfunksionering deur Hom tot niet gemaak. Ons sal later by die laaste twee aspekte uitkom, maar vir eers is dit van groot belang om te weet Jesus het in sy tyd die vernietiging van die tweede tempel in die vooruitsig gestel. Die sogenaamde profetiese rede neem ‘n aanvang deur die gesprek oor die vernietiging van die tempel: “En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.” (Mat. 24:1-2). Binne hierdie raamwerk voltrek al dié dinge wat mense dink nog moet gebeur voor die wêreld eindig: oorloë en gerugte van oorloë, nasies wat teen mekaar opstaan, hongersnode, pessiektes, aardbewings, verdrukking, vervolging, die gruwel van die verwoesting in die heiligdom, die sogenaamde verskyning van die Antichris en die koms van die sogenaamde wegraping, alles, alles, word in reliëf gestel as ons net die moeite wil doen om te lees tot by vers 34: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” ‘n Geslag in Bybelse terme is 40 jaar, en hierdie woorde is volgens ons kalender gespreek in die jare 30 n.C., wat beteken dat veertig jaar daarna was dit 70 n.C., toe die tempel deur die Romeine vernietig is! Die aanbreek van die nuwe bedeling in Jesus Christus moes geskied deur weg te doen met die eksterne tempel van godsdiens en dit moes vervang word met die tempel van sy Liggaam. Onthou Joh. 2:19-21: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.”
- Hierdie “huis van God, wat die gemeente is van die lewende God” (1 Tim. 3:15) is die nuwe tempel wat nou opgerig word in die nuwe bedeling, letterlik ‘n lewende huis met lewende stene (1 Pet. 2:5), “die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie … nie …‘n heiligdom met hande gemaak … nie” (Heb. 9:11 & 24).
- Dít presies was die boodskap van die eerste Christelike martelaar, Stefanus, en was vir die Jode die laaste strooi: “toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners” (Hand. 7:54). Stefanus se boodskap was onomwonde: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus?” (Hand. 7:48-49). Interessant dat Jesus én Stephanus albei dieselfde klag opgelê is, naamlik dat hulle teen die tempel gespreek het (Mark. 14:58 en Hand. 6:13-14). Gegewe Stefanus se dood as ‘n ontsagwekkende belangrike motoriese moment in die geskiedenis van Daniël se tydlyn (soos vroeër in die Manna uitvoerig bespreek), is dit ‘n veelseggende korrelasie, en derhalwe ‘n uiters belangrike saak.
- Dwarsdeur die Nuwe Testament word dieselfde boodskap deurgegee: “Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” (2 Kor. 6:16); “in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Efes. 2:21-22); “maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.” (Heb. 3:6). Soos Arthur Willis in The Radical Christian dit uitgespel het: “In the Old Testament, God had a sanctuary for His people; in the New, God has His people as a sanctuary.” Sien die volgende Skrifte wat dit vooropstel: 1 Kor. 3:16; Gal. 6:10; 1 Tim. 3:15; en 1 Pet. 2:5; 4:17. Robert Banks skryf uitvoerig in sy gepubliseerde navorsing: Paul’s Idea of Community oor hoe hierdie boodskap deurgaans ook neerslag gevind het in Paulus se denke oor die ekklesia.
- Adolf van Harnack, ‘n kerkhistorikus, maak die volgende insiggewende stelling oor die gelowiges van die eerste twee kerk-eeue in sy boek The Mission and Expansion of Christianity in the First Three Centuries (vol. 2): “One thing is clear – the idea of a special place for worship had not yet arisen. The Christian idea of God and of Divine service not only failed to promote this, but excluded it, while the practical circumstances of the situation retarded its development.” Steeds in die derde eeu na Christus sê die Christelike apologeet Minucius Felix: “Ons het geen tempels en geen altare nie.” (Vertaal uit The Octavius of Minucius Felix.) John A.T. Robinson stel dit in sy The New Reformation wyer: “In the first three centuries the church had no buildings.”
