“Die HERE is my banier.” (Eks. 17:15, OAV)
In die afsluiting van ons ondersoek na die manifestasie van die gees van perversie in die eietydse kerk het ons in die vorige Mannas uitvoerig uitgewys dat die tradisie van die kerkgebou duidelik onder ernstige verdenking is en dat dit geen Nuwe-Testamentiese basis het nie. Hieruit voortvloeiend moet ons dalk net kyk na tipiese aspekte van die kerklike gebou wat voortborduur het op die tema van ‘n sogenaamde ‘heilige’ ruimte.
Bykans alle kerke en katedrale deur die eeue, en ook vandag, is gebou op die patroon van Griekse pagan-tempels en Romeinse basilika/regering- of magistraatsgeboue (Michael L. White: Building God’s House in the Roman World). Konstantijn het die Christelike basilika ontwerp om mense passief te laat sit terwyl hulle vermaak word of na ‘n toespraak luister (Michael Gough: The Early Christians). Volgens Gough is die basilika só ontwerp dat die son deur die dak en/of vensters op die spreker val tydens sy rede. Dit sou ‘n duidelike assosiasie met songodaanbidding meebring, veral deurdat die voorfasade van die basilika altyd oos gekyk het (Josef A. Jungmann: The Early Liturgy).
Sentraal in hierdie basilika was ‘n verhewe gedeelte soos ‘n verhogie of platform vanwaar die spreker of bedienaar van die geordende kerkdienaars gefunksioneer het. Hierdie gedeelte is dikwels deur traliewerk of balustrade afgeskei van die res van die basilika, sodat dit ‘n bepaald gemerkte ruimte vir die clergy (die godsgeleerdes) was waartoe die laity (die gewone mense of gelowiges) nie toegang gehad het nie (Harold W. Turner: From Temple to Meeting House). Hierdie herinner baie aan die kerk se konsistorie vandag.
Sentraal in die gebou was die altaar, die mees ‘hoogheilige’ ruimte, miskien veral omdat een of ander reliek (die beendere of voorwerpe van martelare/apostels/heiliges) daar begrawe of uitgestal is. (Die voorkoms van ‘n reliek in ‘n kerk het sedert die vyfde eeu die kerk gelegitimeer as ‘n ‘heilige’ gebou, volgens Kenneth Scott Latourette: A History of Christianity). Ook op die altaar was die nagmaaltekens: die brood en die beker, wat eweneens as heilig beskou is. Voor die altaar was die stoel van die biskop, wat die kateder genoem is, waarvandaan gepreek is. (Die bekende Latynse begrip ex cathedra kom hiervandaan en beteken “van die troon”.) Hierdie dekoratiewe ‘troon’ was soortgelyk aan die Romeinse regterstoel, eweneens beklee met outoriteit en gesag (Michael L. White: Protestant Worship and Church Architecture). Dit is omring deur twee rye banke/stoele wat vir die ouderlinge en/of diakens gereserveer is (Gregory Dix: The Shape of the Liturgy).
Die onmiskenbare patroon van ons eietydse kerke se liturgiese ruimte is duidelik hierop geskoei. Met verloop van jare is die kanselkleed as ‘n simboliese banier tot die preekstoel bygevoeg, dikwels met die woorde: SO SPREEK DIE HERE! Hierbo is die kanselkleed afgebeeld van die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier te Soutpansdrift (Brits-omgewing). Dit verbeeld die tradisionele simbole van die Vrymesselary, en is miskien een van die beste aanduidings hoedat pagan-konsepte vandag steeds onverbloemd prominensie in die kerk het.
Die Skrif hieroor is duidelik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” (Open. 18:4).
- Sela: Hoe kan ‘n kerkraad die kanselkleed hierbo verdedig?
- Lees: 9-11
- Memoriseer: 10:13
- Delf dieper: Lees enige van die bronne hierbo genoem.