- Om dus in huise byeen te kom, was ‘n bewustelike besluit van die vroeë ‘n Mooi voorbeeld van so ‘n huis is dié van Dura-Europos in Sirië, wat die vroegste identifiseerbare ontmoetingsplek van Christene is wat argeologies bewaar gebly het. In dié gemodifiseerde voorhuis kon tot soveel as 70 mense met een slag byeenkom. (Everett Ferguson: Early Christians speak: Faith and Life in the First Three Centuries.)
- Daarbenewens wys John O. Gooch se navorsing dat die vroeë kerk deurgaans daarop ingestel was om die Grieks-Romeinse afgodstempels af te breek. Alle byeenkomste is sover as moontlik op neutrale grond gehou, sodat buitestaanders geen verband kon lê met afgodsvereringstempels nie.
- Desnieteenstaande is baie aspekte van ons kerke en katedrale vandag steeds vol simboliek van afgodediens, alles geërf uit die pagan-tradisies van afgodery. Daar bestaan knap studies daaroor: Ernest H. Short skryf ‘n hoofstuk daaroor in sy History of Religious Architecture. Lees ook oor die onderwerp in Robin Lane Fox se boek: Pagans and Christians.
- Veelseggend – nêrens in die Nuwe Testament vind ons die woordjie “kerk” wat verwys na ‘n gebou nie, NÊRENS nie. Die begrip wat dikwels as “kerk” vertaal word, is die begrip “ekklesia”, wat dui op die verhoudingstruktuur van gelowiges, elkeen van die 114 kere wat dit gebruik word. Dieselfde geld vir die begrippe “tempel” of “gebou van God”.
- Dit was eers met die koms van die Rooms-Katolieke kerk in die vierde tot die sesde eeu dat die religieuse gebruike van Judaïsme en van die heidene (pagans) vermeng en geïnkorporeer is in ‘n geloofsisteem met ‘n Christelike vineer. Die formele definisie van die kerk as ‘n geestelike ruimte, in Rooms-Katolieke ‘wet’, is soos volg: “a church is a sacred building dedicated to Divine worship for the use of all the faithful and the public exercise of religion” (Peter F. Anson: Churches: Their Plan and Furnishing.)
- In 312 n.C. het Konstantijn sy Ceasarstatus verwerf, en van 324 n.C. het hy in beheer van die magtige Romeinse Ryk gekom. Sy dramatiese bekering het gelei tot die opdraggewing om enorme kerke en katedrale te bou. Sy ma het eweneens opdrag gegee dat daar bo-oor baie “heilige plekke” ‘n kerkkonstruksie opgerig is. Hierdie argitektoniese legitimisering van die Christelike geloof is aangegryp deur die gelowiges wat so lank deur die res van die wêreld se afgodsdienste se godsdienstige prag en praal verneder is. M.A. Smith, in sy boek: From Christ to Constantine, wys egter hoe dié politieke leier, sy bekering ten spyt, deelgeneem het aan pagan praktyke, soos dit ook deur sy naam bevestig is: Pontifex Maximus. Dit beteken: “chief of the pagan prophets” (Cross & Livingstone: Oxford Dictionary of the Christian Church), ‘n titel wat tot vandag toe nog vir die Pous gebruik word! Volgens Louis Duchesne, in sy boek Early History of the Christian Church, is Konstantijn se fokus op geboue van Christelike aard gerig gewees deur bygeloof en pagan Om hierdie rede sê Justo L. Gonzalez in sy boek The Story of Christianity dat Konstantijn “still functioned as the high priest of paganism”.
In hierdie lig gesien, is die tradisie van die kerkgebou duidelik onder ernstige verdenking.
- Sela: Is jy deel van die pagan tradisie van die kerkgebou?
- Lees: 32-34; Ps. 91; Jos. 1-8
- Memoriseer: 32:17 (Let op die sinchronisasie!)
- Delf dieper: Lees enige van die bronne hierbo genoem, of Viola & Barna se Pagan Christianity, uit wie se werk ook van die navorsing hierbo gebruik is, met dank.